14 MAART
GEBEURE
1707 – Adam Tas vrygelaat
Adam Tas, ’n bekende boer van Stellenbosch aan die begin van die 18de eeu, word vrygelaat na hy vir 13 maande en 17 dae in die Kasteel aangehou is.
1895 – Die Hollandse Mannekoor in Pretoria gestig
Hierdie koor het ontwikkel uit De Hollandsche Club, wat op hierdie dag in Pretoria gestig is. Die klub het sy naam op 25 April 1895 verander in De Hollandsch Mannekoor, met ’n meer bepaalde doel: om die Hollandse taal deur sang te bevorder en daardeur die samewerking en gesellige verkeer van alle Hollanders in Pretoria te bewerkstellig. Dirk Balfoort het hom laat oorreed om as direkteur op te tree. Reeds in Augustus 1895 is die eerste uitvoering gegee. Die koor was herhaaldelik vir liefdadigheid in Pretoria diensbaar. Met Balfoort se vertrek na Europa word M de Groot die koorleier. Die koor het uit 26 werkende lede en sy direkteur bestaan en ’n foto uit 1898 bestaan van die geselskap. Tydens die Anglo-Boereoorlog is die koor se werksaamhede tydelik gestaak, maar in 1903 het hy herleef onder voorsitterskap van WJ Neijenes, later H Visscher en nog later H van Bommel. Die tienjarige bestaan is op 27 en 28 April 1905 feestelik herdenk. Die koor het ’n vaandel met bybehorende kas besit, en hierdie vaandel word tans in die Nederlands Cultuurhistorisch Instituut aan die Universiteit van Pretoria bewaar. Dirk Balfoort het ’n sangstuk, getitel Liever dood dan onderworpen vir die koor gekomponeer. Hierdie koor het in die negentigerjare van die vorige eeu ’n lewendige rol gespeel in die kultuurlewe van Pretoria.
1898 – Woolf Joel vermoor
Woolf Joel, die neef van Barney Barnato, word deur Baron Von Veltheim geskiet en vermoor omdat hy weier om te help met die ontvoering van pres. Paul Kruger.
1922 – Die Randse staking kom tot ’n einde
Die rampspoedige gebeurtenisse aan die Witwatersrand die eerste drie maande van 1922 het in hoofsaak gewortel in die onvermoë van laegraadse goudmyne om met produksiekoste tred te hou, terwyl die goudprys ’n dalende neiging getoon het. Die Kamer van Mynwese moes derhalwe kies tussen loonverlaging vir mynwerkers of die opheffing van die sogenaamde status quo-ooreenkoms, wat sekere werk vir blankes gereserveer het. ’n Loonverlaging kon nie die laegraadmyne red nie, en die opheffing van die status quo-ooreenkoms is dus oorweeg. Loonverlaging is terselfdertyd by steenkoolmyne en by enkele groot maatskappye ingestel, en dit het ’n kollektiewe gees van verset by die werkers laat posvat. Die Suid-Afrikaanse Industriële Federasie, spreekbuis van die werkers, het aan die begin van Januarie 1922 ’n algemene staking afgekondig, ’n gebeurtenis waarby ook die Randse Afrikaner nou betrokke geraak het, aangesien baie mynwerkers Afrikaners was. Die Eerste Minister, genl. JC Smuts, se pogings om die staking te beëindig, was onsuksesvol en sy verklaring dat die regering hom nie sou inmeng nie, maar die vegtende partye die saak sou laat uitveg, het hom as ’n onsimpatieke bemiddelaar by die stakers gebrandmerk. Etlike skikkings pogings het daarna misluk, en toe die SA Industriële Federasie vroeg in Maart nie meer deur die Kamer van Mynwese erken is nie, het ’n revolusionêre groep Kommunistiese agitators, die sogenaamde Council of Action, beheer oor die stakers verkry. Geweld het spoedig begin hoogty vier, en veral sedert 8 Maart het onluste toegeneem: die Kaapse hooflyntrein is ontspoor, motors is in strate omgekeer, swartes is aangeval en die polisie het gaandeweg die inisiatief begin verloor. Die afkondiging van krygswet het geen uitwerking op die geweldpleging gehad nie, en sake het eers ’n wending geneem nadat genl. Smuts persoonlik beheer oor die militêre magte oorgeneem het. Spoedig is toestande aan die Oos- en Wes-Rand genormaliseer, terwyl Fordsburg, die laaste vesting van die stakers, op 14 Maart verower en die staking daarmee beëindig is. Smuts se optrede het hom die wrewel van sy politieke bondgenootskap tussen die Nasionale Party en die Arbeidersparty, wat deur adv. Tielman Roos aangevoor is. Hierdie bondgenootskap het daartoe gelei dat die party wat die aspirasies van die Afrikaner verteenwoordig het, veertien jaar na sy stigting met die hulp van sy Arbeider-bondgenote aan die bewind gekom het.
1984 – Die kernkragstasie by Koeberg word operasioneel
GEBOORTES
1637 – Johan Bax van Herenthals, 7de kommandeur van die Kaap die Goeie Hoop († 29 Junie 1678)
1938 – Elsabe Steenberg, Suid-Afrikaanse skrywer († 14 Mei 1966)
Elsabe Steenberg was ’n Suid-Afrikaanse skryfster en die jonger suster van André P Brink. Hoewel Steenberg bekendheid verwerf as kinder- en jeugverhaalskrywer is haar skryfwerk nie beperk tot ’n enkele genre nie, en haar oeuvre sluit onder meer kinder- en jeugverhale, prosa vir volwassenes (kortverhale sowel as romans), dramas en vakkundige werke in. Sy het ook onder die skuilnaam Elsabé Ryke geskryf.
STERFTES
1897 – Geerhard Jacob Theodor Beelaerts van Blokland, medestigter van die Zuid-Afrikaansche Spoorweg Maatshappij en kampvegter vir die Boererepublieke (* 12 Januarie 1843)
Gerhard Jacob Theodoor Beelaerts van Blokland gebore op 12 Januarie 1843 het hom vanaf 1881 vir die saak van die Transvaalse Boere beywer by sy vriende in Nederland, Engeland en Amerika. Hy was medestigter van die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging, met die doel om belangstelling in en hulp vir die Boererepublieke wakker te hou.
1945 – Jacobus Johannes Groeneweg, vroeë skrywer van avontuurverhale, hoofsaaklik vir die jeug (* 1 Julie 1870)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.