DALENE MATTHEE (1938-2005)

Dalene Matthee was ’n Afrikaanse skrywer wat veral bekendheid verwerf het vir haar vier romans wat in die Knysna-bos afgespeel het.

Dalena Scott is op 13 Oktober 1938 op Riversdal in die Wes-Kaap gebore en nadat sy in 1957 aan die Hoërskool Langenhoven op Riversdal gematrikuleer het, het sy musiek aan ’n konservatorium op Oudtshoorn gaan studeer, waarna sy ook by die Holy Cross Convent in Graaff-Reinet gestudeer het. Sy is met ’n skoolvriend, Larius Matthee, getroud toe sy 18 jaar oud was en kort daarna het hulle na Oudtshoorn verhuis. Drie dogters is uit die huwelik gebore. Sy het ’n inkomste te verdien deur kinderverhale vir die kinderprogram Siembamba, wat op die Afrikaanse radiodiens van die SAUK uitgesaai is, te skryf. Sy het die stories eers vir haar kinders gelees voordat sy dit aan die SAUK voorgelê het. As hulle aandagtig geluister het, het sy geweet dat sy die stories kon voorlê, maar as hulle gevroetel het, het sy dit oorgeskryf. In hierdie tyd het sy begin om gholf te speel en sy het selfs ’n toernooi vir vroue in Rondebosch in Kaapstad gewen. In 1967 het sy kortverhale vir onder meer Huisgenoot en Sarie geskryf en destyds gesê sy sou nooit ’n roman skryf nie omdat sy nie geweet het waar sy genoeg inligting vir ’n hele boek sou kon kry nie.

Haar eerste boek, ’n kinderverhaal getiteld Die Twaalfuurstokkie, is in 1970 gepubliseer, en Judasbok, ’n versameling van kortverhale, het in 1982 verskyn. Daarna het twee romans verskyn, naamlik ’n Huis vir Nadia in 1982 en Petronella van Aarde, Burgemeester ’n jaar later. In 1978 het die gesin na Hartenbos verhuis en teen die einde van die jaar het sy ’n staptoer in die Knysna-bos saam met haar man, haar broer, haar skoonsuster en een van haar dogters onderneem. Sy het vrae oor die uitheemse eikebome in die middel van ’n inheemse bos gevra en toe sy weer by die huis gekom het, het sy die museum in Knysna besoek om meer daaroor uit te vind. Sy het afgekom op waardevolle inligting wat haar geïnspireer het om haar vier romans wat in die Knysna-bos afgespeel het, te skryf. Benewens haar skryfwerk het sy ’n lisensiaat in klavier aan die Holy Cross Convent verwerf.

Haar eerste “bos-roman” was Kringe in ’n bos, wat in 1984 vrygestel is. Dit was ’n internasionale sukses en is in veertien tale vertaal. Dit het die verhaal van die uitwissing van die Knysna-olifante en die uitbuiting van die werkers in die bos vertel. Sy het self die vertaling van Afrikaans na Engels behartig, en opgehou om klavier te speel toe sy dit begin skryf het. Sedert 1986 is Kringe in ’n bos vir standerd 9- en matriekleerlinge voorgeskryf. Fiela se kind het in 1985 verskyn en Moerbeibos in 1987. Daarna het sy drie ander romans geskryf, naamlik Brug van die esels in 1993, Susters van Eva in 1995 en Pieternella van die Kaap in 2000. Haar laaste “bos-roman” was Toorbos, wat in 2003 verskyn het. Sy het laasgenoemde roman geskryf nadat haar man in 2000 aan kanker oorlede is en sy na Mosselbaai verhuis het. Sy was die eerste outeur van wie ’n miljoen Afrikaanse boeke verkoop is.

In 1988 is Fiela se kind vir die eerste keer op die verhoog opgevoer terwyl ’n rolprentweergawe, met Katinka Heyns as regisseur, dieselfde jaar vrygestel is. Shaleen Surtie-Richards, wat in 2021 oorlede is, het onsterflike roem verwerf vir die titelrol. Onder die ander akteurs in dié rolprent was Annie Malan, Goliath Davids, Ernst Eloff, Dawid Minnaar, Lida Botha en André Rossouw. In 2019 is Fiela se kind vir ’n tweede keer verfilm, met Zenobia Kloppers in die titelrol, en akteurs soos Cindy Swanepoel, Gerald Steyn, Melissa Willering en Francois Stemmet. In dieselfde jaar is Toorbos verfilm, met akteurs soos Elani Dekker, Stiaan Smith, Paul Eilers, André Odendaal en die egpaar Johan en Lida Botha.

Sy is op 20 Februarie 2005 in die ouderdom van 66 jaar aan hartversaking oorlede, tien dae nadat sy die Engelse vertaling van Die uitgespoeldes voltooi het. Haar as is by Krisjan-se-plek in die Knysna-bos gestrooi en ’n gedenkteken is ter nagedagtenis aan haar opgerig. Die staproete wat by Krisjan-se-plek begin, is na haar roman Kringe in ’n bos vernoem.

deur Daantjie Badenhorst