20 NOVEMBER

GEBEURE

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Gatberg, Ugie

1913 – Die nuwe pier aan die onderpunt van Adderleystraat in Kaapstad word geopen

1930 – Die FAK se Handhaaf-en-Boureeks word aangekondig

Die FAK het van sy stigting af voortdurend by die Afrikaner aangedring op die suiwer gebruik van Afrikaans. Die FAK het egter ook besef dat daar van baie Engelse woorde nie ’n Afrikaanse ekwivalent voor bekend is nie. Die noodsaaklikheid van woordelyste is besef en daar is toe aan die werk gespring om woordelyste, wat geen wetenskaplike vakwoordeboeke moes wees nie, saam te stel. Op 20 November 1930 is aangekondig dat die eerste woordelys in die Handhaaf-en-Boureeks, soos dit bekend gestaan het, beskikbaar is. Dit was die Woordelys van Motorterme. Daarna verskyn in 1932 Kruideniersware- en Slagterme en Alledaagse woorde, in 1933 Spyskaartterme en in 1935/36 Rugby- en Sokkerterme, Krieket, Skyfskiet- en Brugspeelterme, Biljart- en Gholfterme en Hokkie- en Korfbalterme. Professor PJ Nienaber het in 1937 redakteur van die Handhaaf-en-Boureeks geword, en nog lyste het verskyn: Skoenmakersterme (1937), Kookterme (1939), Fotografiese, aptekers- en toiletterme. Die FAK het ’n nuwe Handhaaf-en-Boureeks aangepak, en in 1979 Motorterme (nr 1), Rugbyterme (nr 2), Krieketterme (nr 3) en Tennisterme (nr 4) beskikbaar gestel.

GEBOORTES

1848 – Majoor Friedrich Wilhelm Richard Albrecht, stigter van die Vrystaat Staatsartillerie († 14 November 1926)

Friedrich Wilhelm Richard Albrecht, grondlegger van die Vrystaatse Staatsartillerie, is op 20 November 1848 naby Berlyn gebore. Ná sy skoolloopbaan het hy in 1867 ’n artilleris geword en aan die Frans-Pruisiese oorlog (1870–1871) deelgeneem. In 1880 is hy as offisier in bevel van die Vrystaatse Staatsartillerie beëdig. Hy het die Vrystaatse artillerie op die Pruisiese manier geherorganiseer en die korps uitgebrei. In 1894 is Albrecht na Duitsland om meer byderwetse kanonne en militêre toerusting vir die Vrystaatse Republiek te gaan koop. Ná die Jameson-inval het hy hom daarvoor beywer om die Vrystaatse artillerie slaggereed te kry. Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 het Albrecht tot die stryd toegetree met sy artilleriekorps: 74 offisiere, onderoffisiere en manskappe, met ’n reserwemag van vierhonderd goed opgeleide artilleriste. Hy het met onderskeiding aan die veldslae by Belmont, Graspan, Modderrivier, Enslin en Magersfontein deelgeneem. Albrecht het sy laaste slag by Paardeberg gevoer, waar hy ná generaal Cronjé se oorgawe met die grootste gedeelte van die Vrystaatse Staatsartillerie op 27 Februarie 1900 krygsgevangene geneem is. Nadat die Vrystaat ná die oorlog selfregering verkry het, word Albrecht die ampswag van die Wetgewende Vergadering. Hy is in Bloemfontein met volle eerbewys begrawe. By sy graf is onder meer verklaar dat Albrecht sy geboorteland nie trouer kon gedien het nie as sy nuwe vaderland.

1856 – Johan Frederik van Oordt (D’Arbez), skrywer († 6 September 1918)

Johan Frederik van Oordt is op 20 November 1856 in Kaapstad gebore en op 6 September 1918 aldaar oorlede.

Hierdie oudste seun van die redakteur van 𝘏𝘦𝘵 𝘝𝘰𝘭𝘬𝘴𝘣𝘭𝘢𝘥 vertoef van ongeveer sy tweede jaar af tot sy 17de in Nederland waar hy skoolgaan. Na sy terugkeer word hy in 1875 onderwyser aan FD Changuion se Instituut op Swartland, die latere Malmesbury.

