19 FEBRUARIE

GEBEURE

1730 – Jan de la Fontaine as goewerneur van die Kaapkolonie benoem

Die Kaapse koloniste het op hierdie dag met blydskap verneem dat Jan de la Fontaine die nuwe goewerneur aan die Kaap sou wees nadat hy reeds 20 jaar getroue diens aan die Kompanjie gelewer het. Hy het die agting en liefde sowel van die burgers as van die amptenare aan die Kaap geniet. Soos die gewoonte onder die vooraanstaande Kapenaars van die 18de eeu was, is daar ook in die huis van die goewerneur musiek gemaak en verskeie musiekinstrumente bespeel. In 1735 laat die goewerneur vir sy dogter ’n kamer orrel met tien tot twaalf registers bou. Met sy vertrek na Nederland in 1737 het hy hierdie orrel aan die kerkraad van die Groote Kerk in Kaapstad verkoop. Dit was die eerste kerkorrel in Suid-Afrika.

1837 – Piet Retief en ’n groep Voortrekkers arriveer in Natal

1856 – Vrystaatse onafhanklikheidsdag tot feesdag verklaar

Aangesien die onafhanklikheid van die Vrystaatse republiek in ’n sekere sin op die inwoners van die gebied afgedwing is en ’n gedeelte daarteen geprotesteer het, was daar met die ondertekening van die Bloemfontein-konvensie op 23 Februarie 1854 naas ’n klompie kanonskote nie van feesvieringe sprake nie. Ook die Republiek se eerste verjaarsdag het heel ongemerk verbygegaan, maar op 18 Februarie is besluit dat die aanstaande “Zaterdag, de 23ste Februarij, gevierd zal worden als een publieke feestdag, ter herinnering van den vrijdom van onzen Vrijstaat en dat het in vervolg jaarliks zal worden gehouden.” Ondanks die besluit, is geen besondere feesprogram afgehandel nie, want selfs die Volksraad het op daardie dag met sy gewone werksaamhede voortgegaan. Eers die volgende jaar sou 23 Februarie as feesdag tot sy reg kom.

1896 – Dinamietontploffing in Braamfontein

Die Braamfonteinse dinamietontploffing naby Johannesburg se middestad eis tientalle lewens en lê talle geboue in puin, onder meer die eerste kerkgebou van die NG gemeente Fordsburg. Ds. Abraham Kriel het ná die eerste begrafnis van 127 slagoffers “soos ’n kind gesnik”.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Hlangwane, Natal; by Drodrecht, Kaapkolonie

Aan die Natalse front vee Genl. Buller se mag alle weerstand wat nog op Monte Cristo is skoon. Daarna laat grawe hy sy troepe behoorlik in, en beweeg met ’n deel van sy mag na Hlangwana. Teen ongeveer 11:00 die oggend was Hlangwane in Britse hande.

 

GEBOORTES

1811 – Louis Henri Meurant (Klaas Waarzegger), skrywer, joernalis, uitgewer, redakteur en pionier van Afrikaans († 29 Maart 1893)

Louis Hendri Meurant, ’n man van Switsers-Britse afkoms, is op 19 Februarie 1811 aan die Kaap gebore en het groot geword by ’n Afrikaanse familie. Hy was onder meer joernalis, redakteur en uitgewer, magistraat, kommandant en Kaapse parlementslid tot sy dood in 1893. Hy lê hom aanvanklik op die drukkersberoep toe en verlaat Kaapstad in 1828 as gekwalifiseerde drukker. In Grahamstad gee hy vanaf 1831 die eerste Oos-Kaapse koerant uit, die Graham’s Town Journal en vanaf 1844 tot 1850 Het Kaapsche Grensblad. In laasgenoemde verskyn twee reekse briewe en dialoë oor aktuele aangeleenthede – almal in Afrikaans – en verskeie deur Meurant onder verskillende skuilname. In 1860-’61 publiseer hy sy beroemde Zamespraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twyfelaar in The Cradock News wat ’n geweldige lesertal geniet. In April 1861 word dit in boekvorm uitgegee – die eerste Afrikaanse boek! Die skuilnaam Klaas Waarzegger word byna simbool van Afrikaner-wees en speel ’n belangrike rol tot in die eerste Taalbeweging.

1921 – Dr. Andries Petrus Treurnicht, politikus, kabinetsminister, koerantredakteur en predikant (†22 April 1993)

Dr. Andries Treurnicht was ’n kabinetsminister, leier van die Konserwatiewe Party, NG predikant, koerantredakteur en provinsiale rugbyspeler.

 

STERFTES

1938 – Daniël de Waal, regter-president in Transvaal (* 10 Julie 1873)

1970 – Dr. Hendrik Johannes van Eck, ingenieur en nyweraar (* 27 April 1902)

Hendrik Johannes van Eck wat met reg beskou kan word as die vader van die Nywerheidswese in Suid-Afrika, is op 27 April 1902 te Kimberley gebore. Onder sy besielende en geïnspireerde leiding, veral as voorsitter van die NOK, is positiewe gestalte verleen aan die Suid-Afrikaanse Nywerheidswese. Hy is op 19 Februarie 1970 oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/