NICO VAN RENSBURG (1937-2013)
In die bestaan van die SAUK se Boeremusiek-kompetisie, wat van 1980 tot 1992 elke tweede jaar op TV 1 uitgesaai is, was daar net een orkesleier wat twee keer as wenner aangewys is.
Nico van Rensburg is in 1937 in Ermelo in Mpumalanga gebore, maar sy presiese geboortedatum en verdere biografiese inligting is nêrens aangeteken nie. Hy het die Boeremusiek-kompetisie in 1984 en 1990 gewen, en in 1999 ’n SAMA-toekenning vir die beste Boeremusiekalbum vir sy album Legende gewen. Nico het ook die hooftrekke om ’n ander rede gehaal toe sy eerste vrou in Desember 2001 met ’n skietwond dood in hul huis se badkamer aangetref is. Hy is daarna weer getroud.
Hy was die beskermheer van die Boeremusiekgilde en het daarna gestreef om die Boeremusiektradisie van die orkesleier Hendrik Susan, wat in 1963 oorlede is, voort te sit. Hy het altyd die modernisering van Boeremusiek teengestaan en dwarsdeur sy loopbaan getrou aan die tradisionele klank gebly. Hy het later ook die Boeremusiekprogram Skoffelklanke op Radio Pretoria aangebied, en gereeld in die gewilde televisiepropgram Maak ’n las opgetree.
Nico het in die laaste jare van sy lewe met sy gesondheid gesukkel en hartprobleme ontwikkel. Hy is op 12 Mei 2013 in die ouderdom van 76 jaar in die 1 Militêre Hospitaal in Pretoria aan ’n hartaanval oorlede. Sy kleinseun, Nicolaas van Rensburg, laat egter die Boeremusiek-tradisie voortleef; hy is die vierde geslag konsertinaspeler in die familie.
Daantjie Badenhorst