19 MEI
GEBEURE
1849 – Die anti-bandietbetoging in Kaapstad
Die Britse gevangenebevolking het veral vanweë die Ierse onrus drasties toegeneem. Lord Grey, minister van kolonies, het toe besluit dat ook Suid-Afrika voortaan as strafkolonie soos Australië gebruik sal word. Die hele Kaap was in verset toe die besluit bekend geword het. Goewerneur Harry Smith moes net lelik bontstaan, maar hy was aan die Kapenaars se kant. Ongeag protesnotas en agitasies het Grey hom doof gehou. Die openbare byeenkoms van 19 Mei 1849 op die Parade wat deur 5000 mense bygewoon is, het hom eweneens koud gelaat. Hier is ’n Anti-Bandietebeweging gestig, en die gemoedere het opgevlam. Pamflette is geskryf en talle lede van die Wetgewende Raad, veldkornette en ander burgerlike ampsdraers het uit hulle poste bedank. Middel 1849 het Grey die Neptune met 288 van hierdie bandiete aan boord na die Kaap gestuur. Die Kaapse verset het behoorlik momentum gekry. Manne soos JB Ebden, Christoffel Brand, John Fairbairn en H Roos het Londen se optrede sterk veroordeel en teengestaan. Toe ander persone in die vakante betrekkings, na die bedankings vroeër, aangewys is, is hulle sosiaal vermy en gemolesteer en is hulle wonings aangeval. Op 19 September 1849 het die Neptune met sy ongelukkige mensvrag Simonsbaai binnegeseil. ’n Boikotbeleid is dadelik georganiseer, sodat niks verskaf moet word nie. Winkels en ander instellings is vermy as hulle handel gedryf het, en mense se name is op ’n swartlys geplaas. Vier maande het die boot doelloos voor anker gelê. Op 21 Februarie 1850 het die boot in opdrag van Grey die Kaap verlaat. Stedeling en plattelander, Boer en Brit, het saam-saam teen Londen getriomfeer. Die beginsel van Kaapse inspraak en erkenning is bewys. Kroonkoloniebestuur was verby, en in 1853 het verteenwoordigende regering gevolg. Die Hollandse Heerengracht het, helaas, Adderleystraat geword. Kaapstad se dankbetoon aan CB Adderley van die Britse laerhuis vir sy steun aan die Kapenaars in hulle verset. Heerengrachtstraat is veel later gedeeltelik herstel, maar Adderleystraat het eweneens gebly.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Laingsnek, Natal
1930 – Vroue verkry stemreg in Suid-Afrika
Stemreg is op 19 Mei 1930 in Suid-Afrika aan wit vroue bo 21 jaar toegestaan nadat ’n gekose komitee van die Volksraad in 1926 aanbeveel het dat hulle kan stem. Verskeie vroueverenigings en individue het hulle daarvoor beywer, onder meer dr. Petronella van Heerden, die eerste Afrikaanse vrou wat dokter geword het.
Vroue is in 1931 geregistreer en kon in die verkiesing van 1933 stem. Die vroue van die Colesberg-kiesafdeling is op 7 Julie 1932 toegelaat om in ’n belangrike tussenverkiesing te stem. Nieu-Seeland het in 1893 die eerste land geword waar vroue stemreg gekry het.
GEBOORTES
1787 – Ulrich Lauts, skrywer en akademikus († 25 Julie 1865)
Prof. Ulrich Gerard Lauts was die eerste Boereverteenwoordiger in Europa en eerste skrywer oor die Voortrekkers. Hy is in 1787 in Amsterdam gebore, die seun van ’n handelaar. Hy word ’n lektor in Wetenskap en Lettere.
1857 – Willem Johannes (Willem) Conradie, predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die skrywer van onder meer die Afrikaanse Kinderbybel († 9 Januarie 1925)
Willem Johannes Conradie was predikant van die NG Kerk wat met besondere skryftalent die eerste Afrikaanse Kinderbybel in 1912 uitgegee het onder die titel Bybelgeskiedenis vir ons volk. Die boek het groot byval gevind en is in baie skole gebruik. Sy Sketse uit die Boerelewe, wat in 1915 en 1916 in De Burger verskyn het, is van groot volkskundige belang, want dit skets die lewe op die boereplase van blank en gekleurd en van gebruike en gewoontes wat uitgesterf het. In 1890 het hy in De Volksbode oor Afrikaans geskryf: “Hij zal groot worden en de plaats van vreemde vrienden innemen in onze harten, in onze Huizen, op onze kansels. Zijn naam zal sijn: De Afrikaanse taal”. Ds. Conradie is op 19 Mei 1857 op Murraysburg gebore en is op Stellenbosch oorlede.
1919 – Esmé Euvrard, Suid-Afrikaanse radio-omroepster en aktrise († 11 September 1993)
Esmé Euvrard was ’n legendariese Afrikaanse radio-omroeper en aktrise.
Sy het veral bekendheid verwerf vir die program 𝘚𝘰 𝘮𝘢𝘢𝘬 𝘮𝘦𝘯𝘴, wat sy jare lank op Springbok Radio saam met Jan Cronjé aangebied het. Die program is aanvanklik in Engels as 𝘛𝘩𝘪𝘴 𝘪𝘴 𝘩𝘰𝘸 uitgesaai en eers later in Afrikaans. Daarby was sy die aanbieder van die program 𝘚𝘱𝘳𝘪𝘯𝘨𝘣𝘰𝘬 𝘙𝘦𝘯𝘥𝘦𝘻𝘷𝘰𝘶𝘴, waarin sy versoeke vir die manne in uniform uitgesaai het, en Esmé se musiekalbum, wat Sondagaande uitgesaai is. Op die Afrikaanse radiodiens van die SAUK het sy die versoekprogram 𝘈𝘢𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘱𝘢𝘴𝘪𝘦̈𝘯𝘵𝘦 aangebied. Sy het ook bekendheid verwerf vir haar Punch-waspoeieradvertensies.
