
20 MEI
GEBEURE
1900 – Slag by Scheepersnek
In hul opmars deur Natal, nadat Ladysmith op 1 Maart 1900 ontset is, sou die meeste Boere na Transvaal terugval, maar ’n aantal burgers onder bevel van genl. Chris Botha sou na die ooste uitwyk en Buller se magte in die flank lastig val. Kol. EC Bethune se magte is toe gelas om die Boere in die omgewing van Nqutu, wes van Vryheid, te verdryf. Toe hy hulle nie daar aantref nie, is verneem dat hulle hul aan die Bloedrivier, suid van Vryheid, bevind. ’n Eskadron van Bethune se ruitery onder kapt. Goff het taamlik ver vooruitgery, maar is by Scheepersnek, ’n moeilike deurgang, 10 km suidwes van Vryheid, op 20 Mei 1900 in ’n hinderlaag gelei. Goff en sowat 30 is gedood, 30 gewond en ses Tommies gevange geneem. Die geveg was oor voordat die hoofmag opgedaag het, maar dit het Bethune in ieder geval gedwing om na Nqutu vir voorrade terug te val voordat verder opgetree kon word.
1916 – Die Huisgenoot verskyn
Die eerste uitgawe van Die Huisgenoot, die oudste Afrikaanse weekblad, verskyn op hierdie dag. Dit was, nadat Die Burger die vorige jaar die lig gesien het, die tweede onderneming van die Nasionale Pers wat in 1915 as maatskappy geregistreer is. Die tydskrif was ’n maandblad tot 1923 toe dit ’n weekblad geword het. Die Huisgenoot het ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van die Afrikaanse kultuur en letterkunde en het seker baie daartoe bygedra om die Afrikaner te leer lees. Van die werke wat as vervolgreeks daarin verskyn het, was Uit oerwoud en vlakte van Sangiro, U dienswillige dienaar van CJ Langenhoven en Verspeelde lente van J van Melle. Benewens hierdie drie, is daar onder die Afrikaanse skrywers wat medewerkers was, mense soos Eugène Marais, Jan FE Celliers, DF Malherbe, Totius, CL Leipoldt, Toon van den Heever, NP van Wyk Louw, DJ Opperman, Anna M Louw, WA de Klerk en Chris Barnard, en populêre skrywers soos Karl Kielblock en Kas van den Bergh. Gedurende die eerste kwarteeu van sy bestaan kon Die Huisgenoot met reg daarop aanspraak maak dat hy die arm man se universiteit was.
1983 – Kerkstraat-bomontploffing in Pretoria
Ongeveer 217 mense word ernstig beseer tydens die sogenaamde Kerkstraat-bomontploffing. Altesaam 21 mense het die dag gesterf, waarvan 11 verbonde was aan die Suid-Afrikaanse Lugmag.
1987 – Bom in Johannesburg
Vier lede van die Suid-Afrikaanse Polisie sterf toe ’n bom by ’n landdroskantoor in Johannesburg ontplof.
GEBOORTES
1873 – Anje Hendriks Strik, ma van Hendrik Frensch Verwoerd († 1940)
1921 – Hendrik Vermooten, argitek wat veral verantwoordelik was vir die ontwerp van 144 Afrikaanse kerkgeboue († 3 Januarie 2013)
Hendrik Vermooten was seker een van Suid-Afrika se bekendste en mees produktiewe argitekte. Benewens 144 kerkgeboue was hy ook verantwoordelik vir die ontwerp van die Saambou Nasionale Bank- en katoorgebou op Kerkplein in Pretoria, die Dirk van der Hoff-gebou, wat die hoofkantoor en die konserwatorium van die Nederduitsch Hervormde Kerk huisves, asook verskeie skole, hospitale, skoolsale en ontspanningsoorde vir die Transvaalse Provinsiale Administrasie. Hy is op 3 Januarie 2013 in die ouderdom van 91 jaar oorlede.
STERFTES
1967 – Jan Gysbert Hugo Bosman (Bosman di Ravelli), pianis, komponis van kunsliedere en skrywer (* 24 Februarie 1882)
Bosman di Ravelli was die eerste Suid-Afrikaans-gebore konsertpianis wat internasionale bekendheid verwerf het; hy was ook ’n baanbreker van die Afrikaanse kunslied en die eerste persoon wat ’n artikel oor musiek in Afrikaans geskryf het.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.