15 SEPTEMBER

GEBEURE

1879 – Anglo-Zoeloe-oorlog: Cetshwayo krygsgevangene

Die Zoeloekoning Cetshwayo kaMpande word as krygsgevangene na Kaapstad gestuur waar hy in die Kasteel die Goeie Hoop gevange gehou word.

1892 – Spoorlyn voltooi

Die eerste trein van Kaapstad via Bloemfontein kom in Johannesburg aan ná ’n reis van 2 dae, 14 uur en 43 minute.

1899 – Die eerste uitgawe van De Hervormer verskyn met ds. MJ Godefroy as die redakteur

1910 – Eerste Suid-Afrikaanse Volksraadsverkiesing

Die Unie van Suid-Afrika het drie en ’n halwe maand bestaan voordat die eerste Volksraadverkiesing op 15 September 1910 gehou is. Ondanks die Premier, genl. Louis Botha, se beleid van konsolidasie, het Engelsman en Afrikaner die verkiesing met wedersydse wantroue tegemoetgegaan. Terwyl die ultra-Engelse hulle binne die Unionisteparty kon uitleef en die breër lae van albei taalgroepe ’n tuiste in die Suid-Afrikaanse Arbeidersparty kon vind, was daar nog geen sentrale party vir die Afrikaners nie. Die Afrikanerpartye van die verskillende provinsies het egter saamgewerk. Na die verkiesing het hulle saamgesmelt en die Suid-Afrikaanse Nasionale Party gevorm. By die formele stigtingsvergadering in November 1911 is die naam egter gewysig tot Suid-Afrikaanse Party. Die uitslag van die verkiesing was: Suid-Afrikaanse Nasionale Party 67, Unioniste 39, Onafhanklikes 11, Arbeiders 4. ’n Toonbeeld van die skerpheid van hierdie eerste verkiesing is daarin te vind dat die verloopte genl. Botha deur sir Percy Fitzpatrick in Pretoria-Oos verslaan is. Hy het egter Premier gebly, want die setel Losberg is aan hom afgestaan, waar hy op 13 Oktober 1910 in ’n tussenverkiesing verkies is.

1914 – Afrikanerrebellie

’n Sterk afdeling Suid-Afrikaanse soldate land by Lüderitzbucht en beset die hawe en die dorp. Die Duitse soldate daar val na die binneland terug.

Die Duitse goewerneur, dr. Seitz, reik ’n proklamasie in Windhoek uit dat die Duitsers nie teen die Boere van Suid-Afrika oorlog maak nie, maar teen die Britte.

CF Beyers dien sy bedanking as kommandant-generaal by Smuts in omdat hy nie met die besluit om Duitswes-Afrika aan te val, kon saamleef nie.

Jan Kemp trek sy bedanking terug, maar minister van verdediging Jan Smuts verwerp die terugtrekking.

Beyers stuur sy motorbestuurder en sy vrou om vir Koos de la Rey in Johannesburg te gaan haal. Hulle kom die middag in Pretoria aan, waarna die twee oud-generaals by Beyersheim, die huis van ’n broer van Beyers in Sunnyside, samesprekings voer. Dit is nie duidelik wat hulle bespreek het nie. De la Rey en Beyers vertrek met laasgenoemde se motorkar na Johannesburg. Beyers het aanvanklik getuig dat hulle na De la Rey se plaas buite Lichtenburg op pad was, maar later verklaar dat hy sy besluit om te bedank in Potchefstroom aan die Burgermagoffisiere, wie se kamp die volgende dag sou eindig, wou gaan verduidelik.

De la Rey word om ongeveer 21:15 by Langlaagte in Johannesburg doodgeskiet toe hulle deur ’n padblokkade, wat deur die polisie opgerig is om die berugte Fosterbende vas te trek, ry.

