JAN RABIE (1920-2001)

Jan Rabie was ’n Afrikaanse skrywer van romans, kortverhale en ander literêre werke.

Jan Sebastiaan Rabie is op 14 November 1920 in Rondevlei naby George gebore. Hy was een van agt kinders; vyf seuns en drie dogters. Jan het dwarsdeur sy lewe nie ’n goeie verhouding met sy streng militaristiese pa gehad nie. In 1921 het die gesin na Stellenbosch verhuis waar sy pa verder in die onderwys gestudeer het. Twee jaar later het hulle na die Paarl verhuis, waar sy pa hoof en inwonende koshuishoof by die Engels-medium Klein Drakenstein-skool in Dal Josafat was. In 1926 het sy pa ’n aanstelling as hoof van ’n driemanskool op die plaas Riethuiskraal naby Riversdal aanvaar. Hier het Jan begin skoolgaan, en sy pa het in 1947 hier afgetree. Die gesin het aan die oewer van die Kafferkuilsrivier gewoon.

Vanaf 1933 het Jan aan die Hoërskool Riversdal begin skoolgaan en in 1936 daar gematrikuleer. Hy was vanaf 1937 ’n student aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy in die koshuis Wilgenhof gewoon het. In 1939 het hy sy BA-graad behaal, met Geskiedenis en Aardrykskunde op eerstejaarsvlak en Nederlands op tweedejaarsvlak. In 1939 was hy ’n redaksielid van Die Stellenbosse Student. Onder sy medestudente was Audrey Blignault, WA de Klerk, FA Venter en Ernst van Heerden. In 1940 het hy die Sekondêre Onderwysdiploma verwerf.

In 1941 het hy onderwys begin gee. Omdat die Tweede Wêreldoorlog op daardie stadium plaasgevind het, was daar meer onderwysers as poste; gevolglik moes hy die volgende paar jaar tydelike poste by veral laerskole beklee waar dit ook al beskikbaar was. Hy het in hierdie omstandighede van September 1941 tot Mei 1942 by ’n plaasskool naby Ruigtevlei tussen Wildernis en Sedgefield en in die laaste kwartaal van 1942 by Langfontein, wes van Gouritsriviermond en naby Riethuiskraal, waargeneem. In 1943 het hy ’n tyd lank by die hoërskool op Jamestown klasgegee en die jaar daarna het hy Afrikaans en Aardrykskunde onderrig aan ’n onderwyskollege by Clarkesbury naby Umtata. Hy het reeds van 1943 af deeltyds aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) gestudeer en Engels II en Nederlands in 1944 behaal. Hierdie verdere kwalifikasie het hom in staat gestel om nagraadse studie in die letterkunde te volg; in 1945 het hy na die Universiteit van Stellenbosch teruggekeer en die MA-graad in Afrikaans en Nederlands aan die einde van daardie jaar verwerf. Ina Rousseau, HW Truter en Berta Smit was onder sy medestudente en weer eens het hy op die redaksie van die Stellenbosse Student gedien.

In 1946 het hy eers in Simonstad gewoon, waar hy vele bydraes vir die tydskrifte Die Naweek en Huisgenoot gelewer het. Hy het sommige oggende per trein na Kaapstad gereis om sy bydraes self af te lewer; só het hy ’n jong Elsa Joubert by Huisgenoot ontmoet. Dit het gemaak dat sy hom aan DJ Opperman voorgestel het. Vanaf Augustus 1946 het hy in Johannesburg gewoon en voltyds begin skryf. In hierdie tyd het hy met Peter Blum kennis gemaak en ’n tyd lank ’n kamer met Bartho Smit gedeel. In 1947 het hy ’n lang reis deur KwaZulu-Natal onderneem om materiaal vir ’n reisboek, wat later as Groen reise gepubliseer is, bymekaar te maak. In die tweede semester van daardie jaar het hy as onderwyser op Riethuiskraal waargeneem terwyl sy pa met siekverlof was, en aan die einde van die jaar het hy teruggekeer na Johannesburg. In Februarie 1948 het hy weer na Stellenbosch teruggekeer met die vaste voorneme om oorsee te gaan en meer van letterkunde te leer.

