12 MEI
GEBEURE
1652 – Eerste Nagmaalsviering in die gemeente van Kaapstad
Op hierdie dag is die eerste Nagmaal aan die Kaap gevier. Jan van Riebeeck se dagregister vertel soos volg oor hierdie geleentheid: “… is alhier in’t noch onvolmaeckte fortjen staende, door Domine Backerius, predikant per den Walvis hier gecomen, de eerstte predicatie gedaen, ende het avondmael des Heeren gecelebreert.” Hierdie geleentheid wys reeds daarop dat die Nagmaal vir die wordende volk altyd van groot belang sou wees. Die Afrikaner het altyd alles in sy vermoë gedoen om geen Nagmaalsviering mis te loop nie. Dit was, benewens ’n kerklike viering, ook ’n belangrike sosiale geleentheid, veral later in die afgesonderde binneland. Jan van Riebeeck versuim ook nie om die eerste geleentheid waar ’n predikant die jong gemeente besoek, te benut vir die bediening van die Nagmaal nie. Reeds hiervandaan spruit die strenge godsdienssin van die Afrikaner wat later in die binneland vir hom as rigsnoer sou dien.
1849 – Aliwal-Noord aangelê
Die dorp se naam is te danke aan sir Harry Smith, goewerneur van die Kaap. Smith het gedurende 1847 ’n oorwinning tydens die Slag van Aliwal in Indië behaal. Die gebeure was teen die mag van Runjeet Singh gewees. Daarna het Smith bekend gestaan as die held van Aliwal en so het die dorp sy naam gekry.
1859 – Gemeente op Reddersburg gestig
Die eerste gemeente van die Gereformeerde Kerk word op Reddersburg in die Vrystaat gestig.
1875 – Hoeksteen van eerste Parlementsgebou gelê
Die hoeksteen van die eerste Parlementsgebou in Kaapstad (wat bykans 3 ton weeg) is deur die destydse Goewerneur van die Kaap, sir Henry Barkley, gelê. Omdat die “argitek” van die gebou nie ’n gekwalifiseerde argitek was nie, het daar fout met die fondament van die gebou gekom en moes die gebou tot op die grond afgebreek word. Die hoeksteen het verdwyn en is tot vandag nog nie opgespoor nie. ’n Tweede gebou is op die perseel opgerig, met ene mnr. Greaves as argitek, en is op 15 Mei 1885 in gebruik geneem. Die gebou is verskeie kere vergroot om in die steeds groeiende behoeftes te voorsien.
1881 – Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging (NZAV) gestig
Die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging (NZAV) is gestig met sy hoofkantoor in die Keizergracht 141, Amsterdam, Holland. Die stigters het groot waarde geheg aan die taal en stamverwantskap tussen Afrikaans en Nederlands.
1898 – Paul Kruger lê ampseed vir die 4de keer as Staatspresident van die ZAR af
1900 – Anglo-Boereoorlog
Lord Roberts kom in Kroonstad aan. President MT Steyn verkondig Heilbron in die Oranje-Vrystaat as sy nuwe hoofstad.
1915 – Oorgawe van Windhoek
Suid-Afrikaanse soldate het Windhoek op 12 Mei 1915 in die Eerste Wêreldoorlog binnegeval waar die burgemeester, Peter Müller, die stad sonder teenstand aan Suid-Afrika oorgegee het. Windhoek se inwonertal was toe 13 000. Die oorname het gevolg nadat Suid-Afrika die vorige jaar ’n mag van 67 000 op die been gebring het om die gebied van die Duitse koloniale bewind oor te neem. Dit het binne ses maande gebeur toe die destydse Duitse goewerneur, dr. Theodor Seitz en die bevelvoerder, kol. V Franke Duitsland se 4740 soldate op 9 Julie 1915 op Otavi oorgegee het. Dit is dieselfde dag onder Suid-Afrikaanse militêre bewind geplaas wat tot die einde van 1920 geduur het.
1915 – Nasionale Pers as maatskappy geregistreer
Die registrasie van De Nationale Pers Beperkt, as maatskappy het gevolg op ’n vergadering wat op 18 Desember 1914 gehou is in Heemstede, die huis van Henderik Bergh in Van Riebeeckstraat, Stellenbosch. Sestien vooraanstaande Afrikaners was aanwesig. WA Hofmeyr is tot voorsitter gekies. Van die aanwesiges het alleen adv. JHH de Waal enige ondervinding van koerantwerk gehad; nogtans word besluit “dat het wenselik is een Hollands niewsblad uit te geven”. Volgens berekening van WA Hofmeyr sou ’n kapitaal van £80 000 (volgens geldwaardes in 1979 waarskynlik omtrent R160 000) nodig wees om ’n maatskappy te stig om die doel te verwesenlik. Toe die volgende vergadering na twaalf dae gehou word, is die kapitaalprobleem grootliks opgelos nadat mnr. Jannie Marais ingewillig het om £5 000 se aandele te neem en sy broer Christiaan £1 000 s’n. Op hierdie vergadering is besluit dat die koerant De Burger sou heet. In April 1915 het die maatskappy wat die koerant sou druk, kop uitgetrek. ’n Ernstige probleem is oorkom toe die stigters daarin slaag om ’n tweedehandse rolpers te koop met die geldelike bystand en in die naam van mnr. Jannie Marais – die Nasionale Pers was immers nog nie geregistreer nie. By die registrasie was die nominale kapitaal van die Nasionale Pers £30 000, waarvan net £20 000 ingeskryf was. Weens geldelike probleme ten gevolge van die stryd teen die koerant in die oorlogsjare, moes die kapitaal egter tot £50 00 verhoog en aandeelhouers met groot moeite gewerf word. In 1977 is die nominale kapitaal R2 miljoen. Die Nasionale Pers het ’n perseel gehuur op die hoek van Keerom- en Leeuwenstraat, Kaapstad. Die adres, Keeromstraat 30, het een van die bekendste adresse in Suid-Afrika geword, vereenselwig met die nasionale strewe van die Afrikaner. In 1924 het die Pers die gebou gekoop vir £30 000. In 1916 begin die Nasionale Pers as uitgewer van tydskrifte met Die Huisgenoot, in 1917 as uitgewer van boeke; en in 1918 tree hy tot die boekhandel toe met die stigting van Die Burger Boekhandel, wat later die Nasionale Boekhandel geword het. Teen 1948 het die bedrywighede van die Nasionale Pers so omvangryk geword dat daar oorgegaan is tot die stigting van maatskappye vir die uitgee van boeke, vir die boekhandel, vir koerante, vir tydskrifte en vir boek- en handelsdrukwerk. Deur sy filiaal Nasionale Boekhandel Beperk het die Nasionale Pers in die sewentigerjare deelgenootskapmaatskappye vir die boekebedryf begin stig met die Kleurlinge, die Indiërs en bevolkings van verskeie tuislande.
1997 – Suid-Afrika pomp eerste olie uit die Oribiveld by Mosselbaai
GEBOORTES
STERFTES
2013 – Nico van Rensburg, boeremusiek-legende en bekroonde konsertinaspeler (* 1937)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.