18 FEBRUARIE
GEBEURE
1766 – Probleme op die slaweskip Meermin
Enkele dae tevore het ’n skip bekend as die Meermin vanuit Madagaskar na die Kaap vertrek. Die skip het aan die VOC behoort en het ’n vrag slawe aan boord gehad. Die kaptein het die slawe jammer gekry, hul kettings afgehaal en hulle op die dek laat rondbeweeg. Samelopend het hy aan enkeles van hulle ’n paar assegaaie gegee om op te vryf en blink te maak. Die gevolg hiervan was dat die bemanningslede oorval is en net meer as die helfte om die lewe gebring is. Omrede die slawe nie geweet het hoe om die skip te hanteer nie, is ’n ooreenkoms met die bemanning wat oor was, aangegaan. Hulle sou hul lewens spaar mits hulle teruggeneem word na Madagaskar. Uiteraard het laasgenoemde ingestem. Die slawe is egter om die bos gelei aangesien die bemanning reguit na Kaap Agulhas gevaar het. Kort nadat Kaap Agulhas bereik is, is anker gegooi en het ’n deel van die slawe aan land gestap. Die plan was dat hulle seinvure aan die brand sou steek indien alles in orde was. Aan wal is die slawe egter oorval en kort daarna die ander ook. Van die 140 slawe aan boord het 112 die dag omgekom.
1853 – Hopetown gestig
Die Ring van Graaff-Reinet het op versoek van die inwoners in die omstreke besluit om die plaas Duvenaarsfontein van SC Wiid aan te koop. Die dorp is vernoem na majoor William Hope, destydse ouditeur-generaal van die Kaapkolonie. Volgens die Cape Monthly Magazine (1876 bl. 172) het die gemeente ook die naam Hoopstad op ’n tyd gehad.
1854 – Stigting van NG gemeente Hopetown op die plaas Duvenaarsfontein, Noord-Kaap
1857 – Die Nasionale Selfmoord van Xhosas
1858 – Grondwet van ZAR
Die Grondwet van die ZAR word uiteindelik bekragtig deur ’n Volksraad waarin Soutpansberg ook verteenwoordig word, waarna Stephanus Schoeman amp as kommandant-generaal aanvaar.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Paardeberg
Die Slag van Paardeberg was ’n groot veldslag tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Die slag is naby Paardebergdrif gevoer op die walle van die Modderrivier in die Oranje-Vrystaat naby Kimberley. Die slag het gevolg net na Britse magte Kimberley ontset het na die Boeremagte se beleg van die dorp. Die terugtrekkende Boeremag onder bevel van Piet Cronje is vasgekeer by Paardeberg en tot oorgawe gedwing na ’n beleg wat gevolg het op ’n mislukte direkte aanslag teen die Boeremagte deur Generaal Kitchener.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Die slag by Monte Cristo, Natal
1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Brakpan, Hartebeesfontein, Transvaal
Lt.kol. S von Donop vang die laer van ene Celliers by Brakpan, noord van Hartbeesfontein. Veertig burgers is gevang.
1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Cyferfontein
By Cyferfontein, net noord van Brakpan, val ’n mag onder Methuen ’n kommando aan. Dit is ’n gekombineerde kommando bestaande uit burgers van Wolmaransstad, Lichtenburg en Potchefstroom. Generaals Du Toit, Celliers en Liebenberg is egter wakker en lus vir ’n geveg. Beide kante sukkel egter om mekaar die loef af te steek en die geveg eindig onbeslis. Aan Britse kant is 49 dood en/of gewond en aan Republikeinse kant val 18 man.
