
14 JANUARIE
GEBEURE
1840 – Die derde kommando trek uit teen Dingaan
1868 – Eerste gholfklub in Afrika
Die eerste gholfklub op die vasteland van Afrika is in Kaapstad gestig. ’n Klompie Britse offisiere en ’n ene mnr. Allen het in die Kasteel bymekaar gekom en die Kaapstadse Gholfklub in die lewe geroep.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Bastersnek, Colesberg
1914 – Krygswet word in Suid-Afrika afgekondig
1993 – Suid-Afrika onderteken die VN konvensie wat die gebruik van chemiese wapens verbied
GEBOORTES
1902 – Olaf Andresen, Duitsgebore Afrikaanse liedjieskrywer († 20 Desember 1985)
Olaf Hans Andresen het bekendheid verwerf met sy skooloperettes en populêre liedere soos “My hart verlang na die Boland” en “Heidelied”. Hy is in Duitsland gebore, het na Suid-Afrika verhuis en hom volkome met die Afrikanerstrewe vereenselwig en gedurende die oorlogjare as vlugteling in Mosambiek liedere vir die Ossewa-Brandwag onder ’n skuilnaam gekomponeer.
STERFTES
1917 – Benjamin Johannes (Ben) Viljoen, Boeregeneraal (* 7 September 1869)
Benjamin Johannes Viljoen is op 7 September 1868 in die Kaapkolonie gebore. Hy het hom op ’n jeugdige ouderdom in Transvaal gevestig en het verskeie beroepe beklee. Hy was onder meer polisieman, joernalis en lid van die Tweede Volksraad. Dit was egter op militêre gebied waar hy hom onderskei het. Hy het deelgeneem aan die veldtogte teen Jameson en teen die Venda-opperhoof Mphephu en was reeds kommandant toe die Engelse Oorlog in 1899 uitgebreek het. Hy het geveg by Elandslaagte, Vaalkrans, Donkerhoek, Berg-en-Dal, Nooitgedag, Renosterkop en Helvetia. In die guerrillafase van die oorlog het hy ook ’n belangrike rol gespeel, veral ten ooste van Pretoria. Vroeg in 1902, toe hy reeds gevorder het tot assistent-kmdt.-genl., is hy naby Lydenburg gevange geneem en na St. Helena gestuur. Daar het hy sy oorlogsherinneringe opgeteken, wat in Hollands, Engels en Duits gepubliseer is. Na die oorlog het hy na Amerika verhuis. Hy is in La Mesa, Nieu-Mexiko, oorlede.
1984 – Koos du Plessis, sanger, liedjieskrywer en digter (* 10 Mei 1945)
Koos du Plessis was ’n musikant wat toonaangewend was in die Afrikaanse musiek-en-liriekbeweging van die 1970’s en 1980’s. Hoewel hy kommersieel nie baie suksesvol was as uitvoerende kunstenaar nie, het die albums wat hy in sy leeftyd uitgereik het, ’n nuwe rigting in Afrikaanse musiek ingelui en word dit vandag as van die invloedrykstes in die taal se musiekgeskiedenis beskou. Tientalle verwerkings van sy komposisies is sedertdien deur verskeie ander Afrikaanse kunstenaars opgeneem en ’n hele paar het huldeblyk-albums aan hom opgeneem.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.