GEZIENA KRUGER (1831-1901)
TANT SIENA, ALMAL SE TANTE
Voor 1994 was 10 Oktober, die verjaardag van president Paul Kruger, een van die belangrikste vakansiedae op ons kalender. In later jare is dit dikwels ook “Heldedag” genoem en tot hierdie dag herdenk die Afrikanervolk die geboorte en lewe van een van die merkwaardigste seuns van sy volk. Ons skryf elke jaar oor oom Paul, net soos tientalle ander forums op die sosiale media en net soos honderde van sy getroue en volkstrotse bewonderaars.
Die een mens oor wie daar hopeloos te min geskryf word, is tant Siena, die president se getroue, liefdevolle en karaktervaste ou steunpilaar vir meer as ’n halfeeu.
Sy was ’n nooi Du Plessis van Burgersdorp se kontrei – een van die nege kinders van Jan Adriaan du Plessis. Gezina Susanna Frederika Wilhelmina noem hulle haar toe sy op 5 Mei 1831 gebore word. Sy is ’n kleinding van skaars drie jaar oud toe Jan Adriaan en sy vrou hulle wa laai en die Kolonie verlaat saam met die trek van Andries Hendrik Potgieter. Dit is op hierdie trek waar sy Paultjie leer ken – hy is ses jaar ouer as sy. Die twee is van kleins af maats, maar wanneer Paul se hakskene begin rooi raak, is dit na Gezina se niggie, Anna Maria Etresia du Plessis wat hy gaan vry. Gezina is een van die strooimeisies by hulle huweliksbevestiging en sy is ook teenwoordig wanneer die eerste twee Kruger-kinders gedoop word.
Anna Kruger sterf onverwags in 1846 en nou hang Paul hoed op by die 15-jarige Siena du Plessis. Minder as twee maande na Anna se dood trou die twee, Paul sit immers met twee kleine kinders wat versorg moet word. Uit hulle huwelik, wat uiteindelik 55 jaar lank sou duur, word 15 kinders gebore.
Op Boekenhoutfontein leef tant Siena stil en bestuur haar huis en haar gesin soos dit betaamlik is vir ’n Boervrou. Prof. Jan Lion Cachet skryf oor haar: “Tant Siena, soos sy genoem is, was ’n tipe van die ou Afrikaanse vrou – sag, eenvoudig, gasvry, vriendelik en tog so sterk in die geloof.” Die tekens van haar handewerk is vandag nog op Boekenhoutfontein sigbaar en ’n mens kan nie help om lag te kry vir die koningsblou mure van die hoofslaapkamer nie, tant Siena was vas oortuig daarvan dat dit die vlieë uit die huis sou hou!
Daar is net twee dinge wat haar lewe ongemaklik maak – sy sukkel van jongs af met haar gesondheid. Haar hart lol, artritis keil haar op en die ou bloeddruk wil net nie laat staan nie. Meer as een keer draai sy by die dood om, maar sy byt vas en staan elke keer weer uit die siekbed op.
Die tweede ding waaraan sy geen erg het nie, is die politiek. Tot hierdie dag bestaan daar nie een enkele foto waar sy saam met die president by ’n amptelike geleentheid in die openbaar verskyn nie. Haar vaste geloof is dat sy verantwoordelik is vir haar huis en haar gesin, die politiek is Paul se dinge.
Wanneer Paul in 1877 na Europa reis om beswaar te maak teen die anneksasie van Transvaal, bly sy siek op die plaas agter. Sy stof het nog nie gaan lê nie, of tant Siena sleep haarself uit die bed om te sien dat die boerdery nie verwaarloos word nie.
In 1881, twee jaar voordat hy president word, besluit Paul om permanent na Pretoria te verhuis sodat hy kan aandag gee aan volksake. Tant Siena is nie hiervoor lus nie, maar sy pak morrend haar kiste en trommels en maak seker dat twee van die melkkoeie, haar hoenders en kalkoene en die bok saamgaan! Sy het ’n huis vol kinders wat moet koskry en sy gaan nie geld mors op dorpseiers en bottels melk nie!
Die Kruger-huis in Pretoria is pynlik netjies en vol van tant Siena se pragtige naaldwerk. Wanneer daar besoekers kom, bedien sy koffie en van haar heerlike melktert en koeksisters, maar as die skinkbord ingedra is en die besoekers gegroet is, gaan sy terug kombuis toe. In teenstelling met die Vrystaatse presidentsvrou, Tibbie Steyn, wat gemaklik omgaan met die Lords en Ladies en hoë besoekers wat by Onze Rust aandoen, is tant Siena nooit tuis in sulke geselskap nie.
