
14 MAART
GEBEURE
1707 – Adam Tas vrygelaat
Adam Tas, ’n bekende boer van Stellenbosch aan die begin van die 18de eeu, word vrygelaat na hy vir 13 maande en 17 dae in die Kasteel aangehou is.
1895 – Die Hollandse Mannekoor in Pretoria gestig
Hierdie koor het ontwikkel uit De Hollandsche Club, wat op hierdie dag in Pretoria gestig is. Die klub het sy naam op 25 April 1895 verander in De Hollandsch Mannekoor, met ’n meer bepaalde doel: om die Hollandse taal deur sang te bevorder en daardeur die samewerking en gesellige verkeer van alle Hollanders in Pretoria te bewerkstellig. Dirk Balfoort het hom laat oorreed om as direkteur op te tree. Reeds in Augustus 1895 is die eerste uitvoering gegee. Die koor was herhaaldelik vir liefdadigheid in Pretoria diensbaar. Met Balfoort se vertrek na Europa word M de Groot die koorleier. Die koor het uit 26 werkende lede en sy direkteur bestaan en ’n foto uit 1898 bestaan van die geselskap. Tydens die Anglo-Boereoorlog is die koor se werksaamhede tydelik gestaak, maar in 1903 het hy herleef onder voorsitterskap van WJ Neijenes, later H Visscher en nog later H van Bommel. Die tienjarige bestaan is op 27 en 28 April 1905 feestelik herdenk. Die koor het ’n vaandel met bybehorende kas besit, en hierdie vaandel word tans in die Nederlands Cultuurhistorisch Instituut aan die Universiteit van Pretoria bewaar. Dirk Balfoort het ’n sangstuk, getitel Liever dood dan onderworpen vir die koor gekomponeer. Hierdie koor het in die negentigerjare van die vorige eeu ’n lewendige rol gespeel in die kultuurlewe van Pretoria.
1898 – Woolf Joel vermoor
Woolf Joel, die neef van Barney Barnato, word deur Baron Von Veltheim geskiet en vermoor omdat hy weier om te help met die ontvoering van president Paul Kruger.
1922 – Die Randse staking kom tot ’n einde
Die rampspoedige gebeurtenisse aan die Witwatersrand die eerste drie maande van 1922 het in hoofsaak gewortel in die onvermoë van laegraadse goudmyne om met produksiekoste tred te hou, terwyl die goudprys ’n dalende neiging getoon het. Die Kamer van Mynwese moes derhalwe kies tussen loonverlaging vir mynwerkers of die opheffing van die sogenaamde status quo-ooreenkoms, wat sekere werk vir blankes gereserveer het. ’n Loonverlaging kon nie die laegraadmyne red nie, en die opheffing van die status quo-ooreenkoms is dus oorweeg. Loonverlaging is terselfdertyd by steenkoolmyne en by enkele groot maatskappye ingestel, en dit het ’n kollektiewe gees van verset by die werkers laat posvat. Die Suid-Afrikaanse Industriële Federasie, spreekbuis van die werkers, het aan die begin van Januarie 1922 ’n algemene staking afgekondig, ’n gebeurtenis waarby ook die Randse Afrikaner nou betrokke geraak het, aangesien baie mynwerkers Afrikaners was. Die Eerste Minister, generaal JC Smuts, se pogings om die staking te beëindig, was onsuksesvol en sy verklaring dat die regering hom nie sou inmeng nie, maar die vegtende partye die saak sou laat uitveg, het hom as ’n onsimpatieke bemiddelaar by die stakers gebrandmerk. Etlike skikkings pogings het daarna misluk, en toe die SA Industriële Federasie vroeg in Maart nie meer deur die Kamer van Mynwese erken is nie, het ’n revolusionêre groep Kommunistiese agitators, die sogenaamde Council of Action, beheer oor die stakers verkry. Geweld het spoedig begin hoogty vier, en veral sedert 8 Maart het onluste toegeneem: die Kaapse hooflyntrein is ontspoor, motors is in strate omgekeer, swartes is aangeval en die polisie het gaandeweg die inisiatief begin verloor. Die afkondiging van krygswet het geen uitwerking op die geweldpleging gehad nie, en sake het eers ’n wending geneem nadat Smuts persoonlik beheer oor die militêre magte oorgeneem het. Spoedig is toestande aan die Oos- en Wes-Rand genormaliseer, terwyl Fordsburg, die laaste vesting van die stakers, op 14 Maart verower en die staking daarmee beëindig is. Smuts se optrede het hom die wrewel van sy politieke bondgenootskap tussen die Nasionale Party en die Arbeidersparty, wat deur advokaat Tielman Roos aangevoor is. Hierdie bondgenootskap het daartoe gelei dat die party wat die aspirasies van die Afrikaner verteenwoordig het, veertien jaar na sy stigting met die hulp van sy Arbeider-bondgenote aan die bewind gekom het.
