LOUIS HENRI MEURANT (1811-1893)
Klaas Waarzegger was die skrywersnaam van Louis Henri Meurant, wat in die 19de eeu ’n drukker, joernalis en bevorderaar van die Afrikaanse taal was.
Hy is op 19 Februarie 1811 gebore en het ’n ouer suster gehad. Sy pa, Louis Balthazar Meurant was Franssprekend en van Basel in Switserland afkomstig, en sy ma, Eliza Humphreys uit Londen. Sy ma is oorlede toe hy sewe jaar oud was, en daarna het die Hollands-Afrikaanse familie van MJ Smit, ’n boumeester en argitek, hom onder hul sorg geneem. Hy het verafrikaans en is op 3 Maart 1831 met Charlotte, een van die dogters in die gesin, getroud. Altesaam agt kinders is uit hierdie huwelik gebore.
Hy het die drukkersberoep aangeleer en sy pa het ’n drukpers vir £ 200 by die beroepsdrukker Grieg gekoop met die verstandhouding dat Grieg die jong seun moes oplei en later as vennoot moes inneem. Op 7 Januarie 1824 het die tweetalige South African Commercial Advertiser verskyn en kort daarna het die stryd om vryheid van die pers teen Lord Charles Somerset losgebreek.
In 1825, toe hy omtrent dertien jaar oud was, het hy sy buiging as akteur gemaak in Charles Etienne Boniface se geselskap Honi Soit qui Mal y Pense se opvoering van Moliére se De Burger Edelman. Teatermense soos Boniface en J Suasso de Lima het onder sy kennisse getel en hy het klaarblyklik van hul eerste pogings in Afrikaans gepubliseer.
In 1826 is sy pa oorlede en nadat hy in 1828 sy opleiding as drukker voltooi het, het hy na die binneland vertrek en hom in Graaff-Reinet gaan vestig. Hier het hy onder meer as jagter rondgetrek en in 1829 het hy aan die oorlog teen die Xhosas deelgeneem. In 1830 het hy weer ’n drukpers gekoop en op 30 September 1831 het die eerste koerant in die Oostelike Provinsie, die Graham’s Town Journal waarvan hy eienaar, drukker en redakteur was, verskyn. In 1834 het hy vir Robert Godlonton as vennoot ingeneem, en in 1839 het hy sy aandeel aan Godlonton verkoop. Met hierdie geld het hy ’n kleinhandelswinkel geopen. Intussen het hy in 1834/35 as kaptein van die Grahamstadse vrywilligers aan die tweede oorlog teen die Xhosas deelgeneem. Hy kon sy taalkennis tot sy voordeel gebruik en in 1837 het hy as tolk in Nederlands vir sir Benjamin d’Urban opgetree. In 1845 was hy ’n beëdigde vertaler van die Hooggeregshof. Hy het noue bande met die Voortrekkerleiers in die Oos-Kaap, veral Piet Uys en Piet Retief, gehad en waardevolle dokumente van hulle ontvang.
Hy het nie lank in die kleinhandel uitgehou nie en na die drukkersberoep teruggekeer. In 1840 het hy die drukker van JG Franklin se Cape Frontier geword en vier jaar later het hy weer sy eie koerant, die Nederlandse weekblad Het Kaapsche Grensblad, uitgegee. Hierdie koerant, wat op 12 Julie 1844 vir die eerste keer verskyn het, het in 1850 opgehou bestaan. As kommandant van die Grahamstadse Naturellesake het hy deelgeneem aan die oorloë teen die Xhosas in 1846 en 1847, en in 1846 was hy die aanvoerder van die mag wat die grensboere aan die Visrivier ontset het. Hy was ook die aanvoerder van die burgers van Olifantshoek tydens die grensoorlog van 1850 tot 1853 wat deur Cathcart beëindig is. In 1852 was hy as tolk saam met WS Hogg en CM Owen, wat samesprekings met genl. AWJ Pretorius gevoer het, die Sandrivier-konvensie gesluit het en onderhandelinge met Moshesh aangeknoop het. Later het hy Hogg se sekretaris geword.
