TIENIE HOLLOWAY (1888-1967)

Tienie Holloway was ’n Suid-Afrikaanse skrywer wat veral bekend was vir kinderliteratuur.

Christina Maria (Tienie) Purchase is op 5 Desember 1888 as die derde van twaalf kinders op die plaas Kraalpunt in die distrik Lindley in die Vrystaat gebore. Haar pa, George Purchase was die seun van ’n Engelse sendeling; hy het twee plase in die distrik, asook ’n suksesvolle wamakery besit.

Sy het aanvanklik by ’n plaasskool in die omgewing skoolgegaan, maar toe die Anglo-Boereoorlog op die punt gestaan het om uit te breek, het die gesin na Johannesburg verhuis. Weens ’n gebrek aan alternatiewe moes die Protestantse meisie die Katolieke Ursuline Convent bywoon; hier het sy uitgeblink in kunsnaaldwerk, ’n stokperdjie wat sy haar lewe lank beoefen het. Na die oorlog het die gesin teruggekeer na Lindley, maar aangesien alles op die plaas verwoes was, moes hulle noodgedwonge in ’n tent woon. Haar pa het egter daarin geslaag om ’n klein plaaslike staatskool op die plaas Chicago in die omgewing op te rig. Sy het by The Seminary in Bloemfontein gematrikuleer en later aan die Normaalkollege in Bloemfontein in die onderwys gestudeer. Daarna het sy ’n pos as kindertuinonderwyseres aan die Prectising School in Bloemfontein aanvaar, waar sy ingevolge die Hertzog Onderwyswet van 1908 in Afrikaans en Engels klasgegee het.

In 1911 het sy kennis gemaak met haar toekomstige huweliksmaat, John Edward Holloway, wat toe pas by Grey Kollege aangestel is. Hulle is op 17 Desember 1913 getroud, waarna hulle dadelik na Gent in België, waar hy in die geskiedenis gestudeer het, vertrek het. Altesaam vyf kinders is uit die huwelik gebore. Toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, het hulle na Engeland uitgewyk, waar hy ’n student was in geskiedenis, ekonomie en staatsadministrasie aan die London School of Economics. Na hul terugkeer na Suid-Afrika is dr. Holloway as senior lektor aan die Grey Universiteitskollege in Bloemfontein aangestel, terwyl Tienie sy inkomste aangevul het deur tydelik skool te hou. In 1919 het die gesin hulle in Pretoria gevestig, waar dr. Holloway eers senior lektor en later professor aan die Transvaalse Universiteitskollege geword het. Hy het egter later tot die staatsdiens toegetree. In 1925 het hy direkteur van sensus en statistiek geword, in 1935 die ekonomiese adviseur van die tesourie en in 1937 sekretaris van finansies. Later word hy as ambassadeur aangestel, eers in Washington van 1954 tot 1956 en toe in Londen van 1956 tot 1958. As ambassadeursvrou het Tienie ’n belangrike rol in die diplomatieke sosiale lewe vertolk.

Tienie se oudste lewende dogter het kinderverse wat in Die Volkstem gepubliseer is, geskryf, maar toe sy oorsee vertrek het, het Tienie hierdie funksie op aandrang van die redakteur oorgeneem. Sy het eers bekende verse vertaal maar later oorspronklike verse onder die skuilnaam Madeliefie begin skryf. Toe daar spottenderwys na haar man as Padeliefie verwys is, het sy besluit om eerder onder haar eie naam te skryf. Die temas van haar verse was gewoonlik die dinge waarin jong kinders belangstel, onder meer die kind self, die gesin, maats, die omgewing en eetgoed. Vir laerskoolkinders het sy langer gedigte geskryf , onder meer die gedig “Haasbekkies”, oor tande wat uitval. Haar verse is gepubliseer in bundels soos Hasie kalbassie, Die haasbekkies, Nuwe kleuterversies, Doempie Domkop, Martha-hulle en Nuwe kinderversies. Haar verse is ook vanaf 1944 in die Lentedae-skoolleesboekreeks opgeneem.

Sy het tot voor haar dood op die kleinhoewe Skuilkrans langs die Moreletaspruit in Pretoria gewoon, en op 17 Junie 1967 is sy in die ouderdom van 78 jaar oorlede. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het haar vereer deur die Tienie Holloway-medalje vir kinderliteratuur op inisiatief van haar man in te stel. Hierdie toekenning is vir oorspronklike Afrikaanse kinderlektuur vir kinders onder agt jaar, spesifiek gerig op kinderverse. Hierdie medalje is in 1979 postuum aan haar toegeken vir Rympies van Tienie Holloway en Versies van Tienie Holloway.

deur Daantjie Badenhorst