HENDRIK VERMOOTEN (1921-2013)
Hendrik Vermooten was ’n bekende argitek wat verskeie kerkgeboue, veral van die Nederduits Gereformeerde (NG)-kerk ontwerp het.
Hy is op 20 Mei 1921 in Potchefstroom gebore en het sy skoolopleiding in Potgietersrus (vandag Mokopane) ondergaan. Sy pa was ’n handwerkonderwyser en inspekteur en hy het Hendrik se belangstelling in argitektuur aangemoedig. Hendrik het in matriek onderskeidings in wiskunde en Duits behaal.
In 1938 het hy argitektuur aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer en saam met ’n aantal teologiese studente in die Kollege-tehuis tuisgegaan. Hy het later kerkgeboue vir sommige van hulle ontwerp. Hy moes om finansiële redes deeltyds werk en hy het hom by die firma Leendert en Geurt Geers aangesluit. Hierdie firma het hom in 1939 ’n betrekking by sy kantoor in Johannesburg aangebied en gevolglik het hy hom by die Universiteit van die Witwatersrand ingeskryf. Hy was die enigste Afrikaanssprekende persoon tussen die dosente en studente en die Tweede Wêreldoorlog het boonop in daardie jaar uitgebreek. In hierdie tyd het hy tuisgegaan in ’n sinkkamertjie in ’n losieshuis in Braamfontein saam met Afrikaanse studente in die geneeskunde en ingenieurswese. Hy het tussen sy werkplek, sy woonplek en die universiteit gestap. In 1942 het hy na harde voltydse werk en buitemuurse studie sy diploma verwerf. By Geers en Geers het hy waardevolle ondervinding opgedoen, onder meer in boutoesig, asook teken- en ontwerpwerk. Hulle het heelwat kerke ontwerp, en seker die eerste predikant met wie hy bevriend geraak het, was ds. LM le Roux, wat later sy predikant in die NG-gemeente Pretoria-Oos was, en saam met wie hy aan ’n nuwe kerkgebou gewerk het.
In 1943 het ’n nuwe praktyk, Geers, Vermooten en Geers, ontstaan, maar Geers jr. is in 1944 oorlede. Vermooten het hom as ’n leermeester en vriend beskou. Hy moes op sy eie voortgaan, maar op daardie stadium was hy reeds bekend en het die drie susterskerke, die Nederduits Gereformeerde Kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerk, hom gevra om kerkgeboue, sale en pastorieë te ontwerp. Hy was op die ou einde verantwoordelik vir die ontwerp van 144 kerkgeboue. Daarby het hy opdragte van Volkskas en Saambou Nasionale Bouvereniging ontvang vir die ontwerp van bank- en kantoorgeboue. Dit het gemaak dat Vermooten werk in alle dele van Suid-Afrika, asook Namibië, Kenia en Zimbabwe verrig het. Vir die Transvaalse Provinsiale Administrasie het hy skole, skoolsale, hospitale en ontspanningsoorde ontwerp.
Die werk het gou te veel vir een mens geword, en Tommie Baker, wat in die Johannesburgse kantoor saam met hom gewerk het, het hom by die kantoor in Pretoria aangesluit. Hy het ’n junior vennoot geword en later sy eie praktyk gestig. Izak du Plooy en Willie Oosthuizen het hulle by die firma aangesluit en die naam het na Hendrik Vermooten, Du Plooy en Oosthuizen verander. Verskeie argitekte wat by die firma gewerk het terwyl hulle gestudeer het, het later self gepraktiseer en bekendheid verwerf. Hy het die Dirk van der Hoff-gebou in Pretoria, die hoofkantoor, saal en konserwatorium van die Nederduitsch Hervormde Kerk as ’n hoogtepunt van sy loopbaan beskou, tesame met die nuwe kerkgebou, saal en kantoorgebou van die NG Kerk in Braamfontein, Johannesburg en die Saambou Nasionale bank- en kantoorgebou op Kerkplein. Die kerkgebou in Braamfontein is intussen gesloop terwyl die sinodale kantore na Kempton Park verskuif is.
Vermooten is op 8 Julie 1950 met Maria Magdalena de Wet getroud, en sy oom, ds. Simon Vermooten, het hulle in die huwelik bevestig. Drie kinders is uit die huwelik gebore, asook agt kleinkinders, waarvan twee op ’n jong ouderdom oorlede is. Sy is op 6 Junie 2004 oorlede nadat hulle byna 54 jaar lank getroud was.
As gevolg van opdragte uit die Oos-Kaap en Natal moes hy gereeld weg van die huis af wees en lang afstande per motor aflê. Omdat dit moeilik was om sitplek by die lugdiens te kry, het hy in 1947 ’n permit gekry om ’n vliegtuig van die Verenigde State van Amerika af in te voer. Die eerste een het net twee sitplekke gehad, maar mettertyd het hy ook groter vliegtuie met tot ses sitplekke aangeskaf om meer passasiers op te laai. Tydens die grensoorlog het hy hom by ’n kommando-eskader van die Lugmag aangesluit en gevorder tot by die rang van kaptein en vlugbevelvoerder. Hy het min teenspoed gehad, want hy het nie daaraan geglo om waaghalsig te wees nie en altyd kalm gebly. Hy het sy laaste vliegtuig in 1984 verkoop. Onder sy ander stokperdjies was musiek en fotografie, terwyl hy ook “probeer het om gholf te speel.”
Sommige van die kerkgeboue wat Vermooten ontwerp het, is die NG Kerk Bronberg in Pretoria, die NG Kerk Riviera-Jakaranda, die Gereformeerde Kerk Klerksdorp-Noord, die Gereformeerde Kerk Potgietersrus en die Nederduitsch Hervormde Kerk Ermelo.
Hy is op 3 Januarie 2013 in die ouderdom van 91 jaar oorlede.
Daantjie Badenhorst