16 MEI
GEBEURE
1838 – Bredasdorp aangelê
Die dorp, Bredasdorp is op die plaas Lange Fontein aangelê. Die grond is reeds in 1837 aangekoop en die eerste erwe op 16de Mei 1838 verkoop. Die dorp is vernoem na Michiel van Breda. Die dorpsnaam was aanvanklik anders gespel, naamlik Bredas Dorp.
1849 – Harrismith ontstaan
Die eerste publieke veiling van dorpserwe geskied op hierdie dag. Harrismith is vernoem na sir Harry Smit, baronet van Wellington. Harrismith se dorpsgronde was aanvanklik geleë te Majoorsdrif.
Majoorsdrif (+- 32 km wes van die huidige Harrismith) is deur Paul Bester as die mees geskikte terrein aangewys. Die man se keuse was eintlik logies, aangesien Majoorsdrif die drif was waar die paaie tussen Potchefstroom, Winburg en Suikerbosrand (Heidelberg) mekaar gekruis het. Majoorsdrif se bestaan was egter van korte duur gewees omrede daar nie water was nie. Bester se oog het vervolgens op die plaas Gembokhoek, wat aan Jan Snyman behoort het, geval. Mense wat by Majoorsdrif reeds erwe gekoop het, is die eerste die geleentheid gegee om gratis erwe uit te soek. Die dorp het redelik gou ontwikkel. Teen 1850 was die eerste skool se fondasies reeds gegrawe.
GEBOORTES
1745 – Adriaan van Jaarsveld, Oos-Kaapse versetfiguur († 29 Junie 1801)
Die Oos-Kaapse versetfiguur, Adriaan van Jaarsveld, is op die plaas De Kromme Rivier in die huidige distrik Piketberg gebore. Hy onderskei hom sedert 1771 as ’n dapper krygsoffisier in die lang stryd teen die Boesmans en die Xhosas en tree na vore as ’n leiersfiguur in die grensdistrikte. Van Jaarsveld vestig hom in 1785 in die nuwe distrik Graaff-Reinet, en in Februarie 1795 dwing hy en ander leidende burgers vir Maynier, wat as landdros ongewild was omdat hy ’n beleid van swakheid teenoor die Xhosas volg, om te bedank. As voorsitter van die krygsraad speel Van Jaarsveld ’n belangrike rol in die nuwe burgerbestuur. Die verset van Graaff-Reinet teen die nuwe Britse bestuur (1795) het in 1799 tot openlike opstand oorgegaan toe Van Jaarsveld weens vervalsing gearresteer word. Die sogenaamde Van Jaarsveld-opstand word egter gou onderdruk en op 29 Junie 1801 sterf Van Jaarsveld as gevangene in die Kasteel, Kaapstad.
1818 – Willem Cornelis Janse van Rensburg, tweede president van die ZAR († 13 Julie 1865)
Willem Cornelis Janse van Rensburg is te Uitenhage, Oos-Kaap, gebore. Hy is in April 1863 as President van die ZAR gekies, maar weier, om verskillende redes, om ingesweer te word. In ’n nuwe verkiesing is hy weer verkies en op 23 Oktober 1863 lê hy die ampseed af. Die burgeroorlog wat daarop sou volg, is in Januarie 1864 bygelê. In ’n tweede Presidentsverkiesing in Maart 1864 is MW Pretorius as President verkies.
1842 – Melt Jacobus (Melt) Brink, digter en dramaturg († 3 September 1925)
Melt Jacobus Brink is in Kaapstad gebore en sterf daar op 3 September 1925. Hierdie gewilde Afrikaanse Vader Cats, wat ’n kultuurfaktor van groot betekenis in sy eie tyd was en ’n skakel vorm tussen die Hooghollands waaruit hy spruit en die Afrikaans waartoe hy geleidelik oorgaan, se letterkundige werksaamhede bestaan uit ’n groot aantal toneelstukke en digbundels, waaronder sewe bundels Grappige stories en ander Versies (1893 tot 1909), Reis naar Kaapstad van Oom Gijsbert van Graan (1904), Die storie van Klaas Windvoël, Die ou Hotnot (1910) en drie bundels Nationale en Afrikaanse gedigte in Kaaps-Hollands (1916 tot 1920).
STERFTES
1947 – Barend Cilliers, Boerekryger (* 13 November 1866)
Barend Cilliers, wat op 13 November 1866 op Senekal gebore is, het in die Anglo-Boereoorlog as dapper vegter die stryd teen die Britse magte in die Vrystaat gevoer. Hy neem deel aan die bekende veldslae by Nicholsonsnek, Colenso, Spioenkop, Sannaspos, Mostertshoek, Dewetsdorp en Sprinkaansnek. Hy is vyf keer gewond, en met die Vrede van Vereeniging is hy spesiaal uitgesonder vir verhoor op aanklag van moord op lt. C Boyle, maar word vrygespreek. Hy skaar hom in 1914 by die Rebellie en word met die dood van genl. CF Beyers gevange geneem, veroordeel en dien tronkstraf in die Johannesburgse Fort uit. In 1920 word hy LPR vir Vredefort en in 1935 Senator tot sy dood.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.