JD KESTELL (1854-1941)

Dr. JD Kestell, ook bekend as Vader Kestell, was ’n predikant in die Nederduits Gereformeerde Kerk, skrywer, kultuurleier en Bybelvertaler.

John Daniel Kestell was die vyfde van ses kinders en is op 15 Februarie 1854 in Pietermaritzburg gebore. Sy pa, Charles Kestell, was van Walliese herkoms terwyl sy ma, Dorothea Louisa Weyer, Afrikaanssprekend was. Charles het in 1845 met die skip Rosebud na Suid-Afrika gekom en hom in Pietermaritzburg gevestig. Hy het hom by die NG kerk aangesluit en as ouderling en diaken gedien. Toe John vier jaar oud was, is sy ma oorlede en sy pa is weer getroud. As kind het hy talle van die Voortrekkers ontmoet, onder wie Sarel Cilliers, JN Boshoff en Erasmus Smit. In 1869 het hy sy eerste lesse in Grieks ontvang. Die volgende jaar het hy die skool verlaat en op 6 Oktober 1870 het hy by P Maré begin werk. In hierdie tyd is diamante in Griekwaland-Wes ontdek en op 17 Mei 1871 het hy saam met sy pa na die diamantkleims by New Rush vertrek, waar hulle genoeg verdien het om aan die lewe te bly en ’n bietjie te spaar. Hulle het die kleim ’n jaar en ’n half later verkoop en in Januarie 1873 na Pietermaritzburg teruggekeer.

Hy het van Maart 1873 aan die Stellenbosch Gimnasium gestudeer en in 1875 matriek voltooi. Hy het in 1874 tot bekering gekom en op 6 Februarie daardie jaar aangeteken dat hy ’n predikant wou word. Na skool het hy hom by die Kweekskool in Stellenbosch, waar proff. NJ Hofmeyr en John Murray hoogleraars was, ingeskryf. Intussen het sy pa groot finansiële terugslae gely met transportry na plekke soos Durban, Pretoria, Middelburg (Mpumalanga) en Bloemfontein. In 1876 het sy pa osse op skuld gekoop om ’n vrag na Middelburg te vervoer, maar onderweg het die weerlig die meeste van daardie osse doodgeslaan. Hierna is hy verplig om John te laat weet dat dit nie meer vir hom moontlik was om hom geldelik te ondersteun nie. Ds. Abraham van Velden, die predikant in Pietermaritzburg, het daarna £40 by sy lidmate ingesamel om hom te help. Tydens sy studie op Stellenbosch kon John nooit bekostig om huis toe te gaan nie en daarom het hy sy vakansietye saam met vriende deurgebring. In September 1878 kon hy vir die eerste keer in meer as vyf jaar huis toe gaan nadat sy pa genoeg geld gespaar het om dit te bewerkstellig. Hy kon ’n maand tuis deurbring voordat hy teruggegaan het na Stellenbosch.

Op 15 Desember 1877 het hy verloof geraak aan Truida Hofmeyr, die dogter van prof. NJ Hofmeyr. Deur sy huwelik het hy die swaer geword van drie NG-predikante, naamlik di. Nicolaas Hofmeyr, Jan Hofmeyr en Adriaan Hofmeyr. In September 1880 het hy na Europa vertrek om sy teologiese studie voort te sit. Hy het in die Nederlandse stad Utrecht onder prof. Nicolaas Beets gestudeer. Hy het privaat lesse in Frans geneem; hy het die taal vlot leer praat en sy kennis van Grieks en Hebreeus het gemaak dat hy altesaam vyf tale magtig was. In Augustus 1881 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en sy studie aan die kweekskool voortgesit. Hy is in Oktober as predikant van die NG Kerk bevestig.

