15 FEBRUARIE

GEBEURE

1743 – Die Politieke Raad besluit om meer kerke aan die Kaap op te rig

Baron van Imhoff, besoekende goewerneur-generaal van Oos-Indië, het as voorsitter opgetree by die vergadering van die Politieke Raad op hierdie dag. Hy het sy kommer uitgespreek oor die onkunde op godsdienstige gebied wat hy op sy kort reis in die binneland teengekom het. Baie mense het reeds meer as drie dagreise van die kerke van Stellenbosch en Drakenstein gewoon, sodat meer kerke en beter onderwys op die platteland ’n dringende vereiste geword het. Daar is besluit dat nog twee kerke gebou word en nog twee predikante na die Kaap sou kom. Die predikante van die VOC was in hierdie jare betaalde amptenare van die VOC. Dit is opvallend dat die VOC, wat uitsluitend ’n handelsliggaam was, ook sake betreffende die godsdiens aan die Kaap gereël het en so verantwoordelik was vir die vestiging van die Calvinistiese godsdiens aan die suidpunt van Afrika.

1839 – Uitleg van die derde Voortrekkerdorp, Pietermaritzburg

Die regulasies vir die uitleg van die derde Voortrekkerdorp, Pietermaritzburg – die eerste in Natal – is op hierdie dag in 1839 gedateer. Dit was digby die laer van kmdt. Greyling, en het in Oktober 1838 reeds besluit dat ’n dorp op daardie plek aangelê moet word. Dit is ter herinnering van Pieter Retief en Gerrit Maritz as Natalse Trekkers so genoem. Vroeër was dit as Stinkhoutrand bekend. Die inwoners het besonder spoedig tuin gemaak en water verskaf en ook huise in onder meer Kerk-, Berg- en Retiefstraat gebou. Dit was ’n welkome verandering na al die maande waarin die Natallers in walaers moes leef en na die ellende van die hele 1838 en na die eerste onsekerheid vandat Dingaan in Desember 1838 volledig verslaan is.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Roodekalkfontein; Watervaldrif, Bloubank, OVS

1900 – Anglo-Boereoorlog: Die Beleg van Kimberley eindig

Die beleg van die diamantryke Kimberley deur magte van die Boererepublieke van die Oranje-Vrystaat en Transvaal wat net ná die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog begin het, is op 15 Februarie 1900 ná vier maande beëindig. Die Boere het die besette gebied as deel van die republieke beskou, die naam van die nabygeleë Barkly-Wes na Nieu Boshof verander en ’n landdros aangestel. ’n Britse divisie onder genl. John French wat deel was van ’n groter mag van lord Roberts het die beleg beëindig. Kimberley het daardie tyd 20 000 inwoners gehad en Cecil John Rhodes het inwoners in ’n boodskap aangeraai om tydens aanvalle in die myn te gaan skuil. Hy het gereël vir sopkoepons en het self in die luukse Sanatorium-hotel gebly, waar die McGregor-museum vandag staan.

1976 – Die eerste studente vir die nagraadse diploma in Museumkunde aan die Universiteit van Pretoria word geregistreer

Die Raad van die Universiteit van Pretoria en die Departement Nasionale Opvoeding het die instelling van ’n nagraadse diplomakursus in Museumkunde aan die Universiteit goedgekeur met ingang van 1976. Dit was die verwesenliking van ’n ideaal wat lank reeds deur kultuurleiers gekoester is. In die lig van die toenemende belangstelling in en die uitbreiding van die museumwese dwarsdeur die land, en ook die oplewering in bewaringsbewuste wat tans oral sigbaar word, was dit inderdaad ’n voorwaartse stap om te verseker dat die natuur-, kuns- en kultuurhistoriese erfenis van die volk deur opgeleide en akademies geskoolde museumkundiges op wetenskaplike wyse vir die nageslag bewaar word.

