19 JULIE
GEBEURE
1786 – Stigting van Graaff-Reinet
Die stigting van die dorp was genoodsaak, omdat die dorpe Stellenbosch en Swellendam te ver van die Oostelike grens geleë was en ook weens die wetteloosheid aldaar. Gedurende Desember 1785 word Maurits Woeke as landdros van die dorp (drosdy – geregtelike hof) aangestel. Aan hom was die opdrag gegee om ’n geskikte plek te vind waar die dorp aangelê kon word. Twee plase aan die Sondagsrivier wat aan Dirk Coetzee behoort het, is vir hierdie doel geïdentifiseer en aangekoop. Gedurende Julie 1786 is ses heemrade benoem en in Oktober het die landdros die drosdy geopen. Die dorp is vernoem na die laaste goewerneur van die H.O.I.K., Jacobus van der Graaf, en sy vrou Reinet. Die dorp was die vierde dorp in die land wat ’n drosdy gehad het. Die dorp was die laaste om gestig te word onder Hollandse bestuur. Gedurende 1795 is die dorp as ’n Republiek deur Adriaan van Jaarsveld geproklameer. Die bestaan was egter van korte duur. Die bekende Voortrekkers Gert Maritz was ondermeer wamaker in die dorp en Andries Pretorius was afkomstig vanuit die distrik na die Sneeuberge se kant. Tydens die Anglo-Boereoorlog is etlike van die sogenaamde Kaapse Rebelle in die dorp tereggestel. Die bekendste onder hulle was Gideon Scheepers.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Karoospruit, Palietfontein en Tierbank, Petrus Steyn; Paardeplaats, OVS
1921 – Baanbrekerskool op Boksburg word Afrikaans
Die Laerskool Baanbreker het in 1902 as CNO-skool begin. Met die Smuts-wet in 1907 word dit ’n staatskool met die voertale Engels en Nederlands. Die skool se naam is in 1911 van Erasmus Zaal School na die Boksburg East School verander. Reeds in 1915 het die skool geen enkele Engelssprekende leerling gehad nie. Joernaalinskrywings is egter nog in Engels gedoen en onderrig in Engels gegee. Onder die leiding van dominee JM Louw, NG predikant van Boksburg en veldprediker in 1900 se jare, is die onderrigtaal sedert 1921 slegs Afrikaans. Die bekende CL Leipoldt het in 1922 as skoolgeneesheer die skool besoek. In 1930 is ’n pragtige, nuwe gebou betrek. In 1934 het dit die betekenisvolle naam Baanbreker ontvang – simbool van die strydende vooruitgang van die Randse Afrikaner, ongeag teenkanting en swaarkry. In 1971 is weer eens ’n nuwe, moderne skoolgebou in ’n nabygeleë woonbuurt opgerig, maar die naam en die uitgangspunt is behou.
GEBOORTES
1906 – Hendrik Adolph Mulder (Willem Hessels), digter, dosent en literêre kritikus († 4 Mei 1949)
Hendrik Adolph Mulder is in Zaamlag, Holland, gebore. Sy pa was ’n predikant. Hy het in Amsterdam gestudeer en het in 1934 om gesondheidsredes na Suid-Afrika geëmigreer. Hy het in 1938 die graad MA in die letterkunde aan die Universiteit van Pretoria behaal. Nadat hy ’n tyd lank joernalis en vertaler was, het hy in 1941 dosent in Nederlandse kultuurgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria geword. Hy was van 1946 tot sy dood op 3 Mei 1949 dosent in Nederlands aan Rhodes-Universiteit. Hy is veral bekend as die eerste werklike literêre kritikus in Suid-Afrika, hoewel hy ook enkele digbundels die lig laat sien het. Mulder het veral in die jare dertig en veertig ’n bydrae tot die uitbou van die Afrikaanse letterkunde gelewer. Hy was medestigter van die literêre tydskrif Standpunte.
STERFTES
1725 – Olof Bergh, ou Kaapse amptenaar en die stamvader van die Bergh-familie (* 16 April 1643)
1929 – Dr. Willem Jacobus Viljoen, taalkundige en onderwysadministrateur (* 1869)
Willem Jacobus Viljoen is in Seepunt, Kaapstad, oorlede na ‘n toegewyde lewe as taalkundige en onderwysadministrateur. Hy is op 5 Oktober 1869 in die distrik Richmond (KP) gebore en ontvang sy naskoolse onderwys in Kaapstad, Stellenbosch, Leiden (Nederland) en Straatsburg (Duitsland), waar hy in 1896 die graad PhD magna cum laude behaal. Sy doktorale proefskrif was baanbrekerswerk op taalkundige gebied en die eerste proefskrif oor Afrikaans.
1965 – Ingrid Jonker, digter (* 19 September 1933)
Ingrid Jonker was ’n Afrikaanse digteres wie se werk lank na haar dood nog steeds groot belangstelling wek.
Sy was die dogter van die skrywer en Parlementslid dr. Abraham Jonker, wie se huwelik met Beatrice Cilliers voor Ingrid se geboorte al verbrokkel het. Nadat sy in 1951 gematrikuleer het met ’n onderskeiding in Afrikaans, het sy ’n kursus in tik en snelskrif gevolg.
In 1955 het sy Johannesburg die eerste keer saam met die digter Pieter Venter besoek, en op 15 Desember 1956, ses maande nadat haar eerste digbundel, 𝘖𝘯𝘵𝘷𝘭𝘶𝘨𝘵𝘪𝘯𝘨, verskyn het, is hulle getroud. Hul dogter, Simoné, is op 1 Desember 1957 gebore.
In hierdie tyd het sy bevriend geraak met skrywers van die Sestigers-beweging, onder meer Jan Rabie, Uys Krige, Jack Cope en Breyten Breytenbach. Hulle het in Mei 1959 na Johannesburg verhuis nadat Pieter ’n oorplasing daarheen gekry het. Hier het sy die skrywer , digter en dramaturg Bartho Smit, wat haar tweede bundel, 𝘙𝘰𝘰𝘬 𝘦𝘯 𝘰𝘬𝘦𝘳 uitgegee het, ontmoet. Aan die begin van 1960 het sy Pieter egter verlaat en sy en Simoné het teruggekeer na Kaapstad. Sy het eers ’n betrekking by Nasionale Boekhandel in Elsiesrivier en later by Nasionale Pers gehad, terwyl sy ook vryskutwerk gedoen het. In 1963 het sy en André P Brink mekaar ontmoet en ’n verhouding het ontstaan. In 1964 het sy op ’n oorsese reis vertrek, maar nadat haar verhouding met Brink verbrokkel het, is sy in ’n hospitaal in die Franse hoofstad Parys opgeneem weens depressie.
Haar verhouding met haar pa, wat in elk geval nie baie goed was nie omdat hy haar verwerp het, het verder agteruitgegaan toe hy die voorsitter geword het van die komitee wat die instelling van sensuur ondersoek het. Ingrid en ander skrywers het ’n versetskrif hierteen onderteken.
Op Maandag 19 Julie 1965 het sy haar eie lewe geneem toe sy, nadat sy oormatig alkohol gebruik het, by Drieankerbaai in Kaapstad in die see gestap en verdrink het. Sy was 31 jaar oud. Haar pa het haar skrywersvriende by haar amptelike gedenkdiens drie dae later weggejaag, maar op 25 Julie 1965 het haar vriende vir haar ’n tweede begrafnisdiens gehou.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.