16 JANUARIE
GEBEURE
1834 – Sir Benjamin D’Urban, na wie Durban vernoem is, aanvaar die pos as goewerneur van die Kaap die Goeie Hoop
Benjamin D’Urban is in Suffolk, Engeland, gebore en het in 1793 by die Britse leër aangesluit. Hy het spoedig hoogtes bereik en in die meeste groot veldslae gedien, waaronder Salamanca en Toulouse. As deel van sy buitelandse diens word hy in 1819 die goewerneur van Antigua, sowel as Brits-Guyana. Op 16 Januarie 1834 neem D’Urban die amp as goewerneur van die Kaap die Goeie Hoop aan, op die tydstip waarop sy administrasie gedwing is om te veg in die Groot Trek en die uitbreek van die Sesde Xhosa-oorlog. Onder D’Urban se leiding is die gebied tussen die riviere Keiskamma en Groot Kei geannekseer en is die huidige KwaZulu-Natal beset. Dit het daartoe gelei dat die hoofhawe van Port Natal na Durban hernoem is. D’Urban was redelik gewild onder wit koloniste, maar is ondanks dit ontslaan nadat hy gekritiseer is vir sy harde gedrag teenoor swart mense. Bewyse van sy onbillike behandeling is deur die sendeling en filantroop, dr. John Phillip, voor ’n parlementêre komitee gegee. D’Urban het tot die koms van sy opvolger in 1838 goewerneur gebly. In 1842 word D’Urban aangestel as die bevelvoerder van die Britse magte in Brits-Noord-Amerika (Kanada), en het in hierdie posisie gebly tot sy dood in 1849.
1838 – Op ’n volksvergadering word besluit dat Piet Retief na Dingaan moet gaan
1896 – Die eerste Afrikaanse Taalkongres word gehou; stigting van Ons Klyntji
Op 14 Augustus 1895 is op die twintigste Jaarfees van die Genootskap van Regte Afrikaners besluit om ’n eerste Afrikaanse taalkongres te reël wat op 15 en 16 Januarie 1896 in die Paarlse stadhuis gehou is om saam te val met die twintigste verjaardag van Die Patriot. Ongeveer 100 verteenwoordigers uit alle dele van die land het vergader onder voorsitterskap van ds. SJ du Toit. Prof Cachet het as eerste spreker die beginsel van ons skryf soos ons praat onderskryf, en voorgestel dat ’n tydskrif uitgegee word om die beweging te bevorder. Talle sprekers spreek hulle op hierdie kongres uit ten gunste van Afrikaans as spreek- en skryftaal en uit hulle getuienis kan die vreugde van ’n eie taal gelees word, soos mnr. P Scholtz dit saamvat: In Hollands voel hy hom nes in ’n pak klere wat te groot is; in Afrikaans voel hy tuis. Daar word besluit om Afrikaans te hou soos wat die taal in Die Patriot gegroei het en dit nie nader aan Nederlands te probeer bring nie. ’n Kommissie is aangestel om die wenslikheid van ’n Afrikaanse woordeboek en ’n vergelykende taalkunde tussen Afrikaans en Engels te ondersoek, wat die volgende dag rapporteer dat so ’n stap gewens is. Punte in verband met die spelling van Afrikaans is ook bespreek, maar is later aan ’n kommissie vir besluitneming oorgelaat. Verder is die kwessie van Afrikaans as skool- en kerktaal bespreek waarby vurige pleidooie ten gunste van Afrikaans gelewer is. Die belangrikste besluit wat op hierdie kongres geneem is, is die uitgee van ’n eie Afrikaanse tydskrif, waarvoor ’n kommissie benoem is om ook geld vir hierdie doel in te samel. Daar is op die tweede dag van die kongres besluit dat die tydskrif veral aandag sal wy aan die Afrikaanse letterkunde, en dit sou ’n “blad ver di huisgesi wees, ’n ware huisvrind”. Op voorstel van prof. Postma is die maandelikse tydskrif gedoop Ons Klyntji. Reeds op hierdie vergadering is 500 intekenaars gewaarborg en geesdrif vir die tydskrif het hoog geloop. Hierdie taalkongres was ’n mylpaal in ons taalgeskiedenis, daar dit die eerste groot vergadering van voorstanders van Afrikaans was en vrug gedra het in die vorm van die eerste tydskrif in Afrikaans.