Nadat hy ’n beroep na Lindley in die Vrystaat bedank het, is hy in 1881 as hulppredikant van die NG-gemeente Dutoitspan aan die diamantvelde van Kimberley bevestig. Hy is in 1882 met Truida Hofmeyr getroud en ’n maand later, op 25 Maart, as predikant van die NG-gemeente op Kimberley bevestig. Die lot van die kinders en vroue van die delwerye het hom en sy vrou só aangegryp dat hulle die Newton-tehuis gestig het om hulp te verleen. Tydens die Anglo-Boereoorlog het hy as kapelaan en veldprediker van die Harrismith-kommando gedien. Omdat die Engelse hom en sy gesin verbied het om die pastorie op Harrismith te bewoon, het sy vrou en kinders tydens die oorlog by familie in Pietermaritzburg gewoon terwyl sy vyftienjarige seun, Charles, hom na die slagveld vergesel het. In Junie 1901 het die Engelse hom saam met ander Boere gevange geneem en hulle in ’n kraal by Graspan naby Reitz aangehou. Dieselfde middag het ’n aantal boere hulle na ’n hewige geveg bevry. Sy seun Charles is in Oktober 1901 gevange geneem en as krygsgevangene op Ladysmith oorlede. As sekretaris van die Boeremagte het ds. Kestell ’n belangrike rol tydens die vredesonderhandelinge gespeel en die amptelike notule geskryf vir die onderhandelings wat op die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 uitgeloop het.

In Februarie 1903 is Kestell na die NG-gemeente Ficksburg beroep. Reeds ’n paar maande na sy bevestiging het ds. Kestell hom beywer vir die bou van ’n nuwe kerkgebou en op die gemeentevergadering van 25 Julie 1903 is daar besluit dat ’n monument ter nagedagtenis aan die gesneuweldes van die Anglo-Boereoorlog die vorm van ’n kerk sou wees. Die kerk, waarvan ds. Kestell mede-argitek was, is op 12 April 1907 ingewy en ds. Kestell se skoonpa, ds. NJ Hofmeyr het die wydingsdiens op daardie dag waargeneem.

In Junie 1912 het ds. Kestell en sy gesin Ficksburg verlaat toe hy na die Tweetoringkerk in Bloemfontein beroep is. Hy is in 1909 vir die eerste keer tot Vrystaatse moderator van die NG Kerk verkies, en daarna weer in 1912 en 1916. Op 16 Desember 1913 was hy een van die sprekers tydens die amptelike inwyding van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein. In 1911 is hy verkies tot voorsitter van die Raad der Kerke, ’n voorloper van die algemene sinode. Met die Rebellie van 1914 was daar ’n groot meningsverskil in feitlik elke gemeente en die kerk het gedreig om te skeur. Ds. Kestell het egter daarin geslaag om met groot wysheid op ’n konferensie van predikante op 27 Januarie 1915 en weer op die sinode van April 1915 die situasie te ontlont. In Maart 1915 was hy die medestigter van die Helpmekaar-beweging wat geld ingesamel het vir die borgtog van die leiers van die gewapende opstand teen die Unieregering se inval in Duitswes-Afrika. Op 3 Desember 1916 het hy die begrafnisdiens van pres. Steyn by die Vrouemonument gelei. Hy het gehelp met die insameling van geld vir die weeskinders van die Vrystaat na die groot griepepidemie van 1918, wat gelei het tot die stigting van Ons Kinderhuis in Bloemfontein.

In 1907 is ds. Kestell aangestel as redakteur van De Fakkel, ’n orgaan van die NG Kerk wat later met Die Kerkbode saamgesmelt het. Op 13 Januarie 1919 het hy afskeid van sy gemeente geneem en na Kaapstad vertrek om sy nuwe amp te beklee. In Oktober 1920 het hy na Bloemfontein teruggekeer toe hy as rektor van die Grey-Universiteitskollege aangestel is. Hy het hier ook as professor en hoogleraar in vaderlandse geskiedenis opgetree. Onder sy leiding het die universiteit ’n groot bemarkingsveldtog, waaraan hy self deelgeneem het, van stapel gestuur en waardeur die universiteitskollege gesonde groei getoon het. In Augustus 1925 wou hy die rektorskap bedank, maar die raad wou dit nie aanvaar nie en hy het eers in 1927 uit hierdie amp getree.

