KLASIE HAVENGA (1882-1957)
Klasie Havenga was ’n minister van finansies onder twee Suid-Afrikaanse eerste ministers.
Nicolaas Christiaan Havenga is op 1 Mei 1882 op die plaas Blesbok naby Fauresmith in die Vrystaat gebore. Hy het uit ’n stoere Afrikanerfamilie gekom en sy skoolopleiding op Koffiefontein en later aan Grey-kollege in Bloemfontein ondergaan. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het hy op 17-jarige ouderdom op kommando gegaan en aan die veldslae van Belmont, Graspan, Modderrivier en Magersfontein deelgeneem. Nadat hy genl. J.B.M. Hertzog se privaat sekretaris geword het, het hy die res van die oorlog saam met Hertzog deurgebring. Hy is op 8 Maart 1902 naby ’n plaas in die Lindley-distrik gewond en het tot aan die einde van die oorlog in die hospitaal gebly. Die latere Britse eerste minister, Sir Winston Churchill, het van Havenga gesê: “Daardie man het meer Britse lood in sy liggaam as enigiemand anders wat ek ken; hy is deurtrek van die Britse koeëls en tog koester hy geen haat teenoor ons nie.”
Ná die oorlog het hy prokureur en vennoot van die firma Olivier en Havenga geword. In 1910 het hy lid vir Fauresmith van die Vrystaatse Provinsiale Raad en lid van die Uitvoerende Komitee geword. In 1915 het hy ’n mosie voorgestel vir die erkenning van Afrikaans as amptelike landstaal tesame met Nederlands. In dieselfde jaar is hy tot Volksraadslid van Fauresmith verkies met ’n meerderheid van 72 stemme teen sy opponent van die Suid-Afrikaanse party (SAP), S.J. van der Merwe. In die verkiesing van 1920 het hy sy setel behou, en die volgende jaar het hy sy meerderheid vergroot toe hy met 961 stemme teen die SAP-kandidaat, N.F. van der Merwe gewen het. In 1924 is hy onbestrede verkies. In 1929 het N.F. van der Merwe hom weer die stryd aangesê, en hierdie keer het hy 1 692 stemme gekry teenoor Van der Merwe se 330. As kandidaat van die Nasionale Party (NP)-koalisie is Havenga in 1933 weer eens onbestrede tot parlementslid verkies. Hy het hom saam met genl. Hertzog by die Verenigde Party (VP) aangesluit en F.W. Beyers van die NP in 1938 met ’n meerderheid van 331 stemme verslaan. Dit was die laaste keer wat hy in Fauresmith gestaan het. Havenga het Hertzog in 1919 as ’n lid van die Oranje-Vrystaat in die Vryheidsdeputasie na die Vredeskonferensie in die Franse hoofstad Parys vergesel.
Toe die Pakt-regering van genl. Hertzog en die Arbeiders die bewind in 1924 by genl. Jan Smuts oorgeneem het, het Havenga minister van finansies geword. Hy het tot 1939 in hierdie amp aangebly en daarna weer van 1948 tot 1954, met dr. D.F. Malan as eerste minister. Op 4 September 1939 het hy uit die kabinet bedank nadat die Volksraad genl. Hertzog se mosie om neutraal te bly met die Tweede Wêreldoorlog met 80 stemme teenoor 67 verslaan het. Hy en al die voormalige NP-lede het uit die kabinet bedank en hulle by dr. Malan aangesluit. In 1940 het Havenga egter uit die NP bedank en die Afrikanerparty gestig. Na genl. Hertzog se dood in 1942 het Havenga, ’n voorstander van gematigde nasionalisme, die leier van die party geword, maar in die algemene verkiesing van 1943 het Havenga slegs derde in die Frankfort-kiesafdeling gekom.
Ná die Tweede Wêreldoorlog het Havenga en dr. Malan hulle vir Afrikanereenheid beywer. Die NP en die Afrikanerparty het ooreengekom om nie mekaar se kandidate in die 1948-verkiesing teen te staan nie. Havenga het die Ladybrand-kiesafdeling gewen, met 5 096 stemme teenoor die 2 485 stemme van J.J. Fourie van die Verenigde Party. Havenga het weer minister van finansies geword nadat die Nasionale Party en die Afrikanerparty saamgesmelt het. Dit was nadat Havenga deur dr. Malan oorreed is om die bruin kiesers op die algemene kieserslys op ’n afsonderlike lys te plaas. Havenga het die Kleurlinge as deel van die Afrikaners beskou en, soos genl. Hertzog wou hy hulle nie van die algemene kieserslys verwyder nie. In 1954 het dr. Malan bedank; hy wou gehad het dat Havenga hom moes opvolg, maar adv. J.G. Strijdom is as eerste minister aangewys. Havenga het uit die Volksraad bedank en die politiek verlaat. Hy was die laaste kabinetsminister wat in die Anglo-Boereoorlog geveg het.