As aktrise het sy in vyf rolprente opgetree, naamlik 𝘔𝘢𝘯 𝘪𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘥𝘰𝘯𝘬𝘦𝘳, 𝘝𝘳𝘰𝘭𝘪𝘬𝘦 𝘝𝘳𝘺𝘥𝘢𝘨 𝘥𝘪𝘦 13𝘥𝘦, 𝘚𝘵𝘢𝘥𝘪𝘨 𝘰𝘰𝘳 𝘥𝘪𝘦 𝘬𝘭𝘪𝘱𝘱𝘦, 𝘔𝘢𝘫𝘶𝘣𝘢: 𝘩𝘦𝘶𝘸𝘦𝘭 𝘷𝘢𝘯 𝘥𝘶𝘪𝘸𝘦 en laastens 𝘞𝘰𝘭𝘩𝘢𝘢𝘳𝘴𝘵𝘰𝘳𝘪𝘦𝘴. Sy is al veral ook onthou word vir haar rol teenoor Dana Niehaus in 𝘕𝘦𝘵 ’𝘯 𝘣𝘪𝘦𝘵𝘫𝘪𝘦 𝘭𝘪𝘦𝘧𝘥𝘦, een van die heel eerste Afrikaanse televisiereekse.
Sy was getroud met die Portugees-gebore flamenco-kitaarspeler Gilberto Bonegio en toe die Mercedes Molina Spanish Dance Company in 1958 gestig is, het hulle deel daarvan geword. Gilberto is in 1964 oorlede.
Esmé is op 11 September 1993 in die ouderdom van 74 oorlede en op 26 Januarie 2020 is sy as lewende legende by die Suid-Afrikaanse legendesmuseum ingesluit.
1923 – Johannes Meintjes, kunsskilder en skrywer († 7 Julie 1980)
Johannes Meintjes was ’n kunsskilder, beeldhouer, amateur-geskiedkundige, skrywer en dramaturg.
STERFTES
1875 – Sir Christoffel Joseph Brand, eerste Speaker van die Kaapse parlement (* 21 Junie 1797)
1901 – Marthinus Wessel (MW) Pretorius, eerste president van die ZAR (* 17 September 1819)
Marthinus Wessel Pretorius is op Pretoriuskloof, distrik Graaff-Reinet, as die oudste seun van AWJ (Andries) Pretorius gebore. As Voortrekker vergesel hy sy vader na Natal en neem hy ook aan die Slag by Bloedrivier deel. In 1848 vestig hy hom in die Magaliesberg, en in 1853 volg hy sy vader op as kommandant-generaal vir Potchefstroom en Rustenburg. Hoewel hy nie oor die leierseienskappe van sy vader beskik nie, speel hy ’n belangrike rol in die vroeë geskiedenis van Transvaal. Deur sy toedoen is ’n grondwet in 1856 opgestel, maar na vele onenigheid is hy eers in 1860 as Staatspresident van die ZAR beëdig. Intussen het hy op ondiplomatieke wyse die OVS by die ZAR probeer inlyf en byna burgeroorlog veroorsaak. In 1859 word hy ook tot Staatspresident van die OVS verkies, maar hy word verplig om sy Transvaalse amp neer te lê. Na vier jaar keer hy terug na die ZAR en word tot Staatspresident herkies.
In die Transvaal moes hy aan vele interne vraagstukke aandag gee, maar as gevolg van sy swak hantering van die Transvaalse aanspraak op die Diamantvelde en die verlies van die gebied, word hy in 1871 verplig om te bedank. Enkele jare het MW Pretorius uit die politieke gedrang verdwyn, maar met die Britse anneksasie van die ZAR in 1877 het hy as volksleier, onder ander met Paul Kruger en Piet Joubert, as lid van die Driemanskap, weer sterk na vore getree. Na die Transvaalse Vryheidsoorlog (1880 tot 1881) het hy sy aandag aan sy boerdery op Potchefstroom gewy. Die laaste jare van die ZAR se bestaan word hy, waarskynlik ter erkenning vir sy diens aan die Republiek, tot waarnemende geskiedskrywer benoem. Daarvoor ontvang hy £300 (R600) per jaar. Hy het daarin geslaag om heelwat waardevolle stukke te versamel, maar vanweë die Engelse Oorlog het weinig daarvan bewaar gebly. Op ’n koue nag in Mei 1901 word hy deur twee Britse soldate uit sy slaap gewek en op die stoep van die woning ondervra. Hierdie twee uur lange ondervraging in die koue was vir die gestel van die 81-jarige oud-president te veel en nadat hy reeds die volgende dag siek geword het, sterf hy op 19 Mei 1901 op Potchefstroom.
1990 – Albie Venter, Suid-Afrikaanse rolprentregisseur en -vervaardiger (* 31 Januarie 1940)
Albie Venter was ’n bekende Afrikaanse rolprentvervaardiger en plateprodusent wat die maatskappy Brigadiers gestig het toe hy ’n student was. Hy het saam met verskeie bekende Afrikaanse vermaaklikheidskunstenaars gewerk voordat hy in die ouderdom van 50 jaar oorlede is.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.