15 NOVEMBER
GEBEURE
1855 – MW Pretorius word “provisionele” staatspresident van die ZAR
Transvaalse leiers het geglo dat ’n nuwe grondwet die verdeeldheid wat gedurende die vroeë vyftigerjare van die vorige eeu in die Oorvaalse gebied geheers het, sou beëindig, en daarom is ’n grondwetkommissie, onder voorsitterskap van Jacobus Stuart (1803–1878), benoem. Hierdie kommissie, wat in Oktober 1855 op Potchefstroom vergader het, het hoofsaaklik die Bataafse konstitusie van 1798, die Vrystaatse grondwet en die grondwet van die Verenigde State van Amerika as modelle geneem en ’n konsepgrondwet opgestel waarin die beginsel van skeiding van wetgewende en uitvoerende magte ingevoer is. As opsteller van hierdie grondwet, wat later byna onveranderd aanvaar is, het Stuart ’n blywende diens aan die Zuid-Afrikaansche Republiek gelewer. Op 9 November 1855 het die Volksraad vergader om die mening van die krygsoffisiere omtrent die konsepgrondwet te verneem. Oor die algemeen was daar nie veel besware teen die wet as sodanig nie, maar daar was wel verskil van mening oor die manier waarop dit goedgekeur en toegepas sou word. Kommandant-generaal Stephanus Schoeman het naamlik gemeen dat die konsepgrondwet volgens vroeëre gebruik vir drie maande aan die publiek voorgehou moet word voordat dit aangeneem en van krag sou word. Omdat die Volksraad nie Schoeman en sy Soutpansbergers van die res van die Republiek wou vervreem nie, is ’n kompromis getref en is MW Pretorius op 15 November 1855 tot “provisionele” staatspresident verkies. As gevolg van later teenkanting teen die konsepgrondwet, is MW Pretorius eers op 6 Januarie 1857 as volwaardige eerste Staatspresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek beëindig.
1899 – Anglo-Boereoorlog: Chamberlain gevange geneem
Op 15 November 1899 het die Boeremagte ’n trein met Britse magte wat van Estcourt af gery het in die suide van Natal voorgelê. Vier Britte is doodgeskiet, 34 gewond en 69 gevange geneem. Een van hulle was die 28-jarige Winston Churchill wat die oorlogkorrespondent van The Morning Post was. Bietjie minder as ’n maand later, op 12 Desember, het hy in Pretoria ontsnap toe van sy medegevangenes die aandag van wagte afgelei het.
1911 – Die Unie-Staalkorporasie van Suid-Afrika gestig
Die Unie-Staalkorporasie van Suid-Afrika is gestig met die doel om staal uit skroot te vervaardig. Binne twee jaar is die eerste staal in SA vervaardig en baan USCO sodoende die weg vir ’n gevestigde staalbedryf wat in die jare wat sou kom, vir SA groot aansien in die oë van die wêreld verwerf.
1914 – Afrikanerrebellie
Christiaan de Wet en sy oorblywende volgelinge bereik die Sandrivier noord van Winburg waar die botsing op 8 November plaasgevind het.
GEBOORTES
1783 – Augusta de Mist, dagboekskrywer († 5 Maart 1832)
Jonkvrou Julie Philippe Augusta de Mist is in Kempen, Nederland, as die jongste van tien kinders gebore. Toe kommissaris-generaal De Mist in 1803 na die Kaap gekom het om die oordrag van die Kaap van Brittanje te aanvaar en ’n nuwe bewind daar te stel, het jonkvrou Augusta de Mist, wat toe 18 jaar oud was, hom vergesel. Sy het ’n lang reis die afgesonderde binneland in meegemaak. Haar indrukke en wedervarings op hierdie reis het sy in ’n dagboek opgeteken, wat later in ’n Nederlandse vrouetydskrif gepubliseer is. Die bekende reisiger Lichtenstein, wat as medikus die reis meegemaak het, vertel dat Augusta de Mist ’n buitengewone jong meisie was met ’n sterk wil en vasberadenheid, by haar innemende geaardheid en vroulike voorkoms. Volgens haar portret, was sy ’n aantreklike meisie met fynbesnede gelaatstrekke. Die dagboek van Augusta de Mist word as ’n waardevolle kultuurhistoriese dokument beskou. Veral wat die uitbeelding van die pionierslewe aan die Kaap aan die begin van die 19de eeu betref. Augusta de Mist is in 1805 met haar vader terug na Nederland, waar sy in 1809 met baron Anton de Howen getroud is. Sy is op 5 Maart 1832 in Nijmegen, Nederland, oorlede.
