PIET VISAGIE (1943-2022)
Die voormalige Springbok-losskakel Piet Visagie is op 22 Desember 2022 in die ouderdom van 79 jaar oorlede.
Petrus Jacobus Visagie is op 16 April 1943 in Kimberley gebore en het aan die Hoërskool Reivilo in die Noord-Kaap gematrikuleer. “Piet Visasie” soos Gerhard “Spiekeries” Viviers hom genoem het en provinsiale rugby vir Griekwaland-Wes gespeel het, was een van agt spelers wat hul debuut op 15 Julie 1967 op Kingspark in Durban teen Frankryk gespeel het. Hierdie span, onder die kapteinskap van dr. Dawie de Villiers, wat ook in 2022 oorlede is, het nuwelinge soos Gys Pitzer, HO de Villiers, Eben Olivier en Tiny Neethling ingesluit. Die Springbokke het daardie toets met 26-3 gewen. Twee weke later het hy sy eerste punte in ’n Springboktrui met ’n doelskop aangeteken. Hoewel die Springbokke hierdie toets verloor het, was hulle reeds seker van ’n reeksoorwinning. In die laaste toets van die reeks het hy met ’n skepdoel geslaag.
Die volgende jaar het die Britse en Ierse Leeus deur Suid-Afrika getoer en Visagie het in al vier toetse punte met die skopskoen aangeteken. In die eerste toets het hy twee drieë verdoel en met twee strafskoppe geslaag en in die tweede toets met twee doelskoppe. Die Springbokke het drie van die vier toetse gewen en in een gelykop gespeel. Later in dieselfde jaar het die Springbokke weer met Frankryk kragte gemeet, hierdie keer in Frankryk en weer eens het hy punte in albei toetse met die skoen aangeteken.
Tydens die Australiese span se toer deur Suid-Afrika in 1969 het hy sy eerste twee drieë gedruk terwyl die Springbokke al drie toetse gewen het. Teen die einde van 1969 het een van die moeilikste toere wat ’n Springbokspan tot nog toe onderneem het, plaasgevind aangesien die spelers hulle teen betogers vasgeloop het. Die Springbokke het die twee toetse, een teen Skotland en een teen Engeland, verloor. Die volgende jaar, 1970, was ’n groot jaar vir Springbok-rugby. Die All Blacks, onder kapteinskap van Brian Lochore, het deur Suid-Afrika getoer en hoewel hy net een skepdoel aangeteken het en een drie gedruk het, het die Springbokke drie van die voer toetse gewen. Een van die grootste skokke in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby het egter op 26 September 1970 plaasgevind. Visagie se provinsiale span, Griekwaland-Wes, het in die Curriebeker-eindstryd te staan gekom teen ’n sterbelaaide Noord-Transvaalse span met Springbokke soos Mof Myburgh, Frik du Preez, Tonie Roux en Piston van Wyk, en die eindstryd met 11-9 gewen.
Piet het in 1971 vir die laaste keer vir die Springbokke gespeel; eers in ’n tuisreeks teen Frankryk en daarna teen Australië in die laaste reeks tussen dié twee lande in net meer as twintig jaar. In hierdie reeks het hy altesaam drie drieë gedruk. Dit was die legendariese Frik du Preez se laaste toetsreeks. In 1972, toe hy 28 jaar oud was, het hy sy been tydens ’n klubwedstryd gebreek en sy uittrede uit rugby aangekondig. Piet se jonger broer Gawie, wat twaalf jaar jonger as hy was en in 2014 in die ouderdom van 59 jaar aan kanker oorlede is, het die Springbokke se toer na Nieu-Seeland in 1981 meegemaak, maar nie in ’n toets gespeel nie. Hy het skrumskakel, losskakel en senter gespeel en tot in 1985 provinsiale rugby vir Natal gespeel.
Hy het jare lank aan demensie gely en dit blyk dat orgaanversaking sy dood veroorsaak het. Hy word oorleef deur sy vrou, drie kinders en vyf kleinkinders.
deur Daantjie Badenhorst