
16 JUNIE
GEBEURE
1900 – Anglo-Boereoorlog: Proklamasie van die Verskroeideaardebeleid deur Lord Roberts
Lord Roberts vaardig proklamasie no. 5 van 1900 uit. In effek was dit die begin van die Verskroeideaardebeleid.
1953 – Die Federale Mynbou Beperk gestig
Federale Mynbou Beperk, die eerste Afrikaanse mynfinansierings- en eksplorasiemaatskappy, is deur Federale Volksbeleggings en Bonuskor gestig nadat FVB reeds in 1943 finansiering verskaf het vir die Klipfontein steenkoolmyn, ’n pioniersonderneming van die broers Jacques en Wentzel du Plessis. Die maatskappy is met ’n aanvanklike kapitaal van R120 000 gestig, met as die eerste direkteure dr. WB Coetzer (voorsitter), dr. MS Louw en menere, GJ van Zyl, CH Brink en PR Rörich. Federale Mynbou se bedrywighede het aanvanklik grootliks steenkoolontginning behels, maar die goudmynbedryf sou vroeër of later betree moes word om die maatskappy se ontwikkeling tot volwaardige mynhuis te verwesenlik. Voor 1960 is met oorname-ondersoeke begin totdat ’n belang in 1963 in General Mining and Finance-korporasie verkry is – ’n belang wat in Januarie 1965 tot effektiewe beheer gelei het. In 1976 het nog ’n groot mynhuis, Union Corporation, ’n filiaal van General Mining geword, met Federale Mynbou as die uiteindelike houermaatskappy.
1965 – Bloemfonteinse Onderwyserskollege los van UOVS
Na aanbevelings van dr. John Brebner aan die Vrystaatse Volksraad, word die Normaalskool op 12 Oktober 1898 met mnr. PJ du Pre le Roux as hoof geopen. Na die Anglo-Boereoorlog heropen die “Normal School” op 1 Augustus 1902 met mej. EM Firks as hoof. In 1912 word die Kollege herdoop tot die Normaal- en Politegniese Kollege, maar toe die huidige hoofgebou op 8 Februarie 1916 betrek is, is die politegniese gedagte laat vaar. Afrikaans word vanaf 1919 gedoseer, en as onderrigmedium word dit onder rektorskap van dr. CF Visser (1929 tot 1942) ingevoer. Op 6 Desember 1944 word die Normaalkollege die “Fakulteit van Opvoedkunde”, en in 1951 word die kollege herdoop tot die Onderwyserskollege van die UOVS. Losmaking van die UOVS vind op 16 Junie 1965 plaas en die naam Bloemfonteinse Onderwyserskollege word aanvaar.
1975 – Die Simonstadse Vlootooreenkoms van 1955 tussen Suid-Afrika en Brittanje is beëindig
1976 – Oproer in Soweto oor die gebruik van Afrikaans in swart skole
GEBOORTES
1875 – Philippus Christoffel (Flippie) Snyman, gereformeerde predikant en hoogleraar († 9 Mei 1915)
1901 – Elizabeth (Betsy) de la Porte, mezzosopraan († 19 Augustus 1977)
Elizabeth (Betsy) de la Porte was een van Suid-Afrika se grootste sangkunstenaars wat haar besonder onderskei het as uitvoerder van Afrikaanse liedere. Sy was een van die eerste Suid-Afrikaanse sangers wat in 1924 uitgesaai het, en sy het daarna in Londen en München gaan studeer. Deur baie jare heen het sy ’n suksesvolle internasionale sangloopbaan gehad en saam met sommige van die beroemdste dirigente en komponiste opgetree. Talle Afrikaanse liedere is spesiaal vir haar geskryf of aan haar opgedra, en haar sangkuns was ’n aansporing vir die skepping van sommige van die beste Suid-Afrikaanse sangwerke. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het ’n Erepenning vir Sang aan haar toegeken. Sy is op 19 Augustus 1977 in Johannesburg oorlede.
STERFTES
2018 – Cecile Cilliers, joernalis en skryfster (* 24 Mei 1933)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.