AD KEET (1888-1972)
Albertus Daniël Keet was ’n bekende Afrikaanse digter en medikus.
AD Keet is op 14 Oktober 1888 op die Oos-Kaapse dorp Alice gebore. Hy was een van sewe kinders en die jongste van vier seuns. Sy pa, Barend Bartholomeus Keet, was van 1874 tot 1879 die tweede leraar van die Nederduits Gereformeerde Kerk in Kimberley en sy ma was Jacoba Petronella Herholdt, oorspronklik van Murraysburg in die Wes-Kaap. In 1879 is sy pa na Alice beroep en sy opvolger was die bekende ds. JD Kestell. Een van sy broers was prof. BB Keet, een van die Bybelvertalers van 1933.
Hy het sy hele skoolopleiding in Engels ontvang, eers aan die Milner Institute op Humansdorp en daarna op Muir Kollege in Uitenhage waar die skrywer Sam Hobson een van sy klasmaats was. Nadat hy sy intermediêre eksamen hier geslaag het, het hy toegang tot die South African College School in Kaapstad, waar hy in 1905 gematrikuleer het, gekry. Hy het Nederlands by CJ van Rhyn, wie se moedertaal dit was, geleer, en die skoolprys vir Nederlands verower. Een van sy opstelle het ’n prys verower in ’n wedstryd wat The Cape Times vir skole uitgeskryf het. Toe die redakteur van die Humansdorpse publikasie Re Echo in die Kersvakansie na afloop van Keet se matriekjaar verlof geneem het, het Keet as redakteur waargeneem. Hy het in 1906 met sy studie aan die South African College (deesdae die Universiteit van Kaapstad) begin. Hy het in 1908 sy BA-graad met filosofie as hoofvak en Engels, Grieks, Nederlands, Latyn en Duits as hoofvakke behaal. Sy Engelse dosent, prof. J Clarke, het ’n liefde vir letterkunde by hom gekweek.
Hy het met ’n beurs van die Stichting Studiefonds voor ZA in die buiteland gaan studeer en in 1909 het hy aan boord van die Duitse skip, die Burgermeister, vir verdere studie in die geneeskunde na Europa vertrek. Hy het op 8 April 1909 in die Belgiese stad Antwerpen aangekom, en van daar per trein na Amsterdam in Nederland, waar hy byna tien jaar gebly het, vertrek. Hoewel hy hoofsaaklik in Amsterdam gewoon het, het hy ’n jaar lank as dokter in Arnhem, op die Duitse grens, gewerk. In Nederland was hy ’n tyd lank voorsitter van die Suid-Afrikaanse Studentevereniging in Amsterdam. Hier was Theo Wassenaar ’n studentevriend van hom. Hy het krieket en rugby gespeel en volgens oorlewering het hy die eerste drie op Nederlandse bodem gedruk toe hy aan ’n vertoonwedstryd tussen Afrikaanse studente van Skotland en Afrikaanse studente van Nederland gespeel het.
In Nederland het hy bevriend geraak met drie bekende Vlaminge, naamlik die voordragkunstenaar Modest Lauwerijs, die komponis-sanger Emile Hullebroeck en die digter René de Clerq. Op aanmoediging van Keet het Lauwerijs geleer om Afrikaans te praat en Suid-Afrika in 1920 en 1933 besoek het. Hullebroeck het Suid-Afrika van September 1920 en Januarie 1921 besoek en talle Afrikaanse gedigte getoonset en gesing. Op Keet se aandrang is hulle albei in 1959 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer met ’n erepenning uit waardering vir hul bydrae tot die Afrikaanse kultuur. Tydens sy verblyf in Nederland het hy ook joernalistieke ervaring opgedoen deur bydraes oor Suid-Afrikaanse politiek en kulturele sake na koerante soos Dietsche Stemme, De Toorts en De Nieuwe Rotterdamsche Courant aan te stuur. Hy kon altesaam elf tale praat en lees.
Tydens die griepepidemie in 1918 was Keet huisdokter aan die stedelike hospitaal van Arnhem en saam met dr. BJ Havenga het hulle leiding geneem oor die noodhospitale in die stad. Terwyl hy hier gewerk het, is ’n vryheidsdeputasie uit Suid-Afrika na die vredesverdrag van Versailles, wat die Eerste Wêreldoorlog beëindig het, gestuur. Dr. WJ Leyds het hom genader om as sekretaris op te tree, en na ’n gesukkel kon hy los kom van sy kontrak met die hospitaal. Met die aankoms van die afvaardiging in Rotterdam het hulle ontdek dat ’n sekretaris reeds aangestel is; dit het gemaak dat Keet sonder werk was.
