
20 AUGUSTUS
GEBEURE
1892 – “Transvaal National Union” gestig
Die Uitlanders se baie griewe het uitgeloop op die totstandkoming van politieke organisasies wat hulle belange behartig het. So is daar in 1890 ’n politieke beweging onder die naam “Political Reform Association” gestig. Dit het egter later doodgeloop. Op 20 Augustus 1892 is daar toe onder voorsitterskap van J Tudhope ’n groot Uitlandervergadering in Johannesburg gehou. By die geleentheid is die “Transvaal National Union” gestig. Die verklaarde doel van die organisasie was: die handhawing van die onafhanklikheid van die Republiek, die verkryging van gelyke regte langs konstitusionele weë en die bevrediging van alle griewe. Hierdie politieke beweging was baie giftig teenoor die Afrikaner en pres. Kruger en sy eintlike oogmerk was die vernietiging van die Republiek.
1927 – Groot Constantia oopgestel
Groot Constantia word in Kaapstad weer oopgestel nadat ’n brand dit in 1925 verwoes het.
1937 – Eerste uitgawe van Oosterlig verskyn
Oosterlig, sirkulasiegewys een van die kleiner dagblaaie van Suid-Afrika, was ’n regstreekse produk van die Afrikaner se kultuurstryd. Dit is deur die Nasionale Pers Bpk in Port Elizabeth in die lewe geroep om in die oorwegend Engelse Oos-Kaapland van toentertyd die Afrikanersaak te bevorder. Die eerste uitgawe het die lig gesien in teenwoordigheid van afgevaardigdes na die kongres van die Kaaplandse Nasionale Party wat op Uitenhage in sitting was, onder andere dr. DF Malan, later Eerste Minister, en hoë amptenare van die Nasionale Pers. Aanvanklik het die koerant, gedruk op ’n klein Vomag-rolpers, net twee keer per week verskyn, eers op Maandae en Donderdae en later op Dinsdae en Vrydae. Op 4 Maart 1957 is tot drie uitgawes per week oorgegaan t.w. op Maandae, Woensdae en Vrydae en sedert 1 Maart 1962 is die koerant as dagblad sonder ’n Saterdaguitgawe uitgegee. ’n Groter rolpers is later in gebruik geneem wat druk in veelkleur moontlik gemaak het, en teen die sewentigerjare was die Oosterlig ’n nuusblad met ’n toonaangewende posisie in Afrikanersake. Een van die groot sake waarvoor die koerant ’n kampvegter was, is die Universiteit van Port Elizabeth, wat in 1965 tot stand gekom het.
GEBOORTES
1853 – Jan Ernst Abraham Volschenk, skilder († 22 Januarie 1936)
Jan Ernst Abraham Volschenk is in die distrik Riversdal gebore. Volschenk , die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat hom voltyds aan die skilderkuns gewy het, was as kunstenaar selfopgelei. Hy het nietemin in 1893 ’n studiereis na Europa van ses maande onderneem wat ’n duidelikie invloed op sy kuns gelaat het: sy kleurgebruik het hierna in sekere mate die invloed van die Impressionisme begin toon waar dit vroeër veel donkerder was. Sy skilderye van die Langeberge toon hom as ’n romantiese realis in dieselfde gees as Tinus de Jong, maar met ’n innige en liriese benadering van die skoonheid van die natuur. Daar is ook ’n sekere ooreenkoms te bespeur tussen sommige van Volschenk se werk en dié van die negentiende-eeuse Duitse kunstenaars van die tyd, byvoorbeeld Caspar David Friedrich. Volschenk kon veral die stilte en wydheid van die ongerepte natuur goed uitbeeld. Hy is op 22 Januarie 1936 op Riversdal oorlede.