Hy het hom vroeg reeds aan die kant van Afrikaans in die stryd teen Nederlands geskaar en in Junie 1909 was hy een van die stigterslede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. Die Stellenbosse tak van die Afrikaanse Taalvereniging het hom genooi om op 22 Oktober 1909 ’n lesing te hou waarin hy gepraat het oor “Die uitdrukkingsvermoë van die Afrikaanse taal.” Toe hy in 1920 die rektorskap van die Grey-Universiteitskollege oorgeneem het, het hy ’n lesing oor Afrikaans as medium op universiteitskolleges gehou om die studente aan te moedig om die amptelike erkenning van Afrikaans as onderrigtaal prakties toe te pas.

In 1916 het die Vrystaatse sinode van die NG kerk besluit om Afrikaans amptelik te erken en die Bybel in Afrikaans te vertaal. Die Bybelvertalingskommissie is in samewerking van die Gereformeerde Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk saamgestel. Ds. Kestell was die voorsitter van hierdie kommissie wat die vertalers moes aanstel. Hul taak was om die Nederlandse Statenbijbel in Afrikaans te vertaal, maar hierdie poging het misluk en daar was te veel besware teen die vertaalproewe. Hierna het die Sinode van die NG Kerk ds. Kestell in 1923 aangewys as voorsitter van die Bybelvertalingskommissie om die Bybel uit die oorspronklike Grieks en Hebreeus te vertaal. In hierdie hoedanigheid was hy medeverantwoordelik vir die eerste Bybelvertaling in Afrikaans. Aanvanklik was Totius en prof. BB Keet as eindvertalers aangewys maar nadat die Universiteit van Stellenbosch geweier het om prof. Keet van sy normale pligte vry te stel, is ds. Kestell in sy plek as eindvertaler aangewys. Nog drie vertalers, HCM Fourie, EE van Rooyen en BB Keet, wat later wel toestemming by die Universiteit van Stellenbosch gekry het, is later aangewys om hulle in hierdie taak by te staan. Ds. Kestell was hoofsaaklik verantwoordelik vir die vertaling van die Nuwe Testament, wat hy reeds in November 1926 voltooi het. In Augustus 1933 was die eerste gedrukte Bybels in Afrikaans beskikbaar.

Ds. Kestell was ’n gewilde spreker by openbare geleenthede en tydens die Volks-en-Geloftefeesviering op 16 Desember 1929 het hy oor die betekenis van Geloftedag en die rol van die vrou tydens die Groot Trek gepraat. Op 17 Februarie 1938 het hy tydens die Blaauwkrantz-eeufees ’n ernstige pleidooi gelewer dat die Afrikaner sy volksgenote moes help. Hy het dit op 16 Maart 1938 met ’n soortgelyke pleidooi in Bloemfontein opgevolg. Hy was die dryfkrag agter die stigting van die Reddingsdaadbond in 1938, wat armblankes sou ophef. Hierdie bond het aanvanklik onder leiding van dr. Nic Diederichs, latere minister van finansies en staatspresident, gestaan. Toe die hoeksteen van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1938 gelê is, was ds. Kestell ’n eregas. Die Voortrekkerbeweging het in September 1940 die orde van die Vriend van die Voortrekkers aan hom toegeken.

Op Sondag 9 Februarie 1941 is ds. Kestell in die ouderdom van 86 jaar in sy huis in Bloemfontein aan asma oorlede. Hy is saam met pres. MT Steyn en genl. Christiaan de Wet, wat medelede van die Vrystaatse Driemanskap was, by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein begrawe. Die dorp Kestell in die Vrystaat is in 1905 gestig en na hom vernoem.

Daantjie Badenhorst