CF VISSER (1882-1965)

Dr. CF Visser was die stigter van die Voortrekkerbeweging, en het op verskeie maniere ’n bydrae tot die Afrikaanse kultuur, asook die opvoedkunde, gelewer.

Cornelius Francois Visser is op 26 Julie 1882 op Philipstown in die Noord-Kaap gebore en het aan die Hoër Jongenskool Wellington in die Boland gematrikuleer. Aan die einde van 1903 het hy sy BA-graad aan die Victoria-kollege, die hedendaagse Universiteit van Stellenbosch, behaal waarna hy visehoof van die CNO-skool in Jeppestown in Johannesburg geword het. In 1906 het hy na Stellenbosch teruggekeer vir verdere studie en in 1908 het hy na Europa vertrek om sy studie voort te sit. Hy het voorlopig in die Nederlandse hoofstad Amsterdam gestudeer, maar op aanbeveling van een van sy dosente het hy sy studie in 1913 aan die Universiteit van Leipzig voltooi. Tydens sy verblyf in Europa het hy die belangrikheid van kulturele betrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland besef.

Terug in Suid-Afrika het hy vakonderwyser in Duits en Nederlands aan die Grey-kollege in Bloemfontein geword. Hy was een van die stigterslede en voorsitter van die skool se debatsvereniging. Hy het die behoefte aan Afrikaanse liedjies raakgesien en liedjies wat tydens die debatsaande gesing kon word, geskryf. Altesaam elf van sy liedjies is by die FAK-sangbundel ingesluit, onder meer “O Boereplaas”, “Kom dans Klaradyn” en “Ken jy die land?” Hoewel die Boy Scout-beweging in 1907 na Suid-Afrika gekom het, het Afrikaanse kinders afsydig daarteenoor gestaan, en hy het besef dat ’n soortgelyke beweging vir Afrikaanse kinders nodig was. Op 11 Desember 1920 is ’n konferensie wat net deur twaalf mense bygewoon is, in die Gedenksaal in Bloemfontein gehou. Die sogenaamde Eerste Voortrekkerbeweging is tydens hierdie konferensie gestig. Die eerste skool in die Vrystaat waar ’n tak gestig is, was die Voorbereidende Tegniese Skool , deesdae die Laer- en Hoërskool Sentraal, in Bloemfontein. Met die samewerking van dr. Visser en ’n onderwyser van Graaff-Reinet, dr. J de V (Japie) Heese, is ’n tak van die Voortrekkers ook op dié dorp gestig, maar die eerste beweging het nooit landwyd uitgebrei nie.

Die Tweede Beweging, Die Voortrekkers soos ons dit vandag ken, het ’n aanvang geneem met ’n konferensie wat vir 27 en 28 November 1929 op inisiatief van die Sekretaris van Onderwys, dr. SFN Gie in Pretoria belê is. Die konferensie het die opvoedkundige waarde van die Boy Scouts en Girl Guides erken en ’n soortgelyke beweging vir Afrikaanse kinders in die vooruitsig gestel. Verskeie komitees is benoem en samesprekings is met die hoofbestuur van die Boy Scouts, onder meer die stigter, lord Baden-Powell gevoer. Daar was ’n begeerte aan albei kante om saam te werk, maar die gebruik van die Union Jack en die eed van getrouheid aan die koning was vir die Afrikaanse komiteelede onaanvaarbaar.

Twee verdere konferensies het gevolg, en op 30 September 1931 is daar in die Bloemfonteinse stadsaal formeel oorgegaan tot die stigting van die Voortrekkerbeweging. Dr. Visser het die voorstel om die beweging te stig, ingedien en mev. Mabel Jansen, die eggenote van dr. EG Jansen, wat later goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika geword het, het dit gesekondeer. Dr. NJ van der Merwe is as hoofleier gekies en dr. Visser is tot provinsiale leier van die Vrystaat verkies. Volgens dr. Visser was die verskil tussen die eerste en tweede bewegings die feit dat die tweede beweging heeltemal onafhanklik van ander jeugorganisasies gestaan het. In teenstelling met die eerste beweging, wat net tot dorpe in die Vrystaat en die destydse Kaapprovinsie beperk was, het die tweede beweging nasionaal gegroei. Nadat dr. Van der Merwe in 1940 oorlede is, is dr. Visser tot hoofleier verkies. Hy het hierdie amp beklee totdat hy op 2 Julie 1959 uitgetree het en deur dr. Japie Heese opgevolg is. Met sy uittrede as hoofleier is lewenslange lidmaatskap van Die Voortrekkers aan hom toegeken. Die eretitel van Vader van die Voortrekkers is ook aan hom toegeken. Hy was die eerste ontvanger van hierdie titel, wat nooit weer toegeken sal word nie. Dit is ook waar sy bynaam van Vader Visser vandaan gekom het.

In 1917 is dr. Visser aangestel as viserektor van die Normaalkollege in Bloemfontein, en in 1929 het hy rektor geword. Hy het hierdie posisie tot met sy aftrede in 1942 beklee. Met sy aanstelling as rektor is die basiese Laer Primêre kursus van een tot twee jaar verleng en nuwe derdejaar-spesialiteitskursusse vir liggaamlike opvoeding en handearbeid is ingestel. Gedurende ry rektorskap is verskeie uitbreidings aangebring, onder meer ’n manskoshuis, ’n gimnastieksaal en ’n swembad. Hy het hom beywer vir die ontwikkeling van die kollege tot ’n inrigting vir moedertaalonderwys en die inlywing van die Normaalkollege by die Universiteit van die Oranje Vrystaat teengestaan. Hy het geglo dat die opleiding van onderwysers aan die een kant en die meer wetenskaplik-georiënteerde universiteitswerk aan die ander kant nie in dieselfde inrigting tuisgehoort het nie. Daarom het hierdie inlywing eers twee jaar na sy aftrede ’n werklikheid geword. Die Universiteit van die Vrystaat het in 1958 ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken vir sy bydrae tot die opvoedkunde.

Dr. Visser is in 1915 met Marié van Niekerk getroud, en twee dogters is uit die huwelik gebore. Sy is in 1942 oorlede, waarna hy met Tibbie van der Merwe, die dogter van die voormalige Vrystaatse president MT Steyn en weduwee van die eerste hoofleier van die Voortrekkers, dr. NJ van der Merwe, getroud is. Hy is op 6 Augustus 1965 in die ouderdom van 83 jaar oorlede.

deur Daantjie Badenhorst