1984 – Die kernkragstasie by Koeberg word operasioneel
GEBOORTES
1637 – Johan Bax van Herenthals, 7de kommandeur van die Kaap die Goeie Hoop († 29 Junie 1678)
Johan Bax van Herenthals, ook geskryf as Joan Bax of Van Herentals, was van 1676 die kommandeur van die Kaap die Goeie Hoop. Hy het die destydse interim goewerneur, IJsbrand Godske, opgevolg. Veeteelt het onder sy bewind floreer en hy het twee keer oorlog teen die Hottentotte verklaar.
1938 – Elsabe Steenberg, Suid-Afrikaanse skrywer († 14 Mei 1966)
Elsabe Steenberg was ’n Suid-Afrikaanse skryfster en die jonger suster van André P Brink. Hoewel Steenberg bekendheid verwerf as kinder- en jeugverhaalskrywer is haar skryfwerk nie beperk tot ’n enkele genre nie, en haar oeuvre sluit onder meer kinder- en jeugverhale, prosa vir volwassenes (kortverhale sowel as romans), dramas en vakkundige werke in. Sy het ook onder die skuilnaam Elsabé Ryke geskryf.
STERFTES
1897 – Geerhard Jacob Theodor Beelaerts van Blokland, medestigter van die Zuid-Afrikaansche Spoorweg Maatshappij en kampvegter vir die Boererepublieke (* 12 Januarie 1843)
Gerhard Jacob Theodoor Beelaerts van Blokland gebore op 12 Januarie 1843 het hom vanaf 1881 vir die saak van die Transvaalse Boere beywer by sy vriende in Nederland, Engeland en Amerika. Hy was medestigter van die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging, met die doel om belangstelling in en hulp vir die Boererepublieke wakker te hou.
1945 – Jacobus Johannes Groeneweg, skrywer (* 1 Julie 1870)
Jacobus Johannes Groeneweg was op 1 Julie 1870 te Woerden in Nederland as predikantseun gebore, die sewende van tien kinders. Sy vader is die predikant C.C.O. Groeneweg. Sy moeder vertel graag stories en dink nuwe speletjies uit en van haar erf hy waarskynlik sy kreatiewe gees. Hy bekwaam homself as onderwyser in Wiskunde en Nederlandse letterkunde in Rotterdam, asook as kunsskilder en kunsonderwyser. Hy skryf veral avontuurverhale vir die jeug wat dikwels in die oerwoudwêreld afspeel. Vele van sy boeke bevat nie net die verhaal nie, maar is ook vol inligting oor en beskrywings van volksgebruike en historiese gebeurtenisse. In sy geskrifte skryf hy vir beide die Afrikaanse kind, om hulle te vermaak en vir ontspanning, en vir die Nederlandse kind, om hulle ’n aanloklike en eksotiese beeld van Suid-Afrika en ander Afrikalande te gee.
1957 – Nicolaas Christiaan (Klasie) Havenga, staatsman (* 1 Mei 1882)
Nicolaas Christiaan (Klasie) Havenga is op 1 Mei 1882 in die distrik Fauresmith gebore. Na sy opleiding aan die Grey Universiteitskollege tree hy tot die regspraktyk toe. Vir die duur van die Anglo-Boereoorlog tree Havenga as private sekretaris vir generaal JBM Hertzog op. Hul vriendskap het na die oorlog voortgeduur, en Havenga het Hertzog se politieke vertroueling in die jare hierna geword. Havenga se eerste toetrede tot die aktiewe politiek was as LPR vir Fauresmith (1910 tot 1915) en LUK van die OVS. In 1915 word hy tot LV vir Fauresmith verkies, en hy dien as sodanig tot 1940. Van 1948 tot 1954 het hy die kiesafdeling Ladybrand in die Volksraad verteenwoordig. In die Hertzog-regering het hy die portefeulje Minister van Finansies van 1924 tot 1939 beklee, en daarna weer in doktor DF Malan se Kabinet, en wel van 1948 tot 1954. Na die oorlogsverklaring van 1939 en die mislukte herenigingspogings tussen die Hertzog-groep en die “gesuiwerde” Nasionale Party van Malan, skei NC Havenga saam met generaal Hertzog af en stig die Afrikanerparty. As ’n leier het Havenga ’n sentrale rol in die Afrikanerparty gespeel, en veral ten opsigte van ’n gematigde nasionalisme, wat die party sterk gepropageer het. Met die algemene verkiesing van 1948, het die Herenigde Nasionale Party van DF Malan en die Afrikanerparty kragte gesnoer. In 1951 het die twee partye onder die ou naam, die Nasionale Party, saamgesmelt. In 1954 het Havenga hom aan die aktiewe politiek onttrek.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
