20 JULIE

GEBEURE

1848 – Andries Pretorius dwing majoor Warden tot oorgawe in Bloemfontein

1888 – Die Nieuwe Republiek word in ZAR opgeneem

Die Nieuwe Republiek, gevestig in Noord-Natal op grond wat deur Dinizulu aan burgers toegeken is, nadat hy Zinhebhu gewen het en Cetshwayo as Zulukoning opgevolg het, is op versoek in die ZAR opgeneem weens finansiële probleme en word die Vryheidse distrik.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Christiaan en Piet de Wet se rusie

Op die plaas Blesbokfontein tussen Lindley en Heilbron vra Piet de Wet sy broer, generaal Christiaan de Wet, of hy regtig dink dit het enige nut om met die Anglo-Boereoorlog voort te gaan. Die broers is ná die rusie nooit versoen nie.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Petrus Willem Klopper(t) gehang

Petrus Willem Klopper(t) is op hierdie dag tydens die Anglo-Boereoorlog te Burgersdorp gehang. Klopper was 20 jaar oud en afkomstig van die plaas Kleinfontein in die Burgersdorp-distrik. Nadat sy tuisdorp in Britse hande geval het, het hy oorgegee en die eed van getrouheid afgeneem. Gedurende die inval van kommandant CHP van Reenen in die Kolonie het hy egter weer die wapen opgeneem. Klopper was drie dae op kommando toe hulle in ’n plaashuis oornag het. ’n Britse patrollie het hulle in die huis oorval en gedwing om oor te gee. Nege Burgers is gevang. Tydens die opvolgende verhoor is Klopper aangekla vir moord en hoogverraad. Op laasgenoemde het hy skuld erken, maar op moord onskuldig. Die feit is dat Klopper nie teenwoordig was tydens die geveg buite die huis nie en dit was ook so bevestig in die hof. ’n Maand later is hom die doodsvonnis opgelê. Terug in sy sel het hy Psalm 146 begin sing en daarna gebid. Skemeraand het sy ouers hom besoek en het hy uit sy Bybel vir hulle voorgelees. Die volgende dag het hy met vaste tred die skafot betree en was dit die einde. Hy is buite die dorp op die pad na Aliwal-Noord begrawe.

 

GEBOORTES

 

STERFTES

1901 – Gezina Susanna Kruger (neé du Plessis), eggenote van pres. Kruger (* 5 Mei 1831)

Met Gezina Kruger se afsterwe op hierdie dag het sy president Paul Kruger diep bewoë en verslae in ballingskap agtergelaat. Meer as 55 jaar lank het sy hom as troue lewensmaat in voor- en teëspoed bygestaan. Gezina Susanna Frederika Wilhelmina du Plessis is gebore op 6 Mei 1831 en maak as kind die Groot Trek mee in die Potgietertrek. As jong seun het Paul Kruger haar, ’n niggie van sy eerste vrou, geken en na die dood van sy eerste vrou is hy met Gezina in Januarie 1846 getroud. Uit hulle huwelik is sestien kinders gebore. Gezina het jare lank met swak gesondheid gesukkel en etlike kere by die dood omgedraai. Toe Kruger in 1877 na Europa moes vertrek om teen die anneksasie van Transvaal beswaar te maak moes hy haar siek op Boekenhoutfontein agterlaat. Weens sy toenemende politieke bedrywighede het Kruger in 1881 besluit om permanent in Pretoria te gaan woon. In 1883 word hy vir die eerste keer tot president verkies. Ten spyte hiervan het die Krugergesin hulle natuurlike en eenvoudige huislike lewe voortgesit. As boerevrou hou Gezina melkkoeie aan op hulle groot erf in Kerkstraat en kry hulle al hul lewensbenodigdhede van hulle plaas af. Aan haar man se toenemende openbare bedrywighede het sy nie deelgeneem nie. Sy verskyn op geen foto waar die President in die openbaar verskyn nie. As tipiese Afrikanervrou van die negentiende eeu het sy dit as haar eerste plig gevoel om vir haar man ’n rustige en warme huislike lewe te skep en ’n goeie moeder vir hulle groot gesin te wees. Sy was ’n knap huisvrou en bekend vir haar pragtige fyn naaldwerk. Volgens getuienis van tydgenote was sy ’n sagte mens, beskeie, vriendelik en altyd bereid tot opoffering. Vir die President was sy ’n steunpilaar, en hy was afhanklik van haar toegewyde versorging. Op portrette waar sy in deftige boeredrag as Presidentsvrou verskyn is haar houding rustig en kalm, die blik in die helder oë onbevrees. Gezina Kruger was diep godsdienstig en gelowig. Saam met die President besoek sy gereeld die Gereformeerde Kerk in Kerkstraat waar hulle kerkstoele vandag nog bewaar word.

1944 – David Wilcocks, Afrikaanse predikant wat tronkstraf uitgedien het vir dankgebede ná Boereoorwinnings by Colenso en Magersfontein (* 13 Februarie 1861)

Domoinee David Wilcocks het aan die Victoria Kollege op Stellenbosch gestudeer en is in 1890 gelegitimeer. Hy het op Vryburg, Mosselbaai en weer op Vryburg as NG predikant gearbei toe hy in 1900 aan hoogverraad skuldig bevind is na aanleiding van sy dankgebede uitgespreek vir die Boere-oorwinnings wat by Colenso en Magersfontein 1899 behaal is. Hy is tot twaalf maande gevangenisstraf by Tokai gevonnis waar hy in die tyd onderwys gegee het. In 1903 is hy na Aliwal-Noord, 1906 na Prins Albert, 1911 weer na Mosselbaai, 1921 na Riebeeck-kasteel en van 1925 tot 1932 dosent aan die Wellingtonse Sending instituut. Hy is op 20 Julie 1944 oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/