BEN VILJOEN (1869-1917)
KRANIGE BOEREGENERAAL
Ben Viljoen, een Van die kranige Boere-generaals van die Tweede Vryheidsoorlog, is in 1868 in die Kaapkolonie gebore. As jongman het hy verhuis na Transvaal, waar die lewe van die Republikeinse Boer ’n besondere bekoring vir hom gehad het.
In Transvaal het hy ’n veelsydige loopbaan gehad. Onder andere was hy journalis nadat hy eers ’n lid van die polisiekorps van Krugersdorp was. Met die Jameson-strooptog het hy aan Boerekant geveg en op dié manier volle burgerreg in die Republiek verkry.
Dit was egter nie as jong burger van die jeugdige Republiek wat Viljoen roem verwerf het nie, maar wel as veldheer van die burgerkommando’s gedurende die Tweede Vryheidsoorlog. Heeltemal aan die begin van die oorlog het hy deelgeneem aan die noodlottige slag van Elandslaagte, maar daarin geslaag om met sy klompie Johannesburgers gevangeneming te ontsnap.
Daarna het hy onder moeilike omstandighede aan die Vaalkransslag, Februarie 1900, deelgeneem en hom deur sy heldhaftige optrede besonder onderskei.
Na Vaalkrans was hy ’n ruk lank gedoem tot betreklike onbedrywgheid in die Biggarsberge, waarna weer ’n besondere mobiele tyd aangebreek het. Eers was hy betrokke in die geveg te Donkerhoek (Diamond Hill), daarna Berg-en-Dal, Nooitgedacht en na ’n ruk se omswerwing in die noordelike bosveld, weer by Rhenosterkop.
Op die aand van 28 Desember 1900 het Ben Viljoen, ondersteun deur genl. Chris Muller, Helvetia, ’n sleutelposisie ongeveer drie myl ten ooste van Machadodorp, ingeneem. By hierdie geleentheid neem hulle 250 krygsgevangenes, maar van selfs nog groter betekenis, ook die groot skeepskanon “Lady Roberts”, waaraan die volgende grappige verhaal verbonde is.
Na die geveg verby was het genl. Viljoen ’n brief, waarvan die slotgedeelte as volg gelui het, aan genl. Smith-Dorrien op Belfast gestuur: “I have been obliged to expel ‘The Lady Roberts’ from Helvetia, this lady being an ‘undesirable’ inhabitant of that place. I am glad to inform you that she seems quite at home in her new surroundings, and pleased with the change of company”.
Genl. Viljoen sinspeel hier op die Engelse se gebruik om mense uit Pretoria en ander verowerde dorpe as “ongewenste persone” te verban.
Die tyd van gereelde en groot slae was verby, en gedurende 1901 het hy sonder onderbreking in die gebied ten ooste van Pretoria bly opereer, en die vyand onophoudelik las veroorsaak. Teen die einde van Januarie 1902 was hy by die regeringslaer wat deur die vyand agtervolg was.
Ten einde sekere private opdragte uit te voer, het hy en ’n paar van sy adjudante op 25 Januarie te Oshoek van die regering afskeid geneem. Daardie selfde nag beland hulle vlakby Lydenburg tussen die Engelse en word hy en Bester gevange geneem.
Sy lot daarna was dieselfde as dié van duisende ander. Nog die volgende maand word hy as ’n krygsgevangene uit Suid-Afrika na St. Helena gestuur, en kom op 1 Maart in Jamestown-hawe aan.
Sy ballingskap was nie ’n vrugtelose tydperk nie. Hier het hy van die geleentheid gebruik gemaak om sy wedervaringe gedurende die oorlog te boek te stel onder die titel: “Myne Herinneringen uit den Anglo-Boeren-Oorlog”.
Na die Tweede Vryheidsoorlog het genl. Viljoen na Amerika gegaan en op verskillende geleenthede in sowel Noord- as Suid-Amerika toesprake gehou. Sy vaderland het hy dan ook vaarwel toegesê en ’n blywende tuiste in die vreemde gevind.
Oorwinnaar van die slag by Helvetia
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: Mijne Herinneringen (BJ Viljoen)