13 OKTOBER

GEBEURE

1867 – Die eerste diamant in Suid-Afrika gevind

Die eerste diamant wat in Suid-Afrika gevind is, die Eureka-diamant van 21,25 karaat, is op 13 Oktober 1867 deur die 15-jarige Erasmus Jacobs naby Hopetown langs die Oranjerivier opgetel. Terwyl die Jacobs-kinders daarmee gespeel het, het dit die aandag van ‘n buurman getrek wat dit op sy beurt aan die burgerlike kommissaris oorhandig het. ‘n Geoloog, dr. William Guybon Atherstone, het bevestig dat dit ‘n diamant was met ‘n waarde van £800. Dit is aan koningin Victoria geskenk terwyl ‘n replika daarvan in dieselfde jaar op ‘n uitstalling in Parys ten toon gestel is. Dit is later vir £500 aan die Kaapse goewerneur, sir Philip Wodehouse verkoop. Deur die jare is die Eureka talle kere verkoop en tot ‘n grootte van 10,73 karaat geslyp. De Beers het dit in 1967 vir die mense van Suid-Afrika teruggekoop en op permanente uitstalling by die Mynmuseum in Kimberley geplaas.

1880 – Transvaal verklaar onafhanklikheid van Brittanje

1881 – Elektriese ligte in Adderlystraat, Kaapstad, geïnstalleer

Adderlystraat is moontlik die mees histories ryk straat in Kaapstad. Dit kry die naam van die man wat heftig teengestaan het teen die Britse voorstel om Kaapstad in ’n veroordeelde kolonie te omskep, Charles B. Adderly. Op 13 Oktober 1881 is die straat se eerste elektriese ligte geïnstalleer. Die straat is deesdae ’n groot trekpleister vir toeriste in Kaapstad. Dit is in die omgewing van ander besienswaardighede soos die Old Slave Lodge Museum, die Groote Kerk (die oudste kerk in Suid-Afrika) en die Kompanjiestuin.

1899 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Kraaipan

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, was daar reeds ’n Britse troepemag op Mafeking gestasioneer. Ten einde hierdie mag te isoleer en uit te wis, het genl. JH de la Rey kort nadat die berig aangaande die oorlogsverklaring genl. PA Cronje op 11 Oktober by Polfontein, aan die Transvaalse wesgrens bereik het, met ’n kommando die Betsjoeanalandse grens oorgesteek om die spoorwegverbinding tussen Mafeking en Kimberley af te sny. Op 12 Oktober het hierdie kommando die spoorlyn by Kraaipan, aan die hoofspoorlyn tussen Mafeking en Vryburg, gesabboteer. Hierdie optrede van die Boere het die ontsporing van ’n gepantserde lokomotief, wat ’n gepantserde trein begelei het tot die gevolg gehad. Die geveg wat hierna tussen Boer en Brit by Kraaipan ontstaan het, was die eerste van die Anglo-Boereoorlog. Toe dit lig word op 13 Oktober 1899, is met ’n kanon uit genl. De la Rey se kommando op die trein gevuur. Met die derde skoot het die koeël die lokomotief se stoomketel beskadig, sodat die Britse soldate na ’n kort geveg hulle aan die Boere oorgegee het. Benewens etlike gevangenes, het die Boere die trein met sy vrag kanonne en talle dum-dum koeëls buitgemaak. So het die eerste geveg van die Anglo-Boereoorlog in ’n oorwinning vir die Boere geëindig.

1914 – Afrikanerrebellie

Verskeie ontevredenes oor die beplande inval in Duitswes-Afrika, waaronder Christiaan de Wet, Jan Kemp, die oud-Boeregeneraal PJ Liebenberg, majoor Pienaar, ds. Van Broekhuizen en mnre. PGW (Piet) Grobler en Rocco de Villiers kom by Koppies in die Vrystaat, in die pastorie van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, byeen om verwikkelinge te bespreek. Hulle word ter aanvang deur die Spesiale Vrederegter van Koppies meegedeel dat hulle ingevolge die krygswet nie mag vergader nie. Hulle besluit toe op ’n blote gesprek. De Wet herhaal sy siening dat Manie Maritz gehelp behoort te word, maar dui nie aan op welke wyse nie. Die meerderheid van die teenwoordiges was egter van mening dat dit nie sinvol of moontlik sou wees om hom te help nie. Hulle stem egter oor die meeste kwessies saam, waaronder die wenslikheid dat daar ’n groot volksvergadering gehou moes word om die wil van die volk in verband met die parlementêre besluit om tot die oorlog toe te tree, te toets. Op voorstel van Liebenberg het hulle eerder besluit om ’n afvaardiging na Pretoria te stuur ten einde met die regering oor die saak te gaan praat. Nege persone is toe verkies om hierdie opdrag uit te voer, waarop die byeenkoms verdaag het met die doel om op 22 Oktober weer in die Koppies-omgewing bymekaar te kom.