1902 – Kmdt. Gideon Scheepers tereggestel
Op die ouderdom van sestien het Gideon Jacobus Scheepers tot die Transvaalse Artillerie in Pretoria toegetree. Vanaf 1894 dus sou hy in militêre kringe beweeg. Hy was skrander, fier, bekwaam en baie gewild. Die manne het hom Die Springbok van die Hoëveld genoem. Scheepers is opgelei as heliograaf deur luit. Paul C Paff, en sy skoolonderrig het onder maj. Thomas Kroon voortgegaan. Heliografie is ’n metode van kommunikasie met sonligflitse, en Gideon was spoedig so behendig in die stuur en lees van boodskappe, soms oor groot afstande, dat hy soveel aandag getrek het dat maj. Richard Albrecht van die Vrystaat-Artillerie vir pres. Kruger gevra het of hy Scheepers kan leen om sy jong manne op te lei. Soos John of Johnie (so het almal hom genoem) volwassener geword het en in rang bevorder is, het hy ’n taamlike groot snor gekweek wat effens vreemd lyk op sy mooi jong gesig. Dit was egter na die militêre tradisie, en hy was pure soldaat, hoewel ook fyngevoelig en soms emosioneel. Hy het hegte vriendskappe gesluit, en sy makkers het hom aanbid, want hoewel streng, was hy altyd bedagsaam, getrou, vol pret en waaghalsigheid. Net voor die uitbreek van die oorlog in Oktober 1899 het hy met die oprigting van heliografiese stasies begin en hom toe by die kommando’s aangesluit. Hy sou een van genl. De Wet se baasverkenners word en baie sou met hom saamwerk totdat hy met sy eie klein kommando Kaapland binnegeval het. Scheepers se rol in Kaapland was so belangrik dat hy tot kommandant bevorder is. Hy en sy jong kêrels het almal opslaanhoede met wit bande en volstruisveerpunte gedra, en hul waaghalsige ondernemings het hulle baie bekend laat raak. Gideon Scheepers het die verbeelding van alle Afrikaners en ook Engelssprekendes begin aangryp. Duisende Engelse soldate het hom agternagesit – sonder welslae. Toe word hy skielik so siek, blykbaar blindedermontsteking, dat hy sy manne verplig het om hom te verlaat en toegelaat het dat die Engelse hom vang. Hulle het hom en Graaff-Reinet toegesluit en na ’n verspotte verhoor deur ’n vuurpeloton laat doodskiet. Hy is op so ’n geheimsinnige wyse begrawe dat sy stoflike oorskot nooit gevind is nie. Gideon Scheepers het ’n dagboek geskryf waarvan slegs die slotgedeelte nog gevind is. Tog is dit ’n belangrike menslike dokument, en van nog groter belang is hoe sy loopbaan en tragiese einde die volk aangegryp het. Baie skrywers en digters, van Olive Schreiner tot DJ Opperman, het in sy verhaal inspirasie geput, sodat Gideon Scheepers deel van ons kultuurbesit geword het. In 1978 is in sy eeufees-geboortejaar ’n monument tot sy eer buite Graaff-Reinet onthul.
1925 – Afrikaans amptelike taal
Hollands word met Afrikaans vervang as amptelike taal naas Engels, deur ’n gesamentlike sitting van die Volksraad en Senaat.
GEBOORTES
STERFTES
1546 – Martin Luther, teologiese grondlegger en leraar van die Reformasie (* 10 November 1483)
Martin Luther is op 10 November 1483 in Eisleben gebore en op 18 Februarie 1546 oorlede. Die magtige protes van “die monnik wat die wêreld geskud het” teen die dwaalleringe en misbruike van die Kerk van sy tyd, het op die groot Kerkhervorming van die sestiende eeu in Europa, met sy verreikende gevolge op kerklike, maatskaplike en staatkundige gebied oor die wêreld heen uitgeloop. Sy vertaling – met die hulp van ’n paar kundige vriende – van die Bybel in die Duitse volkstaal, het ’n onberekenbare groot invloed op die loop van die Hervorming sowel as op die taalontwikkeling in Duitsland gehad, en tot vandag toe het geen Duitse vertaling dié van die Hervormer verdring nie. Die eerste volledige uitgawe daarvan het in 1534 verskyn.
1831 – Lord Charles Somerset, goewerneur van die Kaap die Goeie Hoop (* 2 Desember 1767)
1920 – Samuel (Sammy) Marks, nyweraar en finansier (* 11 Julie 1844)
2011 – Lucas Lodewyk Maree, bekende Afrikaanse sanger en liedjieskrywer (* 22 Julie 1952)
Lucas Maree was ’n bekende sanger en liedjieskrywer. Hy was veral bekend vir sy treffer “Ek sou kon doen met ’n miljoen”. M-Net het die liedjie vir hulle TV-reeks Doen met ’n miljoen gebruik.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.