 

GEBOORTES

1819 – Jacobus Hendrik Hatting, vegter by die Slag van Bloedrivier en skrywer van ’n vroeë geskiedenis van die Voortrekkers († 1897)

Jacobus Hendrik Hatting verlaat die Kaapkolonie in 1836 saam met die Groot Trek. Hy neem deel aan die Slag by Bloedrivier, waarna hy hom in 1838 op die plaas Dageraad in die distrik Utrecht vestig. Hatting het in 1893 sy Groot Trek herinneringe, onder meer sy deelname aan die Slag by Bloedrivier en die beleg van Port Natal (1842), opgeteken in die boekie, De Geschiedenis van de Hollandsch-Afrikaansche Boeren vanaf hun vertrek uit die Kaapkolonie tot op die aftreding van president Burgers. In 1896 het hy die grafte van Piet Retief en sy geselskap aangedui. Hy is op 18 Junie 1897 op sy plaas oorlede.

1853 – Alfred Beit, medestigter van De Beers Mining Company en Suid-Rhodesië († 16 Julie 1906)

Alfred Beit was ’n Brits-Suid-Afrikaanse goud- en diamantemagnaat van Duitse afkoms. Sir Otto Beit was sy broer. Beit is in ’n welgestelde Hamburgse koopmansfamilie van Joodse afkoms gebore, wat die Christengeloof aangeneem het, en het in 1875 na Suid-Afrika geëmigreer.

1854 – JD Kestell, predikant, skrywer, Bybelvertaler († 9 Februarie 1941)

John Daniël Kestell is op Pietermaritzburg gebore. Hy het sy opleiding as teoloog op Stellenbosch en in Nederland ontvang, waarna hy agtereenvolgens die NG gemeentes Kimberley, Harrismith, Ficksburg en Bloemfontein bedien het. Gedurende die Anglo-Boereoorlog vorm hy saam met pres. Steyn en genl. De Wet die vermaarde driemanskap – kerkman, staatsman en krygsman. Leier by uitnemendheid, beklee hy by drie agtereenvolgende sittings van die Sinode van die NG Kerk die amp van Moderator. In 1919 aanvaar hy die redakteurskap van De Kerkbode. Op 65-jarige leeftyd word hy Rektor van die destydse GUK – ’n unieke onderskeiding! “As Rektor het hy vir hom as ideaal gestel om aan die GUK ’n eie karakter te gee, nl. wat eie is aan die Vrystaat en sy mense, d.w.s. Christen-Afrikanerskap, en om die inrigting so gou moontlik tot ’n selfstandige universiteit te voer.” (Prof. MCE van Schoor) Vader Kestell, die beminlike, pragtige mens, was Vrystater tot in sy voetsole en gelowige vaderlander in murg en been. In So onthou ek hom prys DF Malherbe “sy blymoedige, gelowende hart, sin vir humor, liefdevolle begrip van ander, klein of groot, sy ewewigtigheid, sy sagte, vergewende oordeel, sy vroomheid, getemper deur nugtere insig, die groot omvang van sy belangstelling, sy innige liefde vir die medemens – kortom, Christenmens van die hoogste orde”. Die naam van sy huis was Ruimte, en die boodskap van sy lewe skep ruimte in die gees van sy volksgenote – dankbare volksgenote wat hulle ekonomiese opheffing in ’n groot mate aan die reddingsdaad-aksie van Vader Kestell te danke het. Hy is oorlede op 9 Februarie 1941 en begrawe aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein.

1919 – Vader Frans Claerhout, priester en skilder († 4 Julie 2006)

Frans Claerhout was ’n Rooms-Katolieke priester en skilder, gebore te Pittem, België, wat van 1946 in Suid-Afrika woonagtig was. Hy was die hoof van die Sint Francis Missie te Thaba Nchu. Sy skilderye is gewild in Duitsland, België, Kanada, Verenigde State en die Verenigde Koninkryk.

 

STERFTES

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

Frikkie Wallis Facebook

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/