14 FEBRUARIE

GEBEURE

1687 – Die hoeksteen van die eerste NG Kerk op Stellenbosch word gelê

1785 – Cornelis Jacob van de Graaff word goewerneur

Cornelis Jacob van de Graaff aanvaar die goewerneurskap aan die Kaap. Graaff-Reinet is na hom en sy vrou vernoem.

1840 – Natal tot Voortrekkerrepubliek geproklameer

Pas nadat Dingaan verslaan en Mpande tot koning van die Zoeloes verklaar was, is Natal op 14 Februarie 1840 tot Voortrekkerrepubliek geproklameer. Dit het naby die berig Ntabankulu plaasgevind nadat Andries Pretorius en sy kommando die vorige dag van die Swart Mfolozi af op die eerste skof van die terugtog na Pietermaritzburg vertrek het. Benewens die grond wat Piet Retief bekom het, het Pretorius ook die gebied tussen die Tugela en die Swart Mfolozi geannekseer om te vergoed vir die sowat R18 390 wat die stryd teen Dingaan die Trekkers gekos het. In opdrag van die Volksraad, dat hy na die oorwinning oor Dingaan “de baken moeten steken”, het Pretorius in sy proklamasie van 14 Februarie 1840 die grense van die Voortrekkerrepubliek omskryf as die Umzimvubu in die suide, die Swart Mfolozi (insluitend St. Luciabaai) in die noorde en die see in die ooste. Die wesgrens is nie vermeld nie.

1887 – Paul Kruger na Johannesburg

Pres. Paul Kruger onderneem sy eerste amptelike besoek van twee dae na Johannesburg.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Die Slag van Pietershoogte begin

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Hussar Hill, Natal; Alexanderfontein, Kimberley

1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Wolwekuil, Philipstown; Windhoek, Transvaal

1902 – Jacobus Francois Geldenhuis tereggestel

Jacobus Francois Geldenhuis (25) is op hierdie dag deur ’n vuurpeleton tydens die Anglo-Boereoorlog tereggestel. Hy is op 20 Desember 1901 op die plaas Driefontein naby Nieu-Bethesda gevang. Hy was daarvan aangekla dat hy op ’n Britse soldaat tydens ’n geveg gevuur het en nog twee ander Britse soldate gewond het. Ook sou hy na bewering kos en klere gesteel het. Hy is op 18 Januarie 1902 op Graaff-Reinet verhoor en ter dood veroordeel. Die vonnis is by Spandaukop net buite Graaff-Reinet voltrek. Daar bestaan geen foto’s van hom nie.

1933 – Koalisie beplan

Nasionaliste word verstom deur die aankondiging van sewe punte waarvolgens genl. JBM Hertzog bereid is om saam met genl. JC Smuts te werk om ’n koalisie te vorm.

1961 – Suid-Afrikaanse geldstelsel gedesimaliseer

Suid-Afrikaanse rand en sent is op 14 Februarie 1961 ingestel wat ponde, sjielings en pennies vervang het. Dit was drie jaar nadat die Desimale Kommissie sy aanbevelings oor die desimalisasie van die geldstelsel voorgelê het. Een pond het twee rand geword, een sjieling tien sent en drie-pennies (’n tiekie) twee-en-’n-half sent. Dit het in gebruik gebly tot 1964 toe ’n tweede reeks aanvaar is wat van 1965 af tot 1989 gebruik is. Die twee-en-’n-halfsentmunt is toe deur ’n twee sent-munt vervang. Tussen 1965 en 1969 was “Suid-Afrika” of “South Africa” gebruik en in 1970 is Jan van Riebeeck se beeld deur die landswapen vervang. ’n Komitee is in die laat 1980’s op die been gebring vir nuwe note en munte toe die prys van koper en nikkel skerp gestyg het. Die koste om nuwe munte plaaslik te vervaardig, was toe hoër as die sigwaarde daarvan.

 

GEBOORTES

1879 – Dr. Willem Petrus Steenkamp, predikant, dokter en politikus († 16 Julie 1956)

Dr. Willem Petrus Steenkamp was ’n Suid-Afrikaanse politikus en ’n predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk.

1876 – Henry Charles Christopher (Harry) Wolhuter, wildbewaarder († 30 Januarie 1964)

Harry Wolhuter het gedien as die eerste wildbewaarder in die Krugerwildtuin, Suid-Afrika, en het 44 jaar diens van 1902 tot 1946 voltooi.

 

STERFTES

1933 – Paul Louw, predikant en digter (* 6 Januarie 1890)

Ds. Paul Louis Louw was ’n predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk en ’n Afrikaanse digter.

2000 Rosa Sophia Cornelia (Rosa) Nepgen, komponis van Afrikaanse liedere en kerkmusiek (* 12 Desember 1909)

Rosa Nepgen was ’n Suid-Afrikaanse komponis, wat hoofsaaklik die werk van haar man, prof. WEG Louw, getoonset het. Sy was daarby ook ’n kerkorrelis wat veral die Geneefse psalmwysies bestudeer het en het ook gedigte van die Italiaanse digter Eugenio Montale in Afrikaans vertaal. Sy is op 14 Februarie 2000 oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

Frikkie Wallis Facebook

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/