19 SEPTEMBER
GEBEURE
1737 – Daniël van den Henghel begin sy termyn as waarnemende goewerneur
Daniël van den Henghel begin sy termyn as waarnemende goewerneur van die Kaapkolonie ná die dood van goewerneur Adriaan van Kervel.
1886 – Carl von Brandis aangestel as landdros
Die kommissaris van myne, Carl von Brandis, word aangestel as die eerste landdros van Johannesburg wat verantwoordelik is vir die administrasie van die dorp.
1914 – Afrikanerrebellie
Die Suid-Afrikaanse Vrykorps van Duitswes-Afrika, vergesel van ’n aantal gewapende Duitsers, beset die Suid-Afrikaanse magistraatskantoor op Rietfontein.
1979 – Die eerste telegraafverbinding in Pretoria in gebruik geneem
1950 – JGN Strauss tot leier verkies
JGN Strauss word eenparig tot leier van die Verenigde Party verkies ná die dood van genl. Jan Smuts.
GEBOORTES
1857 – Andreas Daniël Wynand Wolmarans, Transvaalse politikus, Unie-senator en vooraanstaande lid van die Nederduitsch Hervormde Kerk († 12 Julie 1928)
Andries Daniël Wynand Wolmarans, gebore op Stompoorfontein, in die distrik Potchefstroom, was ’n Transvaalse politikus en ’n kerkleier van die NH Kerk. As kerkleier kom hy veral na vore in die jare na die kerkvereniging van 1885. As sekretaris van die Prokurasie-kommissie lei hy die ontevrede oud-Hervormers in die verenigde kerk in 1894 terug na die NH Kerk. Hy speel voortdurend, as ouderling, ’n leidende rol in die kerk. In woord en geskrif het hy veral die historiese reg van die ou Voortrekkerkerk aangetoon en verdedig. Gedurende die Anglo-Boereoorlog speel Wolmarans ’n aansienlike rol in die ZAR se poging om buitelandse arbitrasie in Suid-Afrika te verkry. Die deputasie onder leiding van Abraham Fisher se pogings in Nederland, VSA, Duitsland en selfs in Rusland (Augustus 1900) was vrugteloos. Op versoek van die Transvaalse regering, bly hy in Europa, waar hy steeds pogings tot buitelandse arbitrasie in Suid-Afrika aanwend. Na die oorlog word hy nie dadelik toegelaat om na sy vaderland terug te keer nie. Eers in Januarie 1903 ontvang hy toestemming. Sy gedwonge afwesigheid uit Suid-Afrika het daartoe bygedra dat sy politieke invloed aanmerklik afgeneem het; tog het hy steeds die konserwatiewe, nasionale standpunt verdedig. Hy was prominent in die beweging om CNO-skole te stig. Hy was stigterslid sowel van die Het Volk-party in 1905 as van die Nasionale Party in 1914. In 1919 was hy lid van die Vryheidsdeputasie na Versailles. Van 1910 tot 1928 was hy Senator van die Unie-parlement. Hy sterf of 12 Julie 1928 in Pretoria en word op sy plaas Koffiefontein in die Pretoriase distrik begrawe.
1891 – Marthinus Petrus Loubser, predikant († 9 Junie 1942)
Ds. MP Loubser (Oom Tinie) was ’n vriend en geestelike versorger van die Afrikaners buite die grense van die Unie van Suid-Afrika. Marthinus Petrus Loubser is op die plaas Vissershok, naby Kaapstad, gebore en op 9 Junie 1942 oorlede op Middelburg, Kaapland. Hy studeer aan die Normaalkollege in Kaapstad en die Kweekskool op Stellenbosch. In 1909 is hy na Oos-Afrika waar hy tot 1914 en weer van 1925 tot 1935 onder die Afrikaners gearbei het. Van 1918 tot 1921 werk hy in Suidwes-Afrika en besoek hy ook periodiek Afrikaners in Ghanziland. Benewens die Evangeliebediening, het hy hom oral beywer vir die stigting van skole en verbetering van die onderwys. Hy het die Afrikaners in hulle trekspore gevolg, hulle gedoop, aangeneem, in die huwelik bevestig, vir hulle skoolgehou en op alle terreine bygestaan. Hierdie boeiende spreker, kindervriend en Godsman het dikwels met ryperd en esel huisbesoek gedoen en met karige middele sy volk geestelik bearbei. Sy lang en vrugbare bediening besorg aan hom ’n ereplek in die kerkgeskiedenis van Oos-Afrika – hy het op elke terrein van die volkslewe gestry en kosbare werk verrig vir sy volk in die vreemde.
1902 – Hans Rompel, geneesheer
Hans Rompel, later Geneesheerbestuurder van die Sielsieke-Hospitaal by Kaapstad, is in Dordrecht (Nederland) gebore, het sy opleiding in Kaapstad ontvang en ’n belangrike rol gespeel in die Natalse Voortrekkerbeweging, as algemene organiseerder van RARO, lid van die Reddingsdaadbond en die skrywer van filmrubrieke in Die Huisgenoot en Brandwag. Hy het ook as produksieleier van die Voortrekkerrolprent ’n Nasie hou koers opgetree.
