WALTER BATTISS (1906-1982)

Walter Battiss was ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar wat met die “Fook Island”-idee vorendag gekom het.

Walter Whall Battiss is op 6 Januarie 1906 op Somerset-Oos in die Karoo gebore. Hy het in argeologie en rotskuns begin belangstel toe hy in 1917 saam met sy gesin na Koffiefontein in die Vrystaat verhuis het. In 1919 het die gesin hulle op Fauresmith gevestig en hy het in 1923 aan die plaaslike hoërskool gematrikuleer. Die volgende jaar het hy ’n klerk by die landdroshof in Rustenburg geword.

In 1929 het hy met sy formele opleiding in teken- en skilderkuns aan die Witwatersrandse Tegniese Kollege begin waarna hy ’n onderwysdiploma aan die Johannesburg Training College verwerf het en lesse in etswerk gekry het. Hy het met sy studies voortgegaan terwyl hy as klerk in die landdroshof gewerk het en sy Baccalaureus-graad in Skone Kunste aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) verwerf toe hy 35 jaar oud was. Daarna was hy ’n kunsonderwyser aan die Pretoria Boys High School. Hy was van 1953 tot 1958 die rektor van die Pretoria Art Centre en in 1964 het hy sy professoraat in Skone Kuns aan UNISA verwerf. Hy het in 1971 afgetree en 1973 het UNISA die DLitt et Phil (honoris causa)-graad aan hom toegeken.

As kunsonderwyser het hy ’n besielende invloed op jong kunstenaars uitgeoefen en sy invloed kan vandag nog in die werk van talle gevestigde kunstenaars gesien word. Prehistoriese rotskuns het ’n groot invloed op sy werk gehad en hy het Suid-Afrika deeglik leer ken toe hy die land in die 1930’s deurreis het. Hy het heelwat navorsing oor rotstekeninge gedoen en in 1940 ’n merkwaardige versameling naby Zastron in die suide van die Vrystaat ontdek. In 1948 het hy ’n reis na die Namib-woestyn onderneem waar hy die Boesmans se kultuur leer ken het deur ’n tyd lank saam met hulle te woon.

Hy het die mistiek van die mens van Afrika verbreed en daardeur die inboorling se aristokratiese verlede erken. Sy belangstelling in prehistoriese kuns het nie net tot die verruiming van plaaslike kuns bygedra nie, maar ook gelei tot nuwe insigte in sy eie kunsbeoefening. Nadat hy in 1938 met Europese kuns in aanraking gekom het, het sy werk ’n breër visie begin toon en hy het gaandeweg sy eie styl begin ontwikkel. Die invloed van Boesmankuns, veral ten opsigte van die simboliek, was egter nog duidelik sigbaar in sy werk.

In baie opsigte het Battiss ’n leidende rol in die Suid-Afrikaanse kunslewe gespeel, soos met die stigting van die Nuwe Groep, ’n vriendskaplike groep wat ook uit erkende Amerikaanse en Europese kunstenaars bestaan het, in 1938. Hierdie groep kunstenaars het saamgestaan om teen die ouderwetse kunsopvattings van kritici en die publiek te rebelleer. Hy was in 1953 ook die stigter en eerste president van die Suid-Afrikaanse Raad van Kunstenaars en die eerste kunstenaar wat geskryf het oor die Suid-Afrikaanse rotskuns en die estetiese waarde van swart kuns.

Sedert 1927 het Battiss ’n aantal kunsuitstallings gehou. Hy het drie keer op die Biënniale in São Paulo in Brasilië en vier keer op die Biënniale in Venesië uitgestal. Verder het hy in 1948 aan die uitstalling van Suid-Afrikaanse skilders in die Tate-galery in Londen deelgeneem en ook in die Victoria and Albert-museum en in die Agnews-galery, albei in Londen, uitgestal.

Hy het gereeld gereis en veral eilande het vir hom ’n groot bekoring ingehou. Die rede hiervoor was dalk die isolasie wat hy as Engelssprekende persoon in oorwegend Afrikaanse gemeenskappe ervaar het. Hy het homself daarom as “’n eiland” beskou en dié tema het gereeld in sy werk voorgekom. Hy het Fook Island as ’n verbeeldingsvlug geskep; met onder meer ’n landkaart, denkbeeldige mense, plante, diere, ’n geskiedenis, posseëls, ’n geldeenheid en ’n rybewys. Daarby het hy ’n Fookian-taal met ’n volledige alfabet geskep. Hierdie idilliese eiland het elemente bevat van eilande wat hy besoek het, onder meer Zanzibar, die Seychelles, Madagaskar, Fidji, die Griekse Eilande en die Comores. Hy het sy ryk verbeelding vrye teuels gegee, en gesê: “Dit is iets wat nie bestaan nie. Ek het daaraan gedink om ’n eiland, wat in ons almal bestaan, in ’n werklikheid te omskep.” Fook Island, waarvan die naam van die woord “fake” afgelei is, was nie net die gevolg van sy ryk verbeelding nie, maar ook van sy teenstand teen die Conceptualist Art-beweging wat in die 1960’s en 1970’s in die Verenigde State van Amerika (VSA) en in Europa ontstaan het. Hierdie beweging het geglo dat die idee of konsep agter ’n kunswerk belangriker as die werk self was, terwyl Battiss geglo het dat alle kuns in die hede bestaan het. Kunstenaars soos Janet Suzman en Norman Catherine was onder dié wat hulle met die Fook Island-filosofie vereenselwig het en toe die joernalis Jani Allen in 1982 ’n onderhoud met hom gevoer het, het sy tot sy versoek om ’n “inwoner” van dié denkbeeldige eiland te word, ingestem. Die Fookian-rybewys is in die VSA erken en die kleurvolle Fookian-paspoort het stempels van Australië, Brittanje en Duitsland bevat. Die Fook Island-kompleks in 20ste straat 76, Menlopark in Pretoria, is ’n lewende monument van Battiss se denkbeeldige konsep.

In 1981 is die Walter Battiss-museum op sy geboortedorp, Somerset-Oos, gestig en hy het al sy kunswerke aan hierdie museum geskenk. Die museum is in Oktober 1981 geopen en benewens sy 58 skilderye bevat dit verskeie werke van gaskunstenaars asook sy eie dokumente en manuskripte. Die museum is in 1999 in sy geheel gerestoureer.

Battiss is op 20 Augustus 1982 in die ouderdom van 76 jaar in Port Shepstone in KwaZulu-Natal aan ’n hartaanval oorlede.

deur Daantjie Badenhorst