1901 – Anglo-Boereoorlog: Krygsgevangenes terreggestel
Ses Boere-krygsgevangenes (m.a.w. verraaiers) word deur die kommando van genl. Lemmer tereggestel. Twee ander word swaar beboet.
1970 – Die Herstigte Nasionale Party (HNP) begin sy eie koerant, Die Afrikaner
GEBOORTES
1812 – Johan Arnold Smellekamp, Nederlandse handelsreisiger († 25 Mei 1866)
Deur sy optrede het die Amsterdamse handelspionier Johan Arnold Smellekamp die eerste belangstelling vir die stamverwante Voortrekkers in Nederland laat ontstaan. Reeds in 1841 het hy in diens van ’n Amsterdamse handelshuis na Port Natal gevaar om handelsbetrekkinge met die Natalse Voortrekkers aan te knoop. Hy is hartlik ontvang, juis op ’n kritieke tydstip toe die Emigrante-Boere bedreig is deur ’n moontlike Britse besetting. Daardeur is hy ook in die politiek betrek, en ’n brief is aan hom oorhandig met die besluit van die Volksraad dat Natal as koloniale besitting aan Willem II van die Nederlande aangebied sou word ingeval Engeland weer sy “ysere-septer” oor Natal sou swaai. In 1854 het hy hom permanent in Suid-Afrika gevestig op ’n tydstip toe die jong Boererepublieke moeilike groeipyne beleef het. Weens sy opvlieënde temperament het hy egter oral vyande gemaak, en hy is weens ’n kerklike twis uit die ZAR verban. In Oktober 1854 is hy as landdros in Bloemfontein aangestel. Die laaste drie jaar van sy lewe het hy nuttige diens as Volksraadslid gelewer in ’n jong republiek waar ’n groot behoefte aan meer geleerde persone was. Hy is op 25 Mei 1866 oorlede.
1828 – JW (Oom Willem) van der Rijst, kampvegter vir Afrikaans en lid van die GRA († 13 September 1904)
Jan Willem van der Rijst, ’n Hollander van geboorte, speel ’n belangrike rol in die geskiedenis van die Eerste Taalbeweging. Hy is as onderwyser opgelei, maar word in 1861 as sendeling in die NG Kerk toegelaat. In Februarie 1862 word hy as sendeling en onderwyser in die gemeente Wynberg aangestel nadat hy ook ’n rukkie op Calvinia werksaam was. Aanvanklik was hy ’n verbete teenstander van Afrikaans, maar onder invloed van Oom Lokomotief word hy ’n vasbeslote kampvegter daarvoor. Hy pak die eerste Spel- en Leesboek vir Afrikaanse kinders in 1878 aan. Daarna skryf hy ook Samesprake in Afrikaanse en Engels. Albei hierdie boekies verkoop besonder goed. Oom Willem, die skuilnaam waaronder hy geskryf het, behaal ook buitengewone sukses met sy preke wat eers in Die Patriot en in 1884 en 1885 in twee bundels onder die titel Evangeli in di volkstaal in druk verskyn. Saam met ds. PD Rossouw van Fraserburg, is hy die eerste wat dit waag om preke in Afrikaans te skryf. In 1886 verskyn ’n godsdienstige verhaal So gaat dit ook uit sy pen. Oom Willem is op 13 Desember 1904 in Nederland oorlede.
STERFTES
1947 – Hester Debora Maria van Heerden, eerste Afrikaanse vroulike joernalis (* 3 Desember 1873)
Hester Debora Maria van Heerden (née Rabie) is te Fauresmith, Vrystaat, gebore en sy sterf op 16 Januarie 1947 in Potgietersrus (tans Mokopane), Limpopo. Toe Die Brandwag op 31 Mei 1910 vir die eerste keer gepubliseer is, het sy begin met ’n artikelreeks vir vroue en kinders wat later uiters gewild was. Sy het die skuilnaam “Tannie” (later “Tannie van die Brandwag”) gebruik. Daar word gereken dat sy die eerste Afrikaanse vroulike joernalis was en ook die eerste vrou wat Afrikaanse kinderboeke geskryf het.
2023 – Tommy Oliver, country-sanger (* 20 Desember 1950)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.