16 JANUARIE

GEBEURE

1690 – Die Noord strand

Die Noord het op 16 Januarie 1690 wes van Kaap St Francis gestrand waar dit besig was met ’n ondersoek na die moontlikheid van ’n hawe tussen die Oos-Kaap en Natal. Hoewel ’n onbekende aantal bemanningslede die voorval oorleef het, het die meeste van hulle daarna omgekom op ’n tog te voet terug na die Kaap. Die skip was op ’n tweede vaart langs die kus nadat dit op ’n eerste besoek drie oorlewendes van ’n Nederlandse skip, Stavenisse, opgepik het wat naby vandag se Port Shepstone gesink het. Van dié 71 bemanningslede het elf verdrink en 47 besluit om na die Kaap te stap, waarvan 20 dit gemaak het! Dertien het by die wrak agtergebly. Die Noord het drie van hulle gevind, maar van die ander is nooit weer iets gehoor nie.

1834 – Sir Benjamin D’Urban, na wie Durban vernoem is, aanvaar die pos as goewerneur van die Kaap die Goeie Hoop

Benjamin D’Urban is in Suffolk, Engeland, gebore en het in 1793 by die Britse leër aangesluit. Hy het spoedig hoogtes bereik en in die meeste groot veldslae gedien, waaronder Salamanca en Toulouse. As deel van sy buitelandse diens word hy in 1819 die goewerneur van Antigua, sowel as Brits-Guyana. Op 16 Januarie 1834 neem D’Urban die amp as goewerneur van die Kaap die Goeie Hoop aan, op die tydstip waarop sy administrasie gedwing is om te veg in die Groot Trek en die uitbreek van die Sesde Xhosa-oorlog. Onder D’Urban se leiding is die gebied tussen die riviere Keiskamma en Groot Kei geannekseer en is die huidige KwaZulu-Natal beset. Dit het daartoe gelei dat die hoofhawe van Port Natal na Durban hernoem is. D’Urban was redelik gewild onder wit koloniste, maar is ondanks dit ontslaan nadat hy gekritiseer is vir sy harde gedrag teenoor swart mense. Bewyse van sy onbillike behandeling is deur die sendeling en filantroop, doktor John Phillip, voor ’n parlementêre komitee gegee. D’Urban het tot die koms van sy opvolger in 1838 goewerneur gebly. In 1842 word D’Urban aangestel as die bevelvoerder van die Britse magte in Brits-Noord-Amerika (Kanada), en het in hierdie posisie gebly tot sy dood in 1849.

1838 – Op ’n volksvergadering word besluit dat Piet Retief na Dingaan moet gaan

1896 – Die eerste Afrikaanse Taalkongres word gehou; stigting van Ons Klyntji

Op 14 Augustus 1895 is op die twintigste Jaarfees van die Genootskap van Regte Afrikaners besluit om ’n eerste Afrikaanse taalkongres te reël wat op 15 en 16 Januarie 1896 in die Paarlse stadhuis gehou is om saam te val met die twintigste verjaardag van Die Afrikaanse Patriot. Ongeveer 100 verteenwoordigers uit alle dele van die land het vergader onder voorsitterskap van dominee SJ du Toit. Professor Cachet het as eerste spreker die beginsel van ons skryf soos ons praat onderskryf, en voorgestel dat ’n tydskrif uitgegee word om die beweging te bevorder. Talle sprekers spreek hulle op hierdie kongres uit ten gunste van Afrikaans as spreek- en skryftaal en uit hulle getuienis kan die vreugde van ’n eie taal gelees word, soos meneer P Scholtz dit saamvat: In Hollands voel hy hom nes in ’n pak klere wat te groot is; in Afrikaans voel hy tuis. Daar word besluit om Afrikaans te hou soos wat die taal in Die Afrikaanse Patriot gegroei het en dit nie nader aan Nederlands te probeer bring nie. ’n Kommissie is aangestel om die wenslikheid van ’n Afrikaanse woordeboek en ’n vergelykende taalkunde tussen Afrikaans en Engels te ondersoek, wat die volgende dag rapporteer dat so ’n stap gewens is. Punte in verband met die spelling van Afrikaans is ook bespreek, maar is later aan ’n kommissie vir besluitneming oorgelaat. Verder is die kwessie van Afrikaans as skool- en kerktaal bespreek waarby vurige pleidooie ten gunste van Afrikaans gelewer is. Die belangrikste besluit wat op hierdie kongres geneem is, is die uitgee van ’n eie Afrikaanse tydskrif, waarvoor ’n kommissie benoem is om ook geld vir hierdie doel in te samel. Daar is op die tweede dag van die kongres besluit dat die tydskrif veral aandag sal wy aan die Afrikaanse letterkunde, en dit sou ’n “blad ver di huisgesi wees, ’n ware huisvrind”. Op voorstel van professor Postma is die maandelikse tydskrif gedoop Ons Klyntji. Reeds op hierdie vergadering is 500 intekenaars gewaarborg en geesdrif vir die tydskrif het hoog geloop. Hierdie taalkongres was ’n mylpaal in ons taalgeskiedenis, daar dit die eerste groot vergadering van voorstanders van Afrikaans was en vrug gedra het in die vorm van die eerste tydskrif in Afrikaans.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Krygsgevangenes tereggestel

Ses Boere-krygsgevangenes (m.a.w. verraaiers) word deur die kommando van generaal Lemmer tereggestel. Twee ander word swaar beboet.