Op 9 September 1919 is hy in Amsterdam getroud met Neeltjie Nulda Cornelia Nell; ’n dokter wat ’n jaar na hom aan die Amsterdamse Universiteit gekwalifiseer het. Teen die einde van die jaar het hulle per boot terug na Suid-Afrika vertrek en ook in Londen aangedoen, maar by hul aankoms in Suid-Afrika het hulle agtergekom dat al die bagasie wat in die ruim van die skip was, oopgebreek is. Hul trougeskenke en ander kosbaarhede is gesteel, en die vermoede was dat onbeheerbare en ongedissiplineerde Australiese soldate wat op pad terug na hul land was nadat hulle aan die Eerste Wêreldoorlog deelgeneem het, hiervoor verantwoordelik was.
Hoewel hy met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1920 die redakteurspos van Die Volksblad in Bloemfontein aangebied is, het hy besluit om eerder as mediese praktisyn te werk. Hy wou aanvanklik ’n praktyk in Ermelo geopen het maar ’n studentevriend het reeds ’n praktyk daar gehad en daarom het hulle besluit om eerder op Senekal in die Vrystaat, waar hy ook distriksgeneesheer was, te praktiseer. Sy vrou is op 16 Oktober 1932 in die ouderdom van 32 jaar oorlede en na ’n ongelukkige huwelik van net drie jaar met sy tweede vrou is hy op 15 Desember 1939 met Catharina Jacoba (Rina) van der Merwe, oorspronklik van Griekwastad, getroud.
In 1929 het hy die plaas Noorskloof, naby Jeffreysbaai, gekoop as ’n plek waar hy sou aftree, maar met sy eerste vrou se skielike dood het dit nie gebeur nie. Hy het egter besef dat die skulpgruis op die plaas van hoogstaande gehalte was en daarmee handel gedryf. Dit was veral geskik vir voël- en hoenderboerdery. In Desember 1970 het hy die plaas verkoop, en die kopers het die dorpsgebied Wavecrest ontwikkel. Een van die strate is na hom vernoem, een na sy eerste vrou, een na sy derde vrou en een na sy broer, prof. BB Keet.
Sy eerste gedigte het reeds in 1913 in Die Brandwag verskyn, nadat hy dit uit Nederland aangestuur het. Nadat dit ook in ander publikasies soos Die Huisgenoot en Ons Moedertaal verskyn het, is ’n digbundel saamgestel. Sy eerste vrou was vir hom ’n groot inspirasie en ’n reeks liefdesgedigte, Van liefde, is vir haar geskryf. Sy bekendste liefdesgedig was sekerlik “Ek hou van blou”. Sy geestige gedig, “Muskietejag”, wat hy in Nederland in ’n koshuiskamer geskryf het, is baie jare lank aan leerders op hoërskool voorgeskryf, en het ook in Nederland bekendheid verwerf. Hy het dit geskryf nadat ’n yslike muskiet hom só kwaad gemaak het dat hy hom gejaag het totdat hy hom teen ’n muur kon vermorsel. Daar is beweer dat hierdie gedig die begin was van die talle Van der Merwe-grappe wat later in omloop geraak het. Na sy eerste vrou se dood het hy ’n paar gedigte tot haar eer in Huisgenoot laat publiseer; dit is later privaat onder die titel In Memoriam uitgegee. Hierdie gedigte het van diepe ontroering gespreek. Weens die liriese aard van sy gedigte het verskeie toonsettings daarvan verskyn, onder meer deur S. le Roux Marais, ML de Villiers en MC Roode. Die toonsetting van “Ek hou van blou” op die wysie van “Die kalfiewals”, is in die Volkspelebundel opgeneem. Hy was geneig om sy gedigte op stukkies papier, sigaretdosies of koerantpapier te skryf.
Vanaf 1968 het sy gesondheid vinnig agteruitgegaan en hy is deur verskeie siektes, onder meer longontsteking, geteister. Hy was in 1971 lank in die Karl Bremer-hospitaal in Bellville weens osteoporose, wat sy beweging gekniehalter het. Op 12 Februarie 1972 is hy in die ouderdom van 83 jaar in sy huis op Senekal oorlede nadat hy die vorige week ’n hartaanval gehad het en in ’n koma beland het.
deur Daantjie Badenhorst