CP HOOGENHOUT (1843-1922)

CP Hoogenhout was ’n vroeë Afrikaanse skrywer en een van die stigters van die Genootskap van Regte Afrikaners.

Casparus Peter Hoogenhout is op 11 Maart 1843 in die Nederlandse hoofstad Amsterdam gebore. Sy ma is oorlede toe hy dertien jaar oud was en hy het glad nie ’n goeie verhouding met sy stiefma gehad nie. Toe prof. UG Lauts hom doelgerig vir emigrante na Suid-Afrika beywer het, het Hoogenhout besluit om sy geboorteland vir Suid-Afrika te verruil.

Hy het in 1860 in Kaapstad aangekom en vir die eerste paar jaar na sy aankoms by die firma O.J. Truter in St. Georgestraat gewerk. Omdat hy nog jonk was en geen ouerlike toesig gehad het nie, was hy maklik beïnvloedbaar en het hy onder die verkeerde invloed van die Nederlandse immigrant FW van der Gendt beland. Op 3 Mei 1864 het Hoogenhout in die Kaapse Hooggeregshof verskyn op aanklagte van vervalsing van wissels in die name van OJ Truter en AW van der Merwe, diefstal van twee Nederlandse immigrante, Johannes de Vries en AW van der Merwe en van “opdrossing”, wat vermoedelik beteken het dat hy onregmatig uit die diens van Truter gedros het. Hy is skuldig bevind en tot vyf jaar dwangarbeid gevonnis. Dit is nie bekend of hy sy volle vonnis uitgedien het nie, maar teen 1870 was hy reeds uit die tronk en in die Paarl. Uit sy latere lewensgeskiedenis was dit duidelik dat hy homself ten volle gerehabiliteer het en inderdaad ’n sukses van sy lewe gemaak het.

Na sy vrylating het ds. GWA van der Lingen hom onder sy beskerming geneem en as deel van sy rehabilitasie is hy as onderwyser opgelei, met Arnoldus Pannevis as sy leermeester. Pannevis het in hierdie tyd aan Van der Lingen se skool in die Paarl onderwys gegee en hulle het bevriend geraak. Hulle het vriende gebly totdat Pannevis in 1884 oorlede is. Onder Pannevis se invloed het Hoogenhout tot bekering gekom en daarna ’n streng godsdienstige lewe gelei.

Sy eerste onderwyspos was op die plaas Zeekoegat van Jan Louw oorkant die Bergrivier, waarna hy op 3 Augustus 1874 by die Groenbergskool op die plaas Welbedacht aangestel is. Hier het hy onderwys gegee tot met sy aftrede. Hier het hy vir Catharina Maria (Cato) le Roux (gebore Marais) ontmoet. Sy was die dogter van Frans Marais van die plaas Olifantskop wat voorsitter van die skoolkomitee van die Groenbergskool was. Sy is op twintigjarige leeftyd met Jacob le Roux getroud, maar hy is in die ouderdom van 26 jaar oorlede toe hul seuntjie Pieter net ’n jaar en nege maande oud was. Hoogenhout is op 29 Maart 1875 getroud en altesaam ses kinders is uit die huwelik gebore. Sy seun Imker het die Afrikaanse woorde geskryf vir etlike Engelse liedere, onder meer “Die brug op ons plaas” en “Kom ons gaan blomme pluk”.

Op 20 Oktober 1881 het Hoogenhout ’n versoek aan die owerhede gerig dat ’n amptelike onderwyssertifikaat aan hom toegeken moes word om sy permanente aanstelling te verseker. Hierdie versoek is toegestaan sonder dat Hoogenhout ’n eksamen afgelê het. Uit die inspekteursverslae van daardie tyd was dit duidelik dat Hoogenhout die skool goed bestuur het. Benewens sy werk as onderwyser het hy gereeld in die nabygeleë sendingkerk vir bruin mense in Bovlei gepreek terwyl hy ook sekretaris van die Christelike Werkersvereniging in Groenvlei was. In 1904 het hy aansoek om siekteverlof gedoen en sy seun Imker het in sy plek waargeneem. Hy was tot 1908 grootliks afwesig nadat sy gesondheid nie verbeter het nie en in 1908 het hy eindelik formeel afgetree en met pensioen gegaan. Nogtans het hy op ’n gevorderde ouderdom die eksamenskrifte van die Taalbond nagesien.

Hy was een van die leiersfigure in die Eerste Taalbeweging en het die stigtingsvergadering van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) by die huis van Gideon Malherbe op 14 Augustus 1875 bygewoon. Toe Di Patriot as mondstuk van die GRA uitgegee is, was hy die eerste letterkundige redakteur wat met sy voorbeeld as Oom Jan wat versies maak, groot invloed op die leserspubliek uitgeoefen het en die mense so ver gekry het om hul hand aan gedigte en ander bydraes te maak. Hy het baie van die hoofartikels in Di Patriot geskryf, maar saam met DF du Toit (Oom Lokomotief) het hy die redaksie in 1891 verlaat aangesien hy nie met die politieke sienswyse van SJ du Toit kon saamstem nie.

Hoewel sy letterkundige oeuvre hoofsaaklik didakties en nasionalisties van aard was en beperkte letterkundige waarde bevat het, kan die groot rol wat hy gespeel het in die ontwikkeling van die skryftaal nie onderskat word nie. Sy anonieme briewe in De Zuid-Afrikaan op 12 April 1873 en weer op 5 Julie 1873 het die vertaling van die Bybel in Afrikaans bepleit omdat hy wou gehad het dat gewone wit en bruin mense die Bybel in hulle taal moes kon lees. Hierdie briewe was die begin van die stryd vir die erkenning van Afrikaans in die openbare pers.

In 1873 het hy Matteus 28 en die volledige Markus-evangelie uit die Statebybel vertaal maar hierdie vertalings is nie gepubliseer nie. Hy het sy vertaling van Matteus 28 na Die Kerkbode gestuur, maar dit is waarskynlik vernietig sonder dat ontvangs daarvan erken is. Gelukkig het Hoogenhout ’n afskrif van die vertaling gemaak, sodat die eerste proewe vir ’n vertaling van die Bybel in Afrikaans behoue gebly het en afgedruk is in PJ Nienaber se inleiding van die herdruk van Josef en Catharina in 1940.

Teen die einde van sy lewe het Hoogenhout op die plaas Optenhorst in die Bovlei naby Wellington, waar sy stiefseun Pieter le Roux geboer het, gewoon. Hy is op 13 Januarie 1922 in die ouderdom van 78 jaar oorlede en in die kerkhof van die Bovlei-kerk waar hy gereeld gepreek het, ter ruste gelê.

Daantjie Badenhorst