ALBIE VENTER (1940-1990)

Albie Venter was ’n bekende Afrikaanse rolprentvervaardiger en plateprodusent wat saam met ’n aantal bekende Afrikaanse akteurs en sangers gewerk het.

Hy is op 31 Januarie 1940 gebore en het aan die Hoër Seunskool Helpmekaar in Johannesburg gematrikuleer waarna hy aan die Universiteit van die Witwatersrand gestudeer het. Hy het die rolprentmaatskappy Brigadiers gestig terwyl hy nog ’n student was.

Sy eerste groot sukses as platebaas was toe hy vir Lance James ’n platekontrak aangebied het. Hy het Lance oorreed om Afrikaans eerder as Engels te sing omdat hy geglo het dat Lance meer sukses in die Afrikaanse mark sou behaal. Daarby het Albie vir Min Shaw as Lance se gereelde sangmaat voorgestel; hul eerste album, Bymekaar, was ’n groot sukses. Benewens die klankbaan van Die Danie Bosman-storie, waarin hulle dié bekende Afrikaanse liedjieskrywer se grootste treffers gesing het, het hulle nog sewe albums saam opgeneem voordat Min Shaw haar op Christelike musiek toegespits het. Onder Albie se leiding het Lance groot sukses met die enkelsnitte “Dankie” en “Vicki” behaal; albei het tot Springbok Radio se Top 20 toegetree en Vicki het die vierde plek bereik.

Onder die ander kunstenaars wat in die 1970’s by Brigadiers was, was Gé Korsten en Groep Twee. Gé se album Liefling was een van sy groot suksesverhale; dis net eienaardig dat die titelsnit nie as ’n kortspeler uitgereik is nie. Groep Twee het egter wel Springbok Radio se Top 20 met “Daar’s niks soos ware liefde” gehaal; hulle het die derde plek gehaal en die agttien weke wat hulle op die trefferslys was, was ’n rekord vir ’n Afrikaanse liedjie wat eers byna twaalf jaar later verbeter sou word. Leonore Veenemans was nog een van Albie se kunstenaars; ongelukkig is sy die dag na haar 38ste verjaardag in ’n motorongeluk oorlede nadat sy net vyf albums opgeneem het.

Die eerste rolprent wat Albie vervaardig het, was Kaptein Caprivi in 1972, met die opvolgrolprent, Aanslag op Kariba ’n jaar later. In 1975 het Ma skryf matriek gevolg; die temaliedjie was een van die laaste opnames wat Min Shaw en Lance James saam gemaak het. Een van Albie se legendariese rolprente was Jakkalsdraai se mense, wat op ’n myndorp afgespeel het, en waarin Wena Naudé, Jan Bruijns, Wilna Snyman, Lieb Bester en Magda Beukes die hoofrolle vertolk het. Wilna Snyman was ook saam met Barry Trengove te sien in Liefste Madelein. Albie was ook die vervaardiger van een van die min Afrikaanse rillers, Die vlindervanger, met Chris du Toit en Marié du Toit in die hoofrolle. In 1977 was hy die vervaardiger van Dit was aand en dit was môre, met Franz Marx, Anna Neethling-Pohl, Magda Beukes, Henirich Marnitz en Lerina Erasmus in die hoofrolle. Die suksesvolle televisiereeks Nommer asseblief het tot twee rolprente, Nommer asseblief-die rolprent en Verkeerde nommer gelei; hy was die vervaardiger van albei hierdie rolprente. Benewens rolprente het Albie later ook televisiereekse begin vervaardig, onder meer Skooldae, Die swart kat, Ma-plotters, die laaste reeks waarin Alex Heyns gespeel het voordat hy oorlede is, en Oos/Wes.

Geen profiel van Albie Venter sal egter volledig wees sonder om een kunstenaar se naam te noem nie. Bles Bridges. Hoewel Bles teen 1985 reeds twee albums vrygestel het, was dit met sy derde album wat hy en Albie saam begin werk het. Die een platinum-album na die ander het gevolg, onder meer Uit die boonste rakke in 1985, Vir een en almal en I’m the eagle, you’re the wind in 1986, Reik na die sterre en Fight for love in 1987, Laat lewe laat my liefhê in 1988 en Nog ‘n nuwe dag in 1989. Bles het ook die eerste en enigste plaaslike kunstenaar geword wat twee uitverkoopte vertonings in die Sun City Superbowl kon aanbied. Daarby het Albie ’n rolprent oor Bles se lewe, getiteld The devil and the song, vervaardig.

Albie is op 19 Mei 1990 onverwags in die ouderdom van 50 jaar aan hartversaking oorlede en Bles het sy album, Let me love you, ter nagedagtenis aan hom opgeneem.

Daantjie Badenhorst