17 NOVEMBER
GEBEURE
1815 – Slagtersnek-rebellie
1892 – Eerste gaslamp in Johannesburg
Die eerste gaslamp in Johannesburg word buite die landdroskantoor op die Markplein geïnstalleer.
1939 – Die FAK se Ekonomiese Instituut gestig
Die FAK is op sy eerste Ekonomie Volkskongres, wat van 3 tot 5 Oktober 1939 in Bloemfontein gehou is, versoek om ’n Ekonomie Instituut in die lewe te roep om uitvoering te gee aan die kongresbesluite en om sodanige verdere stappe te doen as wat hy bevorderlik ag vir die ekonomiese opheffing van die Afrikaner – ’n benarde ekonomiese toestand waarin die Afrikaner daardie tyd verkeer het. In die Instituut is verteenwoordiging gebied aan die FAK se Uitvoerende Komitee en sy Ekonomiese Kommissie, en aan Afrikaanse finansiers, nyweraars, handelaars, boere, arbeidersorganisasies, universiteite en handelsopleidingskolleges en die Armesorg-organisasies van die Afrikaanse kerke. Die sekretariaat van die Instituut is deur die FAK hanteer. Nog ’n opdrag aan die Instituut was die beheer oor die Reddingsdaadfonds, wat in 1938 met die Simboliese Ossewatrek op aandrang van doktor JD Kestell gestig is. Op sy eerste vergadering op 1 Desember 1939 het die Ekonomie Instituut sy eerste ampsdraers en dagbestuur aangewys: professor LJ du Plessis (voorsitter), professor N Diederichs (ondervoorsitter), meneer IM Lombard (penningmeester), doktor PJ Meyer (sekretaris), doktor GEN Ross, doktor Albert Hertzog en doktor TE Dönges. Op 8 Desember 1939 het die dagbestuur ’n omvattende volksorganisasie gestig – die Reddingsdaadbond – wat geleidelik losstaande verenigings in hom sou opneem of waarby bestaande liggame ingeskakel kon word. Die Reddingsdaadbond het in 1956 ontbind en sy bates aan die Ekonomiese Instituut oorgedra. Die Instituut het die ekonomiese opheffing van die Afrikaner in die wydste sin aangepak en komitees gestig vir kapitaalkrag, landbou, spaar- en arbeidskrag, vryetydsbesteding, verbruikers- en volksorganisasies, armesorg, navorsing, voorligting, beurse, studielenings en handelsopleiding. Van die bakens wat die Ekonomie Instituut geplant het, het later as reuse in die SA ekonomie gestaan: Federale Volksbeleggings, die finansieringsmaatskappy wat in opdrag van die Volkskongres deur dr MS Louw tot stand gebring is, en die Afrikaanse Handelsinstituut, wat op 24 Augustus 1942 gestig is met sy eerste bestuur onder leiding van meneer JG van der Merwe as voorsitter en doktor MS Louw as ondervoorsitter – later in 1974 was Andries Stockenström die president en ene doktor Pretorius die hoofekonoom. Die Ekonomie Instituut het bly voortbestaan tot op 21 Desember 1965, toe dit ontbind en al sy eie bates aan die FAK oorgedra is.
1977 – Dam geopen
Die P.K. le Rouxdam (nou Vanderkloofdam), ’n integrale deel van die ontwikkelingsprojek vir Oranjerivier om elektriese krag, besproeiing en vloedbeheer te verskaf, word amptelik deur premier John Vorster ingewy. Dit is gebou teen ’n koste van R94 miljoen.
GEBOORTES
1903 – Dr. Nicolaas Johannes (Nic) Diederichs, politikus en derde Staatspresident van Suid-Afrika (1975–1978) († 21 Augustus 1978)
Die Suid-Afrikaanse politikus Nicolaas Johannes Diederichs is op 17 November 1903 in Ladybrand gebore. Hy sluit by die Nasionale Party aan en word tot die parlement verkies vir Randfontein in 1948, in 1958 vir Losberg en eindelik vir Overvaal in 1974. Hy het ook in 1940 die hoofleier van die Reddingsdaadbond geword en hom daarvoor beywer om die Afrikaner op ekonomiese gebied tot sy reg te laat kom. Hy was ook sekretaris van die Ekonomiese Instituut van die FAK gedurende die tyd. Hy is van 1958 tot 1967 Minister van Ekonomiese Sake en van 1961–1964 ook Minister van Mynbou. As Minister van Finansies gedurende die tydperk 1967–1975 speel hy ’n leidende rol in die kabinet. Gedurende die tydperk het sy ywer oor die hele wêreld om die erkenning van goud te bevorder, hom wêreldwyd as Mnr. Goud laat bekend staan. Op 19 April 1975 word hy as Suid-Afrika se Staatspresident ingehuldig en vanaf 19 April 1975 tot en met sy dood op 21 Augustus 1978 in Kaapstad beklee hy die amp van Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika en word deur Marais Viljoen opgevolg.
STERFTES
1713 – Abraham van Riebeeck, seun van Jan van Riebeeck (* 18 Oktober 1653)
Jan van Riebeeck se seun, Abraham, was die tweede blanke kindjie wat in die fort De Goede Hoop gebore is. Op sewejarige ouderdom word hy en sy ouer broer, Lambertus, na Nederland gestuur waar hy hom in die regte bekwaam het. As VOC-amptenaar kom hy in 1677 in Batavia aan, waar hy hom deur sy bekwaamheid en ywer sodanig onderskei dat hy in 1708 die hoogste sport in diens van die VOC bereik, nl. goewerneur-generaal van Oos-Indië. Volgens sy tydgenote was hy wel ter tale, onbesproke van karakter en beskeie – ’n man met ’n wakker gees en wye belangstelling. Hy het verskeie ontdekkingsreise onderneem en was sover bekend die eerste persoon wat die kruin van Tangkuban Perahu in Indonesië bereik het. Hy het op pad huis toe disenterie opgedoen waarvan hy nooit herstel het nie en is in die ouderdom van 60 jaar op 17 November 1713 in Batavia oorlede.
1970 – Prof. Thomas Hugo (TH) le Roux, akademikus, taalkundige en fonetikus (* 18 Maart 1883)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.