In 1853 het hy ’n betrekking as magistraat by Katrivier aanvaar, en hy het daarby lid van die landraad van Katrivier en Chumie geword. Hy is in 1857 bevorder tot Siviele Kommissaris en magistraat. Hy het Cradock van 1859 tot 1864 en Fort Beaufort van 1864 tot 1874 in hierdie amp bedien. In die klein gemeenskap van Fort Beaufort was hy egter ongewild, omdat hy as outokraties, bemoeisiek en partydig beskou is. WJ Quin, die seun van die parlementslid van Fort Beaufort en redakteur van die Fort Beaufort Advertiser, het in Julie 1871 ’n versoekskrif aan die regering gestuur om Meurant elders te verplaas. In reaksie daarop het Meurant ’n lastereis ingestel; hy het gewen, maar in 1874 is hy met rangvermindering na Clanwilliam verplaas. Hy het tot 1877 op Clanwilliam gedien en daarna op Riversdale, waar hy in Desember 1881 afgetree het.
Meurant se betekenis vir Afrikaans het daarin gelê dat hy een van die eerste skrywers was wat ernstig van Afrikaans gebruik gemaak het. In die 1840’s het hy in Het Kaapsche Grensblad verskeie Afrikaanse briewe en samesprake geskryf en die doel hiervan was waarskynlik net om lesers te amuseer. Dit het duidelik geblyk uit die skuilname wat hy gebruik het, onder meer Platjie Wysneus, Sabiena Zeekoeygat en Elsie Beuzemstok. Terwyl hy magistraat op Cradock was, het daar in Desember 1860 ’n Afrikaanse byvoegsel in die plaaslike Engelse koerant The Cradock News verskyn. Die titel daarvan was Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twijfelaar over het onderwerp van Afscheiding tusschen de Oostelijke en Westelijke Provincie. Hierin het die wakker neef Klaas Waarzegger die konserwatiewe oom Jan Twijfelaar en sy vrou, tant Elsie, bearbei om hul steun te gee aan die afskeiding van die Oos-Kaap om ’n eie regerende liggaam te verkry. Die gesprekke was onderhoudend en geestig en dit was joernalistiek wat baie naby aan letterkunde gekom het. Hy het groot impak hiermee gemaak en dit het soveel belangstelling gewek dat die uitgewers van die koerant ook ’n Nederlandse koerant bekend as Het Cradockse Nieuwsblad, waarin hierdie gesprekke voortgesit is, opgerig het. Die samespraak is in sy geheel of gedeeltelik ook deur ander Nederlandse koerante soos Het Volksblad en De Zuid-Afrikaan oorgeneem sodat dit algemeen bekend geword het. Die gewildheid daarvan het veroorsaak dat dit in 1861, toe dit al uit ses dele bestaan het, in boekvorm uitgegee is en landwyd versprei is. Dit was die heel eerste prosawerk in Afrikaans. Hoewel sy primêre doelwit, naamlik die onafhanklikheid van die Oos-Kaap, onsuksesvol was, het hy ’n beduidende aantal mense van die skryfbaarheid van Afrikaans oortuig. Dit het van hom ’n belangrike literêr-historiese figuur gemaak.
Meurant het hom van 1860 af met hart en siel vir die onafhanklikheid van die Oos-Kaap beywer, maar nie in sy doel geslaag nie. In 1881 was hy die stigter van die plaaslike tak van Onse Jan se Boerebeskermingsvereniging waarvan hy die eerste voorsitter was. Van 1884 het hy as parlementslid van die Kaapse regering gedien en van 1887 tot 1888 was hy burgemeester van Riversdale. Sy vrou, Charlotte, is in 1888 oorlede en hy is in 1891 met Susanna Cornelia Alleman getroud.
Hy is op 29 Maart 1893 in die ouderdom van 82 jaar oorlede.
deur Daantjie Badenhorst