17 JUNIE
GEBEURE
1795 – Kaapse burgers beset die drosdy in Swellendam waarna die Colonie van Swellendam uitgeroep word
Op 17 Junie 1795 het ’n aantal burgers van Swellendam by die Drosdy opgedaag waarby segsman Paul Fouche verklaar het dat Pieter Delport as Nasionale Kommandant aangewys is. Hy beveel die heemraad om die gebou te verlaat. Landdros Faure is ook uit Swellendam verban. ’n Vergadering van burgers is byeengeroep en Swellendam is as ’n onafhanklike republiek verklaar. ’n Nuwe bestuursliggaam is ingestel, naamlik die Nasionale Vergadering.
Die Nasionale Vergadering van die Republiek van Swellendam verklaar dan ook op hierdie dag vanuit die Drosdy: “Want wij lang genoeg in het juk der Slaverny zyn geweest en wy nu geresolveert zyn het leste droppel bloed voor onze lieve Vaderland te waagen en ons onder een Vrye Republiek te sorteeren.” Met hierdie resolusie het die Swellendamse Patriotte die gesag van die Kompanjie finaal afgeskud. Die VOC-vlag word gestryk en die rooi wit en blou vlag word gehys en dié vlag sou later die basis vorm van die Republiek van Natalia (1839), die Vierkleur (1857) en ook in die Vrystaatse vlag (1854).
1900 – Anglo-Boereoorlog: Hertzog as generaal aangestel
President MT Steyn bevorder regter JBM Hertzog na die rang van generaal en plaas hom in bevel van die Suidwestelike Vrystaat. Omdat Hertzog byna geen militêre ondervinding het nie en meer aansien as ’n organiseerder of politikus geniet, is sy aanstelling ietwat omstrede.
1901 – Anglo-Boereoorlog: David Lloyd George veroordeel konsentrasiekampbeleid
In ’n toespraak in die Britse parlement, veroordeel David Lloyd George, die opposisie-leier, die Britse konsentrasiekampbeleid. Hy stel dit onomwonde dat die reëls van moderne oorlogvoering die beleid afkeer. Ook stel hy dit duidelik dat die sterftesyfer eerder die wat nog veg, sal aanspoor om te volhard, as om oor te gee. “A barrier of childrens’ bodies will rise between the British (and other) races in South Africa.” William Redmond lewer op dieselfde dag ’n soortgelyke pleidooi.
1924 – Algemene Verkiesing
Genl. JC Smuts het na die samesmelting met die Unioniste party en die Volksraadsverkiesing van 1921 as Eerste Minister en leier van die Verenigde Party al sterker teenstand gekry van die Nasionale Party o.l.v. genl. JBM Hertzog en die Arbeidersparty o.l.v. kol. FHP Creswell. Laasgenoemde twee partye het in 1923 ’n ooreenkoms vir samewerking aangegaan (die Pakt). Na ’n nederlaag by ’n tussenverkiesing in April 1924 in Wakkerstroom bedank genl. Smuts sonder om sy kabinet te raadpleeg en bepaal ’n algemene verkiesing vir hierdie datum. Dit word deur die Pakt gewen met ’n meerderheid van 28 setels, en genl. Hertzog word Eerste Minister. In sy kabinet van 10 lede dien twee van die Arbeidersparty. Hieruit vloei o.m. die instelling van die departemente van arbeid en buitelandse sake en die eerste aanstelling van verteenwoordigers in die buiteland, verskeie stappe om die boeregemeenskap te help, die verheffing van Afrikaans by wet tot amptelike landstaal naas Nederlands en Engels, die skepping van ’n Suid-Afrikaanse nasionaliteit en ’n nasionale vlag, die bevordering van tweetaligheid in die staatsdiens, die invoering van ’n bepaling in die Grondwet om die soewereiniteit en leiding van die Voorsienigheid oor die Unie van SA te boekstaaf, die invoering van ’n beskermingsbeleid vir die eie nywerheid, wat ’n groot stoot aan SA ondernemings gee, die stigting van ’n eie yster- en staalbedryf (Yskor), die skepping van geleenthede vir werkverskaffing, ens. Twee groot ontwikkelinge kenmerk hierdie eerste Hertzog-bewind. Die eerste was die verkryging van grondwetlike outonomie vir SA as lid van die Statebond in die Balfour-verklaring van 1926, wat uitloop op die Statuut van Westminister in 1931. Die tweede was die begin van die uitvoering van genl. Hertzog se naturellebeleid, wat na ’n lang reeks parlementêre prosesse sedert 1926 uiteindelik gelei het tot die aanname van die Wet op die Naturelle-trust en -grond en die Naturelleverteenwoordigingswet in 1936.
1931 – Die Suid-Afrikaanse Vroue Landbou-unie (SAVLU) gestig
1964 – Hoërskool Groote Schuur ingewy
Nico Malan, Kaapland se administrateur, wy die gebou van die Hoërskool Groote Schuur, Kaapstad in.
1991 – Wet op Bevolkingsregistrasie opgehef
Die Wet op Bevolkingsregistrasie, een van die hoekstene van apartheid, word deur die Suid-Afrikaanse parlement opgehef.
GEBOORTES
STERFTES
1920 – Ds. Johannes Rudolph Albertyn, een van die mees gevierde kanselredenaars in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (* 8 Maart 1847)
Johannes Rudolf (die oue) Albertyn, seun van ds. en mev. PK Albertyn, is op Prins Albert gebore. Hy geniet sy skoolopleiding aan die Paarlse Gimnasium en gaan vervolgens na die Teologiese Kweekskool van Stellenbosch om hom vir predikant te bekwaam. Hy word as predikant gelegitimeer in 1871 en word predikant van die Kleurlinggemeente van St. Stephens in Kaapstad, waar hy twee jaar bly. Daarna is hy na die VSA, waar hy onder invloed van die evangelis Moody kom. Met sy terugkeer, belê hy ’n predikante-konferensie, en hieruit word gemeentelike konferensies belê wat later uitloop op spesiale evangelieprediking. Na sy ernstige siekte en herstel word hy ook aan die einde van sy lewe een van die eerste spesiale evangeliepredikers. Gedurende die Anglo-Boereoorlog besoek hy Boerekrygsgevangenes op St. Helena en Bermuda. In 1888 het hy al as predikant van Riversdal die gebruik begin om Nagmaal in die banke i.p.v. aan tafel te laat bedien. Met die Sinode van 1890 kry hy steun hiervoor, en dit word spoedig ’n algemene gewoonte in die kerk. Hy was een van die beste kanselredenaars wat die NG Kerk opgelewer het. Hy is oorlede op 17 Februarie 1920 op Wellington.
1967 – Tienie Holloway, skrywer van kinderliteratuur (* 5 Desember 1888)
Tienie Holloway was ’n Afrikaanse skrywer van kleuterliteratuur en het veral bekend geword vir die versies wat sy geskryf het. Sy was getroud met John Holloway, Suid-Afrikaanse ambassadeur na die Verenigde State van Amerika en die Verenigde Koninkryk.
2010 – Dawie Couzyn, sanger en skrywer (* 27 Junie 1925)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.