
16 APRIL
GEBEURE
1856 – Boshof aangelê
Die dorp Boshof in die Vrystaat word aangelê. Die dorp is aangelê op die plaas Van Wyksvlei. Die gebied het oorspronklik aan David Danser, ’n Korana-kaptein behoort. Danser het die (toekomstige) plase Van Wyksvlei, Kameelfontein en Tweefontein aan ene Fourie verkoop. Van Wyksvlei is deur ’n komitee van Fourie gekoop vir 24,000 riksdaalders. Begin Maart 1856 is die dorp uitgemeet en op hierdie dag is die eerste erwe verkoop. Die dorp is vernoem na president JN Boshof (1855-1859) van die Oranje-Vrystaat.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Eerste boere-krygsgevangenes in St. Helena
Die Milwauke kom in St. Helena aan met die eerste 514 boere-krygsgevangenes. Nog vele krygsgevangenes sou gedurende die Anglo-Boereoorlog na St. Helena gestuur word.
1946 – Die ryk goudveld in die Vrystaatse Goudvelde word op die plaas Geduld ontdek
Die eerste diamant wat in Suid-Afrika gevind is, die Eureka, is op 16 April 1946 in Londen verkoop vir £ 5 700. Die oorspronklike gewig was 21.25 karaat (4.250 g) wat geslyp is tot ’n grootte van 10.73 karaat (2.146 g). Dit is in 1867 langs die Oranjerivier by Hopetown deur die 15-jarige Erasmus Jacobs opgetel wat dit aan Schalk van Niekerk gewys het. Dit is daarna aan waarnemende kommissaris Lorenzo Boyes gegee wat die eerste was wat dit as ’n “waarskynlike” diamant verklaar het. Dit is daarna in ’n gewone koevert aan die Kaapkolonie se voorste mineraloog, dr. Willliam Atherstone, in Grahamstad gestuur, wat bevestig het dat dit ’n diamant was. Die Eureka is in 1867 in Parys, Frankryk, uitgestal, hoewel sommige bronne dit as ’n namaaksel van glas afgemaak het en gesê het dat die oorspronklike diamant aan koningin Victoria gestuur is. Terug in Suid-Afrika, is dit vir £500 deur die Kaapse goewerneur, sir Philip Wodehouse, gekoop wat dit saamgeneem het Engeland toe. De Beers het die Eureka in 1967, honderd jaar ná die ontdekking, gekoop en dit aan die Suid-Afrikaanse regering teruggegee. Dit is nou op uitstalling by die Kimberley Mynmuseum.
1946 – Die Eureka-diamant word in Londen verkoop vir £ 5 700
1958 – Laaste algemene verkiesing van die Unie van Suid-Afrika
Op hierdie dag is die laaste algemene verkiesing binne Unie-verband in ons land gehou. Talle veranderinge het sedert die verkiesing van 1953 ingetree. JG Strijdom het Malan as Premier en sir De Villiers Graaff vir Strauss as leier van die Opposisie opgevolg. Talle hofsake in verband met aparte kieslyste was agter die rug, die Nasionale Party het reeds tien jaar regeer, in Opposisiegeledere het afskeidings voorgekom, en oor SA het ’n enigste landsvlag sedert 1957 gewapper. Die uitslag van 103 setels ten gunste van premier Strijdom het onmiddellik die Afrikaner laat besef dat hy polities sterk staan, dat hy na 10 jaar van politieke bewind weer meer aandag aan sake van Afrikaans-kulturele belang behoort te skenk. Een hiervan was die kwessie van republiekwording; en ander was volkeskeiding in die praktyk. Hierdie twee aangeleenthede was kernredes vir die Afrikaner se politieke steun aan die Nasionale Party. Dit het immers om sy staatkundige en ongeskonde fisieke voortbestaan gewentel. Die politieke Opposisie het albei aangeleenthede volledig teengestaan en daarmee bevestig dat bloot die bestaan van ’n Afrikanervolk met inheemse vryheidsideale en ’n eiesoortige volksbewussyn vir hulle onaanvaarbaar is.
GEBOORTES
1643 – Olof Bergh, ’n ou-Kaapse amptenaar en die stamvader van die Bergh-familie († 19 Julie 1725)
1877 – Genl. Johannes Jacobus Pienaar, administrateur van Transvaal († 29 April 1966)
Johannes Jacobus Pienaar is op Ladybrand gebore. Hy speel ’n belangrike rol in die Afrikaner-volkslewe as staatsamptenaar, militêre bevelvoerder, politikus en tussen 1938 en 1948 as Administrateur van Transvaal. Hy is op 29 April 1966 oorlede.
1943 – Piet Visagie, Springbok-rugbyspeler († 22 Desember 2022)
Piet Visagie was ’n Suid-Afrikaanse rugbyspeler. Visagie, wat in die dorp Reivilo grootgeword het, was ’n mynwerker by Beeshoek en het vir die plaaslike Ammosal-rugbyklub gespeel. Hy het Griekwas in provinsiale rugby verteenwoordig en was ’n sleutellid van die 1970 Curriebeker-wenspan.
STERFTES
2007 – Hannah Botha, veteraan-aktrise (* 17 Januarie 1923)
Hannah Botha sal veral vir twee televisierolle onthou word, naamlik tant Lissie Rademeyer in Nommer asseblief en Elsa du Plessis in Egoli-plek van goud. Sy is op 16 April 2007 oorlede.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
Frikkie Wallis Facebook