STERFTES
1815 – Louis Thibault, argitek (* 28 September 1750)
Louis Michel Thibault, die eerste erkende argitek aan die Kaap, is in 1750 op Picquigny, naby Amiens, in Frankryk, gebore en het aan die Koninklike Akademie in Parys gestudeer. Daarna is hy in die militêre diens as ingenieur opgelei en in 1782 met sy regiment na die Kaap gestuur. Daar was hy vir dosyne militêre planne, opmetings en ontwerpe van geboue verantwoordelik. Toe hy in Kaapstad oorlede is, was hy Rooymeester of Stadsargitek van Kaapstad. Hy het die plaaslike, onontwikkelde boustyl geklee in die klassisisme waarin hy opgelei is en ’n onuitwisbare stempel op die ontwikkeling van die Kaaps-Hollandse argitektuur afgedruk. Van die bekendste geboue wat aan hom toegeskryf word, is die Koopmans-De Wet-huis, Saasveld in Franschhoek, die wynkelder by Groot Constantia en die balkon van die Kat in die Kasteel.
1925 – Adriaan Jacob Begemann, predikant en bibliotekaris (* 15 Junie 1831)
Ds. Adriaan Jacob Begemann was predikant in die Nederduitsch Hervormde Kerk en bibliotekaris.
2001 – Jan Rabie, skrywer (* 14 November 1920)
Jan Rabie was ’n skrywer van Afrikaanse romans, kortverhale en ander letterkundige werke en ’n invloedryke lid van die Sestigers-beweging.
Jan Sebastian Rabie is naby George gebore en het nie ’n goeie verhouding met sy streng militaristiese pa gehad nie. Hy het in 1936 aan die Hoërskool Riversdal gematrikuleer waarna hy aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer het. In 1939 het hy die BA-graad met Aardrykskunde en Geskiedenis as hoofvakke behaal. Hy het Engels op eerstejaarsvlak geneem en Nederlands op tweedejaarsvlak.
Van 1941 af het hy onderwys gegee, maar omdat die Tweede Wêreldoorlog destyds plaasgevind het, het hy die volgende jaar tydelike poste beklee waar dit ook al beskikbaar was. In 1943 het hy deeltyds aan die Universiteit van Suid-Afrika gestudeer en Engels II en Nederlands die volgende jaar behaal. Hierdie verdere kwalifikasies het hom in staat gestel om nagraadse studie in die letterkunde te volg. In 1945 het hy na Stellenbosch teruggekeer en teen die einde van daardie jaar sy MA-graad in Afrikaans en Nederlands behaal.
In 1948 het hy na Europa vertrek om meer van letterkunde te leer en hoewel hy ’n karige bestaan met los werkies gevoer het, het hy gereeld bydraes vir Suid-Afrikaanse tydskrifte vir ’n inkomste gelewer. In November daardie jaar het hy die Skotse skilder Marjorie Wallace ontmoet en ’n ernstige verhouding met haar aangeknoop. Hulle is in 1955 getroud.
In 1970 het hulle op Onrus naby Hermanus gaan woon en voltyds geskryf en geskilder. Hy is op 15 November 2001 in die ouderdom van 81 jaar oorlede, drie jaar nadat hy ’n ligte beroerteaanval gekry het.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.