Dit is ook waarom die vroue van ander Transvaalse leiers, Hendrina Joubert en Nonnie de la Rey en Isie Smuts, die vrou van die Transvaalse staatsprokureur, gewoonlik die aandag kry. Tant Siena word net Sondae gesien wanneer sy stemmig langs die president haar plek inneem in die Gereformeerde Kerk in Kerkstraat. Die meeste burgers weet nie eens hoe die presidentsvrou lyk nie en die politieke figure van die Kaap en Natal en die Vrystaat ken oom Paul, maar van tant Siena weet hulle niks.
Waarskynlik is dit ook die rede waarom die Britse leëraanvoerders tydens die Vryheidsoorlog nie met haar karring nie. Waar hulle Tibbie Steyn en Nonnie de la Rey en Isie Smuts en Mynie Hertzog en Annie Botha gedurig verpes om druk op hulle mans uit te oefen om die wapen neer te lê, laat hulle tant Siena met vrede. Sy is in daardie jare in elk geval die meeste van die tyd in die bed – haar gesondheid keil haar lelik op.
Dat die grootste uitdagings van haar lewe juis deur hierdie oorlog sou kom, sou tant Siena in die dae vooraf, met hulle rustige, voorspelbare gang, nooit verwag nie.
Sy offer niks minder op as enige ander Boervrou nie. Vier van haar seuns, vyf skoonseuns en 33 kleinseuns is op kommando. Vir hulle bid sy aanhoudend. 1900 is die bitterste jaar. Die Britse leër ruk op na Pretoria en die regering besluit om die president in ballingskap te stuur. Hy vertrek op 29 Mei 1900 in ballingskap, maar tant Siena is te siek om hom te vergesel. Dis ’n bittere afskeid, die twee oumense, wat ’n paar weke minder as 55 jaar lank hulle paadjie saamgestap het, weet dat hulle mekaar waarskynlik nie weer sal sien nie.
Wat die afskeid nog swaarder maak, is die tyding wat daardie selfde oggend kom dat hulle dogter, Sophia Smit, twee dae vantevore in die konsentrasiekamp by Steenbokfontein in die Swartruggens aan die masels oorlede is. Sy laat agt kinders na en dié is op pad Pretoria toe. Tant Siena sal na hulle moet omsien.
Die kinders is in ’n haglike toestand van verhongering en ontbering en al agt is siek van die masels. Terwyl die president nog op pad is na Lourenço Marques, sterf vyf van die kinders binne nege dae onder tant Siena se dak. Na die laaste begrafnis is dit asof sy ook alle lus om te lewe verloor het. Haar smart is eenvoudig te groot. Sy trek haar terug in haar kamer met haar Bybel en haar Boeremedisyne en haar herinneringe.
Op 20 Julie 1901 bring die bediende haar oggendkoffie. Tant Siena word nie wakker nie – sy het in haar slaap ’n massiewe beroerte gehad. Die lyne van die gesig, wat oor die jare ingeëts is deur pyn en verlies en volharding het versag en die knokkelrige ou hande lê oor haar bors gevou, asof sy vir haar Skepper gewag het.
Ironies is dit dat die Pretorianers, wat vir 20 jaar half bo-oor haar gekyk het, in massas opruk vir haar begrafnis. In haar dood word tant Siena die vergestalting van die smart en lyding van die volk en die lig van hoop wat bly brand.
In die verre Switserland vou die ou president berustend sy hande wanneer die telegram kom en sê: “Soos God se wil is, is dit goed.” Op vier dae na leef hy nog drie jaar in die verre vreemde voordat hy tant Siena volg.
In Pretoria se heldeakker lê die twee oues naas mekaar begrawe. Die onversetlike leier, die vergestalting van nasieskap en verset. Die Groot Gryse.
En die goeie Afrikanervrou sonder wie hy nooit kon wees wie hy was nie.
Sy graf is ’n rysige suil met ’n fletswit borsbeeld wat van ver af gesien kan word. Hare is ’n eenvoudige steen met ’n Psalmvers oor diensbaarheid op. En dit is waarskynlik presies soos wat tant Siena dit sou wou hê.
deur Daniël Lötter