12 FEBRUARIE

GEBEURE

1850 – Die eerste kunstentoonstelling in Suid-Afrika open in Kaapstad

1869 – Die Tweede Verdrag van Aliwal-Noord

Na die Tweede Basoeto-oorlog (1865 tot 1866) het die Kaapse goewerneur, sir Philip Wodehouse, as bemiddelaar tussen die Vrystaat en die Basoeto’s opgetree, terwyl die grondgebied wat die Vrystaat in die oorlog verower het, aan hom toegestaan is. Plundering en diefstal deur die Basoeto’s het ’n hernieude oorlog in 1867 ontketen en, strydig met die Bloemfontein-konvensie (1854), het Wodehouse in Maart 1868 Basoetoland geannekseer. Boonop het hy die Vrystaters se ammunisietoevoer afgesny op ’n tydstip toe hulle die Basoeto’s militêr feitlik onderwerp het. Hoewel billik ontstoke, het die Vrystaters op 12 Februarie 1869 ’n verdrag by Aliwal-Noord aangegaan wat die nuwe grens tussen die Vrystaat en Basoetoland vasgestel het. ’n Deel van die sogenaamde Verowerde Gebied moes deur die Vrystaat afgestaan word, hoewel die Basoeto’s eweneens ’n uitgestrekte gebied moes prysgee. Brittanje het weliswaar verhinder dat die Vrystaat via Basoetoland moontlik ’n Natalse hawe bekom, maar die lastige grensprobleem moes hy voortaan self behartig.

1880 – Die Porter Rose-diamant van 150 karaat word in Kimberley, Noord-Kaap, ontdek

1880 – Ermelo, Mpumalanga word tot landdrosdistrik verklaar

Voortrekkergesinne het hulle in die jaar sestig van die 19de eeu op plase op die oostelike Hoëveld gevestig. Ds. Frans Lion Cachet van die NG gemeente Utrecht in Natal het vir die Trekkergesinne ’n gemeente op 5 en 6 November 1870 gestig, en hieruit het die kerkdorp ontstaan wat deur ds. Cachet Ermelo genoem is ter ere van sy sending-leermeester ds. Witteveen van Ermelo, Nederland. ’n Noue verbintenis bestaan steeds tussen die Ermelo’s in Suid-Afrika en Nederland. In die Engelse Oorlog is Ermelo met die uitsondering van een woning geheel en al deur die Engelse afgebrand, maar die dorp het uit die as verrys en die hoofdorp van Suidoos-Transvaal geword.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Die Slag van Krokodilpoel

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Keeromkop

1901 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Zwartkoppie, Kaapkolonie; Welgevonden, Amersfoort/ Amsterdam, Transvaal

 

GEBOORTES

1862 – Sir Thomas Cullinan, delwer en stigter van die Premier-diamantmaatskappy († 23 Augustus 1936).

Sir Thomas Cullinan was ’n Suid-Afrikaanse nyweraar en eienaar van die Premier-diamantmyn naby Cullinan. Cullinan is in die Oos-Kaap gebore. Hy tree toe tot die boubedryf en neem ook deel aan die oorloë in die 1870’s. Hy gaan later na die Barberton-omgewing. Hy verhuis daarna na die Witwatersrand en tree toe tot die mynwese. Hy raak betrokke in steen- en teëlproduksie en stig een van die grootste fabrieke in Suid-Afrika by Olifantsfontein in 1896. Hy neem deel aan die Anglo-Boereoorlog en na die oorlog het hy die reg verkry om op die eiendom van Willem Prinsloo te prospekteer. Hy stig die Premier-myn hier in 1902. In sy later jare spits hy hom toe op nywerheidsondernemings. Hy was die een van die pioniers in Suid-Afrika in die produksie van erdewerke en soortgelyke ware. Die Cullinan-diamant en die dorpie Cullinan is na hom vernoem.

 

STERFTES

1964 – Ds. TC (Oom Essie) Esterhuysen, sendeling en moderator van die NG Kerk in Transvaal (* 15 Mei 1897)

Gedurende sy lewe was hy waarskynlik die bekendste persoon onder alle bevolkingsgroepe aan die Witwatersrand. Sy regte naam was ds. (of eerw.) TC Esterhuysen, maar almal het hom Oom Essie genoem. Hy was ’n Bolander, op Caledon gebore, in die Paarl grootgeword en op Wellington gestudeer – maar sy lewenstaak het hy van 1921 af as sendeling aan die Rand verrig. Hy was leraar van die Kleurling-gemeente Witwatersrand, later Randse Organiserende Sendingsekretaris van die NG Kerk in Suid-Transvaal. Hy het verskeie belangrike ampte beklee, o.m. dié van moderator van die NG Sendingkerk van Transvaal en voorsitter van die Johannesburgse Hospitaalraad. Maar bowe-al word hy onthou as almal se vriend, as ’n onverbeterlike optimis en humoris, as ’n blymoedige Christenmens. Oom Essie is op 12 Februarie 1964 oorlede.

1972 – Albertus Daniël (AD) Keet, geneesheer en digter (* 14 Oktober 1888)

Albertus Daniël Keet is op 14 Oktober 1888 op Alice gebore en is op Senekal oorlede. Hy behaal sy BA-graad aan die Universiteit van Kaapstad in 1908; die jaar daarop vertrek hy na Amsterdam om medisyne te studeer. Sedert 1920 tot aan sy dood praktiseer hy op Senekal. In 1932 is sy eerste vrou, dr. Nell NC Keet, ’n Amsterdamse dame, oorlede. Hy sluit ’n tweede huwelik met Rina van der Merwe. Keet behoort in die digkuns tot die geslag van 1920. Hy het vaderlandse, huislike en liefdesverse geskryf. Hy het van die eerste minnedigte in Afrikaans geskryf. Sy gedigte is soms retories, miskien oppervlakkig, maar sy minnepoësie word gekenmerk deur fynheid, bekoorlikheid, sangerigheid. Daarom is baie van sy gedigte getoonset, in Holland en Vlaandere onder ander deur Marius Kerrybyn, Cornelis Dopper, Arnold Spoel, Anna Lambrechts-Vos en sy vriend Emile Hullebroeck, en in Suid-Afrika deur S le Roux Marais, ML de Villiers en MC Roode. Sy bundel Gedigte het in 1920 verskyn en in 1931 Verspotte gediggies vir verspotte kinders.

1984 – Arnoldus Mauritius (Arnold) Meiring, NG predikant en Transvaalse moderator (* 21 Mei 1906)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/