1946 – Lerina Erasmus, aktrise en skrywer († 20 Augustus 2018)
STERFTES
1914 – Christiaan Willem Hendrik van der Post, lid van die Volksraad in die Vrystaat, konsul van Nederland en digter (* 26 Maart 1856)
Christiaan Willem Hendrik van der Post is in Leiden, Nederland, gebore. Hy kom as driejarige saam met sy ouers in 1859 na SA. As gevolg van sy vader se sieklikheid moes Christiaan op vyftienjarige ouderdom na drie maande formele skoolopleiding in 1871 begin werk. Sy ouers se onderrig stel hom in staat om as private onderwyser te begin werk. Hy studeer intussen en behaal sy onderwyssertifikaat, waarna hy as onderwyser na Philippolis, OVS, vertrek. Na ’n aantal jare as onderwyser aan Grey-Kollege lê hy hom in 1881 op die regte toe en vestig hom as vennoot in ’n groot regspraktyk op Fauresmith. In 1885 trou hy met Johanna Lubbe, en hy word in 1887 gekies tot lid van die Volksraad van die OVS. Hy tree op as konsul vir Nederland, ’n pos wat hy in die oorlog verruil vir ’n kommandantskap. Hy word gevange geneem en vertrek op parool na die Kaapkolonie. In 1906 vestig Van der Post hom weer op Philippolis sonder om die Eed van Getrouheid af te lê en verteenwoordig Philippolis van 1907 tot 1910 in die Parlement. Na Uniewording onttrek hy hom aan die politiek. Uit sy pen kom Piet Uys en Ignas Prinsloo en ook talle gedigte en vertalings uit Engels.
1977 – Prof. Stephanus Petrus (SP) Engelbrecht, teoloog en kerkhistorikus (* 20 Oktober 1891)
SP Engelbrecht is in die Standertonse distrik gebore. Hy ontvang sy skoolopleiding op Middelburg (Tvl.) en Potchefstroom en studeer 1913 tot 1920 in Nederland. Hy was ’n groot vriend van Nederland en het hom beywer vir noue kerklike, akademiese en kulturele bande tussen Nederland en Suid Afrika. Van 1921 tot 1956 was hy professor in Kerk- en Dogmageskiedenis aan die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria. Sy hoofwerk was sy proefskrif aan die Rijksuniversiteit van Utrecht, Die Geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (uitgebrei in 1925, 1936, en 1952). Hierdeur en deur die publikasie van talle gemeentegeskiedenisse, sy biografie Thomas Francois Burgers (1933, Engels 1947) en sy Historiese Album oefen hy as kerk-historikus, en ook as teoloog en kerkleier, groot invloed in ons land en veral in die kerk uit. Hy was lid en voorsitter van die staat se Argiefkommissie, sekretaris van die SA Akedemie vir Wetenskap en Kuns in 1930–1932 en het talle eretoekennings, ook van buite Suid Afrika gekry. Sy versameling boeke en argiefstukke in die SP Engelbrecht-museum en -argief word tereg landwyd van belang geag.
1982 – Walter Battiss, abstrakte kunsskilder (* 6 Januarie 1906)
Walter Battiss is in 1906 in Somerset-Oos gebore in ’n Engelse Metodiste-gesin. Hy het een van Suid-Afrika se eerste en belangrikste abstrakte skilders geword. Hy het eers as jong seun in argeologie en primitiewe kuns belanggestel nadat hy in 1917 na Koffiefontein verhuis het, en sedert sy kinderjare geteken en geskilder het. Sy formele kunsstudies begin in 1929 aan die Wits Tech Art School (teken en skilder), gevolg deur die Johannesburg Training College (’n onderwysersdiploma) en etslesse. Battiss het sy studies voortgesit terwyl hy as landdrosklerk gewerk het, en uiteindelik sy baccalaureusgraad in beeldende kunste aan UNISA op 35-jarige ouderdom behaal. Op 24 Oktober 1981 is die Walter Battiss-kunsgalery in Somerset-Oos amptelik geopen.
2018 – Lerina Erasmus, aktrise en skrywer (* 20 Augustus 1946)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.