Ná sy politieke loopbaan het hy hom op landbou en grondbewaring toegespits. Op die plaas Allanvalee in die Memel-distrik wat voorheen aan genl. Christiaan de Wet behoort het, het hy ’n stoet renperde en ’n kudde Friesbeeste aangehou. Buiten sy ander bedrywighede was hy voorsitter van die direksie van die dagblad Die Vaderland. Nadat hy uit die politiek bedank het, het hy direkteur geword van Barclays Bank D.C.O., waarmee die ou Nasionale Bank van die Oranje-Vrystaat, gestig deur oudpresident Jan Brand, in 1877 saamgesmelt het. Twee eredoktorsgrade is aan hom toegeken; in 1937 deur die Universiteit van Cambridge en in 1951 deur die Universiteit van die Oranje-Vrystaat.
As politikus en staatsfinansier het hy bekendheid verwerf vir sy standvastigheid, instinktiewe vermoë om die wesenlike raak te sien en vir sy weldeurdagte konserwatisme. Toe hy minister van finansies geword het, was daar ’n begrotingstekort, maar hy het dit gou uitgewis. Tydens die Groot Depressie van 1931 tot 1933 het hy weer begrotingstekorte in die gesig gestaar maar hy het nie gehuiwer om ingrypende en ongewilde stappe te doen om die Unie van Suid-Afrika se geldelike toestand te verbeter nie. Tydens sy 22 jaar as minister van finansies kon hy, op enkele uitsonderings na, altyd ’n oorskot toon, soms ’n aansienlike een. Hy het dit gebruik om die land se kapitale posisie te versterk.
In 1925 het hy tegelyk twee groot take onderneem, naamlik die invoer van ’n beskermingsbeleid vir die nywerheid en ’n nuwe stelsel vir finansiële verhoudinge tussen die provinsies en die sentrale regering. Ná sy dood het adv. Strijdom van hom gesê: “Die groot nywerheidsontwikkeling wat ons vandag in Suid-Afrika geniet, kan beskou word as ’n monument wat altyd daar sal wees om ons aan hom te herinner.” In 1926 het hy ’n fonds begin om die staatskuld binne veertig jaar te delg. Deur gereeld geldoorskotte in die fonds te stort, kon hy hierdie doel feitlik heeltemal bereik toe hy in 1939 vir die eerste keer bedank het. Tydens hierdie tydperk het hy ook die skuld op die staatspensioenfondse grootliks verminder.
Saam met F.W. Beyers het hy ’n groot rol gespeel in die grondlegging van Suid-Afrika se staalbedryf. In 1931 en 1932 was hy ’n groot teenstander van die beweging om afstand van die goudstandaard te doen. Vir hom was dit ’n beginselsaak dat ’n land nie moes weier om sy skuld te delg as hy daartoe in staat was nie. Daarom het hy oorlogskuld aan die Verenigde Koninkryk terugbetaal toe daar baie ander lande was wat voordeel getrek het uit ’n moratorium wat later tot die afskryf van hul skuld gelei het.
Havenga het deelgeneem aan drie Ryks- en Statebondskonferensies, aan die Ottawa-konferensie in 1932 en die Wêreld-Ekonomiese Konferensie van 1933, asook ’n aantal jaarvergaderings van die Wêreldbank en die Monetêre Fonds. Sy nederigheid, matigheid en realistiese beskouing is deur sy kollegas op hierdie konferensies hoog op prys gestel.
In 1946 het Havenga hom bereid verklaar om jaarliks £50 aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns te skenk as prys vir ’n kandidaat vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegniese gebied. Ná sy dood het hy R4 000 aan die Akademie bemaak vir hierdie doel.
Hy was twee keer getroud, eers met Elisabeth Benyon Sanders in 1907, en ná haar dood met haar suster Olive Sanders. Geen kinders is uit enige van hierdie huwelike gebore nie.
Hy is op 14 Maart 1957 in die ouderdom van 74 jaar oorlede.
Daantjie Badenhorst