Die graad BA verwerf hy in 1877 aan die Universiteit van Kaapstad, asook die eersteklas-onderwysdiploma. Nou begin sy wydvertakte loopbaan – eers as onderwyser op Richmond, daarna as hoofonderwyser op Fauresmith, en ’n jaar later as klerk in die kantoor van die ouditeur-generaal in Bloemfontein. Hy studeer in die regte en slaag in 1882 in sy advokaatseksamen. Vervolgens praktiseer hy as prokureur op Kroonstad en in 1885 word hy mynkommissaris op Roodepoort. Hy was ook prokureur op Heidelberg, Transvaal. In 1891 keer hy terug na Richmond, en word daarna prokureur op Britstown. Na sy vader se dood in 1904 gee hy lesings in moderne tale aan die Suid-Afrikaanse Kollege en doen met behulp van ’n regeringstoelaag navorsing in Bantoetale. In 1907 word hy onderwyser op Harrismith.

Van Oordt (D’Arbez), wat in Nederlands skryf, se werke is nie van veel literêre betekenis nie, maar hul kultuurhistoriese waarde is groot. 𝘔𝘰𝘰𝘪 𝘈𝘯𝘯𝘪𝘦 (1896) en 𝘋𝘢𝘷𝘪𝘥 𝘔𝘢𝘭𝘢𝘯 is sy twee beste histories-romantiese verhale. Baie van sy historiese romans is in Afrikaans vertaal.

STERFTES

1932 – Nicolaas (Nico) Hofmeyr, ’n predikant, skrywer en skoolinspekteur (* 10 Februarie 1860)

Nicolaas, Hofmeyr, die derde seun van prof. MJ Hofmeyr, is op Stellenbosch gebore. Hy was aanvanklik predikant, later onderwysman en skrywer van veral skoolboeke. Hy het heelwat musiekwerk gedoen, waarvan “Afrikaners Landgenote” en “Afrikaanse Bruilofslied” alombekend geraak het. Hy is op 20 November 1932 in die Strand oorlede.

1947 – Stephanus Johannes Paulus (Fanie) Eloff, beeldhouer en kleinseun van Paul Kruger (* 7 Oktober 1885)

Fanie Eloff was ’n gesiene Suid-Afrikaanse beeldhouer. Hy is in die Transvaal gebore en was ’n kleinseun van Paul en Gezina Kruger. Sy vader was Frederik Christoffel Eloff, eienaar van die plaas Eloffsdal waarop die Pretoriase voorstad Capital Park uitgelê is, en sy moeder Elsie Eloff-Kruger.

1985 – Henning Johannes (Henning) Klopper, taaltryder en stigter van ATKV (* 17 Januarie 1895)

Henning Johannes Klopper, gebore in die distrik Heilbron, het hom op 13 Maart 1911 by die Spoorweë aangesluit en tot assistent-superintendent (bedryf) in Bloemfontein gevorder. Hy het die Spoorwegdiens op 7 Julie 1943 verlaat toe hy as LV vir Vredefort in die Vrystaat verkies is. Henning Klopper het seder 1914 in die Afrikaner se politieke en kultuurstryd gestaan. In 1930 het hy die eerste tak van die ATKV (SAS en H) op Volksrust gestig en deurgaans ’n prominente rol in die kultuurvereniging vir Spoorwegamptenare gespeel. Sy grootste kultuurbydrae was sy leeue-aandeel in en leierskap van die Simboliese Ossewatrek in 1938. Waarna hy ook ’n steunpilaar in die Reddingsdaadbond was. Hy was sedert die stigting van die Nasionale Party lid daarvan en het die kiesafdeling Vredefort van 1943 tot met sy uittrede uit die aktiewe politiek in die Volksraad verteenwoordig. Hier het hy ook as waardige leier na vore getree toe hy op 20 Januarie 1961 Speaker van die Volksraad word. Hy het in 1974 uit die aktiewe politiek getree.

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/