1933 – Ingrid Jonker, digter († 19 Julie 1965)
Ingrid Jonker was ’n Afrikaanse digteres wie se werk lank na haar dood nog steeds groot belangstelling wek.
Sy was die dogter van die skrywer en Parlementslid dr. Abraham Jonker, wie se huwelik met Beatrice Cilliers voor Ingrid se geboorte al verbrokkel het. Nadat sy in 1951 gematrikuleer het met ’n onderskeiding in Afrikaans, het sy ’n kursus in tik en snelskrif gevolg.
In 1955 het sy Johannesburg die eerste keer saam met die digter Pieter Venter besoek, en op 15 Desember 1956, ses maande nadat haar eerste digbundel, 𝘖𝘯𝘵𝘷𝘭𝘶𝘨𝘵𝘪𝘯𝘨, verskyn het, is hulle getroud. Hul dogter, Simoné, is op 1 Desember 1957 gebore.
In hierdie tyd het sy bevriend geraak met skrywers van die Sestigers-beweging, onder meer Jan Rabie, Uys Krige, Jack Cope en Breyten Breytenbach. Hulle het in Mei 1959 na Johannesburg verhuis nadat Pieter ’n oorplasing daarheen gekry het. Hier het sy die skrywer , digter en dramaturg Bartho Smit, wat haar tweede bundel, 𝘙𝘰𝘰𝘬 𝘦𝘯 𝘰𝘬𝘦𝘳 uitgegee het, ontmoet. Aan die begin van 1960 het sy Pieter egter verlaat en sy en Simoné het teruggekeer na Kaapstad. Sy het eers ’n betrekking by Nasionale Boekhandel in Elsiesrivier en later by Nasionale Pers gehad, terwyl sy ook vryskutwerk gedoen het. In 1963 het sy en André P Brink mekaar ontmoet en ’n verhouding het ontstaan. In 1964 het sy op ’n oorsese reis vertrek, maar nadat haar verhouding met Brink verbrokkel het, is sy in ’n hospitaal in die Franse hoofstad Parys opgeneem weens depressie.
Haar verhouding met haar pa, wat in elk geval nie baie goed was nie omdat hy haar verwerp het, het verder agteruitgegaan toe hy die voorsitter geword het van die komitee wat die instelling van sensuur ondersoek het. Ingrid en ander skrywers het ’n versetskrif hierteen onderteken.
Op Maandag 19 Julie 1965 het sy haar eie lewe geneem toe sy, nadat sy oormatig alkohol gebruik het, by Drieankerbaai in Kaapstad in die see gestap en verdrink het. Sy was 31 jaar oud. Haar pa het haar skrywersvriende by haar amptelike gedenkdiens drie dae later weggejaag, maar op 25 Julie 1965 het haar vriende vir haar ’n tweede begrafnisdiens gehou.
STERFTES
1737 – Goewerneur Adriaan van Kervel, hy was slegs drie weke in sy amp (* 1681)
1898 – George Grey, goewerneur van die Kaapkolonie (* 14 April 1812)
Sir George Grey was goewerneur van die Kaapkolonie. Hy was die seun van kol. Grey, wat gesneuwel het in die Skiereilandse Oorlog, ’n stryd tussen Frankryk en die geallieerde magte van Spanje, die Verenigde Koninkryk en Portugal om beheer van die Iberiese Skiereiland tydens die Napoleontiese Oorloë.
1970 – Dr. Charles Robert (Charlie) Louw, ekonoom (* 11 Januarie 1875)
Charles Robert Louw is op hierdie dag op Murraysburg gebore as die jongste van sewe seuns van wyle ds. AA Louw van Noorder-Paarl. Sy moeder was ’n nooi Murray, suster van dokter Andrew Murray. Na voltooiing van sy studie aan die Paarlse Gimnasium en op Stellenbosch, is hy na Transvaal waar hy sy klerkskap as ingeskrewe prokureursklerk in Pretoria voltooi het. Nadat hy hom op Ermelo gevestig het verhuis hy in 1916 met sy gesin na Kaapstad. Hier het CR Louw hom vir die uitbou van verskeie Afrikaanse sake-ondernemings beywer. Hy was een van die stigters en oprigters van Santam en Sanlam en het later ook hierdie maatskappy as voorsitter gedien. Verder was hy ook gemoeid met die oprigting van Federale Volksbeleggings en ander maatskappye in die Federale groep. CR Louw het hom nie slegs beywer om Afrikaans ’n prominente aandeel in die sakewêreld te gee nie, maar het ook op ander terreine van die samelewing waardevolle gemeenskapsdiens gelewer. Reeds in 1916 beywer hy hom vir die oprigting van ’n Afrikaanse skool aan die Kaap, en dit was grootliks aan sy ondernemingsgees te danke dat daar ’n begin gemaak is met ’n Afrikaanse klas van vyf kinders, wat later tot die bekende Jan van Riebeeckskool ontwikkel het.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.