Op 4 April 1948 het hy met net £ 150 in sy sak aan boord van die Indrapoera na Europa vertrek; hy het eers ’n week lank in Londen vertoef en daarna verder na Parys gereis. Met Parys as basis het hy lande soos Nederland, België, Duitsland, Spanje, Switserland en Oostenryk besoek. Hy het geleer om Frans, Duits, Spaans en Italiaans te praat en Engelse letterkunde uitvoerig gelees om hom ’n goeie basis in klassieke letterkunde te gee en hom aan insigte in moderne letterkunde bloot te stel. Hy het ’n karige bestaan gevoer deur los werkies te doen, soos om moltreine te vee, as model te poseer, koerante te verpak en biljette op te plak, maar die geleentheid gekry om gereeld te skryf. Sy gereelde bydraes tot Suid-Afrikaanse tydskrifte het hom ’n bykomende inkomste besorg. Nadat die uitgewer Nasionale Pers sy roman Helgard van die hel vir publikasie afgekeur het, het hy voorlopig slegs in Engels begin skryf, veral om finansiële redes, maar hy het sy voorneme om net in Engels te skryf, gou verbreek. In hierdie tyd het sommige van sy korter prosawerke in Tydskrif vir Letterkunde, onder redaksie van CM van den Heever, verskyn. Talle daarvan het later in verwerkte vorm in die bundel Een en Twintig voorgekom. De Gids in Nederland het ook van hierdie werke gepubliseer. Dergelike bydraes wat hy aan Standpunte, onder redaksie van DJ Opperman, gestuur het, is afgekeur sonder dat redes daarvoor gegee is.

Op 27-jarige ouderdom het Jan sy maagdelikheid verloor met ’n Franse meisie wat hy in sy dagboeke as Ginette geïdentifiseer het. In November 1948 het hy die Skotse skilder Marjorie Wallace ontmoet en die volgende jaar het hulle ’n hegte verhouding aangeknoop. Kort daarna het hulle ses jaar lank saam in Parys se dakkamers gewoon. Hy het ’n Franse studiebeurs verwerf wat hom in staat gestel het om in die letterkunde aan die Sorbonne-universiteit in Frankryk te studeer.

In Parys het skrywers soos Uys Krige, Etienne Leroux en Bartho Smit gereeld by Jan en Marjorie besoek afgelê. Krige het hom aansienlik gehelp met die Afrikaanse verwerking uit die oorspronklike Engelse teks en skaafwerk van wat later Een-en-twintig sou word. In Desember het Krige by hulle opgedaag met die voorneme om slegs ’n naweek by hulle te bly, maar die kuier het eindelik drie volle maande geduur. In Julie 1948 het Elsa Joubert by hulle gekuier tydens haar reis deur Europa wat sy later as Die verste reis vrygestel het. In 1949 het sy weer so gemaak, hierdie keer vergesel deur Klaas Steytler.

Op 4 Januarie 1955 is Jan en Marjorie voor die Britse konsul in Parys getroud, met Jannie Coetzee as getuie. Jan het Bartho Smit se ou bruin pak klere gedra, met Marjorie wat Kita Redelinghuys se skoene gedra het. Jan het ’n paar dae daarna terug na Suid-Afrika vertrek om ’n werksgeleentheid en woonplek te kry en geld bymekaar te maak; in November 1955 het Marjorie haar by hom aangesluit. Hulle het hulle in Groenpunt in Kaapstad gevestig, waar hulle omtrent elf jaar lank ’n dubbelverdiepinghuis met die kunstenaar Erik Laubscher en sy vrou Claude Bouscharain gedeel het. Kort daarna is Een-en-twintig gepubliseer; dit het radikale verandering in Afrikaanse prosa teweeg gebring en is dikwels genoem as die wegbereider van die Sestiger-beweging van Afrikaanse prosa.

Aan die begin van Desember 1957 het Marjorie inderhaas na Skotland vertrek; haar pa was terminaal siek en sy het hom bygestaan totdat hy voor die einde van die maand oorlede is. Nadat sy haar ma ’n tyd lank bygestaan het, het Marjorie na Parys gegaan waar sy steeds ’n ateljee gehuur het en Jan probeer oorreed het om na Europa terug te keer. Hy het egter geweier en was selfs bereid om te skei indien dit nodig sou wees. Hy het sterk gevoel oor sy roeping om die rasseskeiding in Suid-Afrika deur middel van sy skryfwerk teen te staan. Marjorie het aan die begin van November 1958 na Suid-Afrika teruggekeer en aanvaar dat dit voortaan hul permanente tuiste sou wees. Jan het die aandag getrek as “betrokke” skrywer met sterk oortuigings oor die onreg wat teenoor swart en bruin mense in Suid-Afrika in die naam van apartheid gepleeg is en die Rabies se huis in Groenpunt het algaande ’n stimulerende bymekaarkomplek vir jong skrywers en skilders geword. Die noordelike skrywers het ook hier bymekaargekom as hulle, gewoonlik in die Desember/Januarie-vakansie, in Kaapstad was. Onder hulle was André P Brink, Chris Barnard, Adam Small, Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach en Athol Fugard.

