TOMMY OLIVER (1950-2023)

Tommy Oliver was ’n Suid-Afrikaanse country-sanger wat in die 1970’s ’n paar treffers op die Suid-Afrikaanse treffersparade gehad het.

Thomas Oliver Hollamby is op 20 Desember 1950 op hul familieplaas naby Rustenburg gebore. Hy het op agtjarige ouderdom sanglesse begin neem en sy eerste kitaar gekry toe hy veertien jaar oud was. Hy het op skool ’n groep met die naam van Teen 4 gestig; dié groep se naam is later na The Pipe Pipers toe verander. Nadat hy sy skoolloopbaan voltooi het, het hy weer ’n groep, hierdie keer met die naam van Sound Gravitation, gestig. Hulle het gereeld by The Crazy Horse in Rustenburg opgetree.

Van daar af het hy alleen by die Bapsfontein-hotel en die Robinson-meer naby Randburg opgetree. Sy eie komposisie, “I wanna live”, is so goed ontvang dat hy Corrie Myburgh oorreed het om die liedjie op te neem. Dit was die begin van sy suksesverhaal in die musiekbedryf. “I wanna live” het op 7 September 1973 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree, die derde plek gehaal en altesaam sewentien weke lank op die Top 20 gebly. Omtrent ’n jaar later, op 30 Augustus 1974, was hy terug op die Top 20 met Norman Cousins se komposisie “Just an everloving woman”. Hierdie keer het hy die sewende plek gehaal en tien weke op die Top 20 gebly. Benewens hierdie sukses is die liedjie ook die volgende jaar met ’n Sarie-toekenning bekroon. Nog ’n liedjie wat Tommy geskryf het, was “Just tell her that I love her”, wat in 1975 vrygestel is, en waarvan Corrie Myburgh weer eens die regisseur was. Hoewel hierdie liedjie nie tot Springbok Radio se Top 20 toegetree het nie, het dit heelwat radiolugtyd gekry.

Tommy het ook ’n paar Afrikaanse trefferliedjies opgeneem. “Dink aan my (ek dink aan jou)” is in 1976 as ’n kortspeler uitgereik, en die volgende jaar het hy sy grootste Afrikaanse treffer, “’n Honderd jaar”, vrygestel. Hierdie liedjie het in 2005 weer ’n treffer geword nadat die Campbells dit opgeneem het. In 1981 het hy die album 10 goue jare, met treffers soos “Ek wonder somtyds” en “Die eenmyltrein”. Hierdie album is egter nooit op CD vrygestel nie. In 1987 het hy wel ’n terugkeer gemaak met sy album It’s only make believe, waarop hy weer country-musiek gesing het.

Tommy het ’n terugslag beleef toe een van sy bene in 1986 afgesit is omdat dit nie genees het nadat hy dit ’n paar jaar tevore gebreek het nie, en in 2010 is prostaatkanker by hom gediagnoseer. Hy is op 16 Januarie 2023 oorlede.

deur Daantjie Badenhorst