JH Conradie, superintendent van die arbeidskolonie op Kakamas (wat later administrateur van die Kaapprovinsie geword het), laat na ’n gesprek met Maritz aan die regering in Pretoria weet dat Maritz graag die wapen sal neerlê mits hy eers met De Wet, CF Beyers, Kemp en JBM Hertzog in gesprek kon tree. Daar het uiteindelik niks van gekom nie, wat Maritz se wantroue in Smuts se motiewe versterk het.

Maritz skryf aan Brits in Upington ten einde ’n vreedsame skikking te probeer bereik, maar ook daar kom niks van nie.

 

GEBOORTES

1938 – Dalene Matthee, skryfster († 20 Februarie 2005)

Dalene Matthee was ’n internasionaal-bekende skrywer, wie se boeke in verskeie tale vertaal en verfilm is. Sy is veral bekend vir haar reeks bosboeke, wat in en om die Knysnabos afspeel. Die eerste bosverhaal Kringe in ’n bos (1984) was ’n topverkoper en is met die ATKV-Prosaprys vir goeie gewilde prosa bekroon. Dieselfde eer val ook die bosverhale Fiela se kind (1985) en Moerbeibos (1987) te beurt. Sy skryf ook ander suksesvolle werke, soos Pieternella van die Kaap, Susters van Eva, Brug van die esels, Toorbos en die kortverhaalbundel Die Judasbok.

 

STERFTES

1879 – Josias Phillipus Hoffman, eerste president van die Oranje-Vrystaat (* 31 Desember 1807)

Die eerste President van die Oranje-Vrystaat, Josias Philippus Hoffman, was ironies genoeg, nie in hart en niere ’n oortuigde republikein nie. Gebore op Stellenbosch, vestig hy hom eers in 1940 in die Transgariep. In 1848 en daarna berus hy aanvanklik in die uitbreiding van die Britse gesag oor hierdie gebied. Hy sou eers na 1853 van sienswyse verander, en onder sy voorsitterskap word die Bloemfontein-Konvensie in 1854 onderteken. Hierna maak hy snelle politieke opgang in die onafhanklike Oranje-Vrystaat. En in September 1854 word hy as eerste President ingehuldig. Ten gunste van hom tel die feit dat hy reeds ’n hegte vriendskap met Mosjesj, die Basoeto-opperhoof, gesmee het. Gedurende sy kort ampstermyn sou hy dan ook poog om ’n vredesbeleid te volg – vandaar sy persoonlike samesprekings met die inboorlinghoofde soos Mosjesj en Adam Kok. Op besoek aan Mosjesj in Augustus 1854 skenk hy aan die opperhoof ’n klein vaatjie kruit van 50lb, ter vervanging van die kruit wat gebruik is vir sy verwelkoming. In die oë van die talle Vrystaters was dit ’n uiters ernstige oortreding. Boonop het Hoffman hierdie skenking in sy verslag aan die Volksraad nie vermeld nie. ’n Vertrouenskrisis het ontstaan, en onder druk het Hoffman in Februarie 1855 bedank. Hy is op 13 Oktober 1879 op sy plaas Slootkraal, in die distrik Wepener, oorlede.

2001 – Prof. Louis Cornelius Eksteen, leksikograaf (* 20 Oktober 1930)

Louis Eksteen was ’n Afrikaanse taalkundige en digter. Hy is in Windhoek gebore. Hy het aan die Universiteit van Pretoria en aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam gestudeer. Daarna was hy redaksioneel verbonde aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/