Van Maart 1955 tot Augustus 1956 en tot einde 1957 het Jan onderskeidelik permanent en tydelik as omroeper by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) gewerk. Verskeie van sy hoorspele, onder meer Voetbal of fortuin en Nuus van die land is in hierdie tyd uitgesaai. Tone Brulin het laasgenoemde hoorspel in Nederlands vertaal en dit is deur die Belgische Nationale Omroep uitgesaai. Daarby het dit ’n Franse verwerking beleef. Jan het in hierdie tyd ook heelwat vryskutwerk vir koerante en tydskrifte gelewer, waaronder ’n gereelde posseëlrubriek in Die Burger onder die skuilnaam Jan Roets, en wetenskaplike artikels in ’n ligter trant vir die jeugtydskrif Die jongspan. Van 1957 het hy hom voltyds op sy skryfwerk toegespits. Na die stigting van Contrast deur Jack Cope in 1960 het Jan gereelde bydraes, veral in Afrikaans, gelewer. Hy het byna drie dekades lank op die redaksie van hierdie tydskrif gedien en verskeie skeppende bydraes en artikels vir die tydskrif gelewer. Hy was ook ’n redaksielid van Die Sestiger. Hy het 2200 kaartjies met seeterme vir die liefde van die saak by die buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal in Stellenbosch gelewer.

Sy roman, Ons die afgod, het ’n polemiek in koerante veroorsaak en vele mense het aan brieweverwisselings hieroor meegedoen. Dit was die eerste roman wat so sterk standpunt teen apartheid ingeneem het en kritici het dit vanuit ’n letterkundige oogpunt nie hoog aangeslaan nie. Nadat Jan uit die SAUK bedank het, het hy die opvatting van die direkteur-generaal, PJ Meyer, dat God die Afrikaner in Suid-Afrika vertrou het met voogdyskap oor verskillende nasionaliteite, gekritiseer. Dit het gemaak dat Meyer die SAUK verbied het om ooit weer van Jan se dienste vir stukwerk gebruik te maak. Jan het ook talle briewe aan koerante geskryf waarin hy standpunt teen die onregte van die rassebeleid, onder meer die verskuiwing van mense van Distrik Ses na die Kaapse Vlakte, ingeneem het. Daarby het hy sterk standpunt teen sensuur ingeneem. Sy uitgesproke teenkanting teen apartheid het gemaak dat daar teenstand was toe die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Oktober 1964 hom tot fakulteitslid verkies het. Aangesien hy as ’n vyand van die volk beskou is, is sy telefoongesprekke afgeluister en die veiligheidspolisie het sy huis gedurig dopgehou.

Van 1966 tot 1970 het Jan en Marjorie weer ’n uitgebreide reis na die buiteland onderneem; eers na die Verenigde State van Amerika en Kanada en daarna na Skotland en Europa. Van Maart 1967 tot Oktober 1967 het hulle op die Griekse eiland Kreta gewoon en van daar af lande soos Israel, Siprus, Libanon en Turkye besoek.

Met hul terugkeer na Suid-Afrika in Maart 1970 het Jan en Marjorie hulle op Onrus naby Hermanus gevestig, waar hulle onderskeidelik voltyds geskryf en geskilder het. Hy was ’n sleutelfiguur in die stigting van die Afrikaanse Skrywersgilde in 1975, en in 1983 en 1984 het hy as voorsitter van hierdie liggaam gedien. Daarby het hy jare lank ’n gereelde rubriek oor die Afrikaanse letterkunde in The Cape Times behartig. Jan en Marjorie het hul laaste oorsese reis in April 1985 onderneem en etlike maande op die Griekse eiland Lesbos gebly. In die 1990’s het Jan die manuskrip vir ’n roman wat hy Luk genoem het, voorgelê maar Human en Rousseau het geweier om dit uit te gee. Die uitgewer het hom versoek om dit in ’n jeugverhaal te verander, maar hy het geweier en hy sou nooit weer daarna skryf nie.

In 1995 het hy die aftakelende Lewy-liggaamdemensie, ’n kombinasie van Parkinson-siekte en Alzheimer, opgedoen en in Oktober 1998 het hy ’n ligte beroerte gehad. Daarna is hy in die Onrus Manor-aftreeoord se afdeling vir verswakte bejaardes opgeneem. Hy was die laaste jare van sy lewe baie swak. Hy is op 15 November 2001, ’n dag na sy 81ste verjaardag , oorlede en langs Uys Krige op Onrus begrawe. Marjorie is op 26 Junie 2005 oorlede.

Daantjie Badenhorst