LUCAS MAREE (1952-2011)
Nadat Koos du Plessis in 1984 in ’n motorongeluk dood is, was die musiekbedryf op soek na ’n sanger en liedjieskrywer wat hom sou opvolg.
Lucas Lodewyk Maree is op 22 Julie 1952 in Johannesburg gebore en het aan die Laerskool Danie Malan en die Hoërskool Langenhoven in Pretoria skoolgegaan. Hy het die BA Drama-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf en daarna ook die Nasionale Diploma in Filmproduksie en in Fotografie.
Lucas het aanvanklik in Engels gesing en geskryf maar in 1982 sy eerste Afrikaanse liedjie geskryf. Hy het saam met Koos du Plessis gewerk en was goed bevriend met Jannie du Toit, wie se huiskonserte hy gereeld bygewoon het. Dit was ook waar hy en Coenie de Villiers mekaar ontmoet het. Lucas, Coenie en Jannie het daarna gereeld saam opgetree.
Lucas se eerste Afrikaanse album, Kiekies, het in 1984, minder as ’n jaar na Koos du Plessis se dood, verskyn. Benewens die titelsnit was die grootste treffer op die album “Victoriabaai”, wat Lucas ter nagedagtenis aan sy ma geskryf het. Nog ’n snit wat baie aandag getrek het, was “Wiegeliedjie”, waarop Karlien van Niekerk, wat later weer saam met hom gewerk het, saam met hom gesing het. In 1986 het Lucas, Coenie, Jannie en Nick Taylor hulde aan Koos gebring deur ’n album getiteld Koos se plaat op te neem. Hoewel “Gebed” een van Koos se bekendste komposisies is, het hy dit nooit self opgeneem nie, maar Lucas en Jannie se opname is hier ingesluit.
In 1989 het Lucas deel geword van Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek, en hul album Winde van verandering, wat profeties was oor die politieke veranderinge wat kort daarna plaasgevind het maar niemand sien kom het nie, is baie goed ontvang. Helena Hettema en Karlien van Niekerk was ook deel daarvan. Lucas se bydrae as liedjieskrywer tot hierdie album was “Jerigo se mure”. Lucas het egter nie van die politieke strekking van die album se lirieke gehou nie en het hom aan die projek onttrek.
Met Miljoen het Lucas se gewildheid geweldig toegeneem, veral omdat byna almal hulle met die titelsnit kon vereenselwig. Daarby was “Droomvrou”, wat hy vir sy vrou geskryf het, baie gewild. Lucas het ook ’n solo-opname van “Jerigo se mure” ingesluit. Soos Lucas destyds gesê het, was die sentrale tema die soeke na iets, soos vryheid (“Die arend”), verlore jeug (“Die tyd”), die ideale lewensmaat (“Droomvrou”), geselskap (“Nog een koppie koffie”) en iemand wat na jou luister (“Die bedelspeler”) om net ’n paar te noem. In dieselfde jaar het Laurika Rauch sy komposisie “Die tyd stap aan” op haar album Die gang ingesluit. Die kiekies-konsert (Weer ’n keer) het die treffer “Die weduwee se kruik” bevat, terwyl hy “Die tyd stap aan” self ook vir hierdie album opgeneem het. Tydens die rolprent You must be joking het Leon Schuster vir Lucas uitgevang, en ’n plaat van hom wat tydens ’n musiekprogram gespeel is, laat vashaak. Lucas het bewys dat hy nie ’n wrok teen Leon gekoester het nie deur self op hierdie album daarmee te spot. Sy album Mot om die kers is in 1998 met ’n SAMA-toekenning vir die beste Afrikaanse album bekroon. Twee liedjies wat hy geskryf het maar ander kunstenaars tevore opgeneem het, is ingesluit, naamlik “Stoomtrein” en “Die N1-roete Noord”, wat onderskeidelik deur Laurika Rauch en Manuel Escorcio opgeneem is. Lucas het ook lekker met homself gespot in “Die maer-liedjie”, waarin hy van sy gesukkel om klere te kry wat vir hom gepas het, gesing het.
Lucas se kinders het blykbaar gedink die ou FAK-liedjies was nie “cool” genoeg nie, maar hy het ’n plan gehad. Hy het die woorde van ’n aantal daarvan herskryf; sommige mense het daarvan gehou terwyl dit ander gewalg het omdat hulle dit nie as snaaks beskou het nie en dit vir hulle heiligskennis was. In 2007 het Lucas vir die eerste keer in ’n rolprent gespeel toe hy in Ouma se slim kind te sien was. Die volgende jaar was hy die eerste kunstenaar wat ’n Blu-Ray HD-opname in Afrikaans gemaak het; sy dogters het saam met hom opgetree, asook jarelange kollegas soos Christa Steyn, Jannie du Toit, Coenie de Villiers, Mathys Roets en André Swiegers. Die laaste album waaraan Lucas self gewerk het, was Lankverwag in 2009, waarop hy, naas sy eie komposisies, ook bekende liedjies soos “Onder in my whiskyglas” van Koos Kombuis, “Kinders van die wind” van Koos du Plessis, “Liedjie vir jou” van Jannie du Toit, “Vir jou” van Coenie de Villiers, “Sawends” van Jan Pohl en “Klein Karoo” van Sias Reinecke. Die een oorspronklike komposisie wat wel uitgestaan en ’n treffer geword het, was “Die afskeid” (Ons praat en ons praat).
Nadat dit in 2010 bekend geword het dat Lucas kanker gehad het, het Alexa Strachan, Mathys Roets en Mathys Maree in samewerking met die tydskrif Sarie aan die album Een uit ‘n miljoen – vir Lucas, gewerk waarop verskeie bekende kunstenaars Lucas se bekendste liedjies opgeneem het, onder meer Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Richard van der Westhuizen, Lochner de Kock, Anton Goosen en Dozi.
Lucas is op 18 Februarie 2011 oorlede. In 2016 het Jannie du Toit en Thean Kotze hulde aan hom gebring toe hulle die album Kiekies – Lucas se liedjies, opgeneem het en op 18 Februarie 2020, presies nege jaar na sy dood, is ’n gedenkplaat ter nagedagtenis aan hom by die FAK-liedjietuin opgerig.
deur Daantjie Badenhorst