1917 – Nasionale Pers koop Het Volksblad

 

GEBOORTES

1892 – Helena Lochner, skrywer († 15 Julie 1951)

Helena Johanna Francina Lochner is op Moorreesburg gebore. Hierdie kunstenares en baanbreker-skryfster vir die Afrikaanse kind, is op 15 Julie 1951 op Bloubergstrand oorlede. Op aandrang en met aanmoediging van adv. JHH de Waal het sy artikels en kinderverhale begin skryf op ’n tydstip toe daar ’n groot behoefte aan geskikte Afrikaanse kinderlektuur bestaan het. Vanaf 1930 het daar meer as 56 kinderboeke uit haar pen verskyn, almal met selfgemaakte gekleurde buiteblaaie en illustrasies en grootdruk sodat die kleinspan dit self kon lees.

1895 – Jan Reinder Leonard van Bruggen, skrywer († 9 Mei 1948)

 

STERFTES

1914 – Jacobus Herculaas (Koos) de la Rey, Boeregeneraal gedurende die Anglo-Boereoorlog en ZAR-politikus (* 22 Oktober 1847)

Op dié dag reis genl. Jacobus Hercules (Koos) de la Rey en genl. CF Beyers per motor na Potchefstroom. Hulle was op pad na Kemp, bevelvoerder van die militêre kamp daar, wat gereed was om teen die Regering op te tree uit weerstand teen die Botha-regering se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog. Genl. De la Rey sou egter nooit sy bestemming bereik nie. Die polisie het die hele Witwatersrand op soek na ene William Foster en sy berugte moordbende gefynkam. Die twee generaals word in Langlaagte, net wes van die middestad van Johannesburg, deur die polisie gedaag. Hulle ry egter voort en die polisie skiet na die motor – ’n skoot tref genl. De La Rey noodlottig in sy rug. Vyf dae later is hy op Lichtenburg begrawe. Een van sy grootste oorlogskamerade in die Engelse Oorlog, genl. CR de Wet, op wie genl. De la Rey se tragiese dood diepe indruk gemaak het, het op die begrafnis gesê dat De la Rey “een van die dapperste van die dapperes, een van die getrouste onder die getroues” was. Genl. De la Rey se onwrikbare Godsvertroue, vaderlandsliefde en geloof aan die volkswil het ’n onuitwisbare stempel op die Afrikaner se vryheidstrewe gelaat. Hy is op 22 Oktober 1847 op die plaas Doornfontein in die distrik Winburg gebore. Ondanks weinig formele onderwys was hy besonder skrander en bekwaam. Sy militêre leierseienskappe het al op 19-jarige leeftyd in die Basoeto-oorlog van 1865 na vore gekom en in die Engelse Oorlog tot volheid ontplooi. Met die uitbreek van die oorlog het kmdt.-genl. Joubert hom aangestel as veggeneraal onder bevel van en ook as raadgewer vir genl. PA Cronjé in Wes-Transvaal. Hy was ’n uitmuntende strateeg, wat soms met genl. Cronjé verskil het. Sy grootste vegprestasie is dat hy die hele oorlog onoorwonne deurgeveg het as ruiter-generaal wat in die besonder welslae behaal het met sy beroemde stormjaagtaktiek. Die “Leeu van Wes-Transvaal” soos hy bekend geword het, het as onoorwonnene deel gehad aan die vredesonderhandelinge en -ondertekening in 1902. In 1908 was hy lid van die Transvaalse afvaardiging in die Nasionale Konvensie, wat die Unie van Suid-Afrika in 1910 tot stand gebring het. Hy was ook lid van die eerste Senaat. Genl. De la Rey het republikein gebly, en dit het hom in stryd met die regering gebring toe dié besluit het om aan die Eerste Wêreldoorlog deel te neem. Hy was van mening dat die oorlog die kans gebied het om die verlore republikeinse vryheid en onafhanklikheid vir Suid-Afrika te herwin.

2010 – Bettie Cilliers-Barnard, kunsskilder (* 18 November 1914)

Bettie Cilliers-Barnard was ‘n gevierde skilder en grafiese kunstenaar. Sy is tot haar dood as die doyenne van plaaslike kunstenaars beskou. Buiten in haar geboorteland het sy ook in Parys, Switserland, die VSA en die Verenigde Koninkryk gestudeer. Sy het haar as ‘n figuratiewe kunstenaar met die sirkelmotief en simboliek as kenmerke van haar werk onderskei.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/