1970 – Die Herstigte Nasionale Party (HNP) begin sy eie koerant, Die Afrikaner

1971 – Die eerste seiljagwedren tussen Kaap en Rio vind plaas

Die eerste Transatlantiese seiljagwedren tussen Kaapstad en Rio de Janeiro (Brasilië) (3600 seemyl) het op hierdie dag plaasgevind. SAS (Suid-Afrikaanse Skepe) Tafelberg het as wag gedien vir die reis wat vanaf Tafelbaai in Kaapstad begin het. Die wedloop is die Kaap na Rio genoem, maar is herdoop tot die Suid-Atlantiese wedren aangesien die wedrenbestemming van tyd tot tyd verander het om Punta del Este in Uruguay en Salvador in Brasilië in te sluit. Die wedren is geïnspireer deur die Suid-Afrikaanse seillegende Bruce Dalling (oorlede 2008), wenner op voorgee van die 1968 Transatlantic Single-Handed Yacht Race wat tussen Plymouth, Engeland en Newport, Rhode Island, gevaar is. Terwyl Suid-Afrika Dall se sukses gevier het, het admiraal HH Biermann die eerste aangetekende voorstel gemaak dat Suid-Afrika ’n seewedloop na Australië of Suid-Amerika by ’n funksie in Kaapstad sou reël. Die Springbok Ocean Racing Trust het sy naam verander na die South African Ocean Racing Trust en onmiddellik tot aksie oorgegaan. In samewerking met Clube de Rio de Janeiro is die wedloop vir 1971 in samewerking met die Vaarvereniging van Suid-Afrika (CASA) gereël, op ’n datum wat die eindpunt met karnavaltyd sou laat saamval. In die wedloop in 1971 was Dalling kaptein van die Jakaranda, wat na verwagting die Suid-Afrikaanse uitdaging sou lei. Ongelukkig het sy vroeg in die wedloop ’n hoofroerpaal geskeer.

 

GEBOORTES

1812 – Johan Arnold Smellekamp, Nederlandse handelsreisiger († 25 Mei 1866)

Deur sy optrede het die Amsterdamse handelspionier Johan Arnold Smellekamp die eerste belangstelling vir die stamverwante Voortrekkers in Nederland laat ontstaan. Reeds in 1841 het hy in diens van ’n Amsterdamse handelshuis na Port Natal gevaar om handelsbetrekkinge met die Natalse Voortrekkers aan te knoop. Hy is hartlik ontvang, juis op ’n kritieke tydstip toe die Emigrante-Boere bedreig is deur ’n moontlike Britse besetting. Daardeur is hy ook in die politiek betrek, en ’n brief is aan hom oorhandig met die besluit van die Volksraad dat Natal as koloniale besitting aan Willem II van die Nederlande aangebied sou word ingeval Engeland weer sy “ysere-septer” oor Natal sou swaai. In 1854 het hy hom permanent in Suid-Afrika gevestig op ’n tydstip toe die jong Boererepublieke moeilike groeipyne beleef het. Weens sy opvlieënde temperament het hy egter oral vyande gemaak, en hy is weens ’n kerklike twis uit die ZAR verban. In Oktober 1854 is hy as landdros in Bloemfontein aangestel. Die laaste drie jaar van sy lewe het hy nuttige diens as Volksraadslid gelewer in ’n jong republiek waar ’n groot behoefte aan meer geleerde persone was. Hy is op 25 Mei 1866 oorlede.

1828 – Jan Willem (Oom Willem) van der Rijst, kampvegter vir Afrikaans en lid van die GRA († 13 September 1904)

Jan Willem van der Rijst, ’n Hollander van geboorte, speel ’n belangrike rol in die geskiedenis van die Eerste Taalbeweging. Hy is as onderwyser opgelei, maar word in 1861 as sendeling in die NG Kerk toegelaat. In Februarie 1862 word hy as sendeling en onderwyser in die gemeente Wynberg aangestel nadat hy ook ’n rukkie op Calvinia werksaam was. Aanvanklik was hy ’n verbete teenstander van Afrikaans, maar onder invloed van Oom Lokomotief word hy ’n vasbeslote kampvegter daarvoor. Hy pak die eerste Spel- en Leesboek vir Afrikaanse kinders in 1878 aan. Daarna skryf hy ook Samesprake in Afrikaanse en Engels. Albei hierdie boekies verkoop besonder goed. Oom Willem, die skuilnaam waaronder hy geskryf het, behaal ook buitengewone sukses met sy preke wat eers in Die Afrikaanse Patriot en in 1884 en 1885 in twee bundels onder die titel Evangeli in di volkstaal in druk verskyn. Saam met dominee PD Rossouw van Fraserburg, is hy die eerste wat dit waag om preke in Afrikaans te skryf. In 1886 verskyn ’n godsdienstige verhaal So gaat dit ook uit sy pen. Oom Willem is op 13 Desember 1904 in Nederland oorlede.

 

STERFTES

1947 – Hester Debora Maria van Heerden, eerste Afrikaanse vroulike joernalis (* 3 Desember 1873)

Hester Debora Maria van Heerden (née Rabie) is te Fauresmith, Vrystaat, gebore en sy sterf op 16 Januarie 1947 in Potgietersrus (tans Mokopane), Limpopo. Toe Die Brandwag op 31 Mei 1910 vir die eerste keer gepubliseer is, het sy begin met ’n artikelreeks vir vroue en kinders wat later uiters gewild was. Sy het die skuilnaam “Tannie” (later “Tannie van die Brandwag”) gebruik. Daar word gereken dat sy die eerste Afrikaanse vroulike joernalis was en ook die eerste vrou wat Afrikaanse kinderboeke geskryf het.

2023 – Tommy Oliver, country-sanger (* 20 Desember 1950)

Tommy Oliver was ’n Suid-Afrikaanse country-sanger wat in die 1970’s ’n paar treffers op die Suid-Afrikaanse treffersparade gehad het.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

Frikkie Wallis Facebook

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org