21 MEI

GEBEURE

1837 – Erasmus Smit as predikant aangestel

Gebore op 2 Augustus 1778 in Buiksloot, Nederland, is hy van 1786 af in die Aalmoeseniers-weeshuis opgevoed. In 1801 het die Nederlandse Sendinggenootskap hom as sendeling opgelei en ingeseën: dit was nie ’n amptelike ordening nie, dus het hy nie die bevoegdheid verkry om die sakramente te bedien nie. In Oktober 1804 het hy in Kaapstad aangekom en op Bethelsdorp begin arbei.

In Junie 1813 het hy met die dertienjarige Susanne Catharina Maritz, oudste suster van Gert Maritz, in die huwelik getree en ’n sending instituut by Torenberg (vandag Colesberg) aangelê. Daar is hy op 15 September 1816 deur eerwaarde James Read, superintendent van die Londense Sendinggenootskap in Suid-Afrika, as sendeling georden en het hy gevolglik ook die bevoegdheid verkry om die sakramente aan nie-blankes wat deur sendelinge bekeer is, te bedien, maar nie aan lidmate van enige kerkgenootskap of hulle kinders nie.

Van 1818 tot 1836 het hy agtereenvolgens op Kookfontein (naby Beaufort-Wes), Stellenbosch, Olifantshoek (tans Alexandria) en Graaff-Reinet gearbei, en in September 1836 het hy saam met die Maritz-trek die Kaapkolonie verlaat. Hy het in die Voortrekkers se geestelike behoeftes voorsien, maar ernstige verdeeldheid het ontstaan omdat hy nie die sakramente kon bedien nie.

Onder druk van omstandighede het hy op 17 Maart 1837 wederregtelik vir die eerste keer die doop op die Groot Trek bedien. Dit het die Voortrekkergemeente in twee geskeur. Ná sy verkiesing as goewerneur, het Piet Retief vir Smit beveel om hom in die erediens op 23 April 1837 as leraar te bevestig. Hewige teenkanting het dit in die wiele gery.

Die besware teen Smit was veral dat hy nie die sakramente aan blankes kon bedien nie, maar ook dat hy ’n onaangename geaardheid gehad het en reeds oud en mankoliek was, sodat hy sy predikantswerk nie behoorlik kon verrig nie. Retief het egter daarop aangedring dat Smit as leraar aangestel word, en op 21 Mei 1837 is hy voor ’n aansienlike getal toehoorders deur homself as eerste leraar van die “reisende gemeente der Gereformeerde Kerk naar Port Natal” bevestig.

Geen besware is geopper nie, en hy is amptelik vir al die Voortrekkers aangestel. Hy sou ook die sakramente kon bedien. Baie Voortrekkers het hulle egter van hom gedistansieer. Op 6 Junie 1837 het hy goewerneur Retief voor die gemeente kerklik ingeseën. Tydens die Voortrekkers se lotgevalle in Natal, het hy onvermoeid sy predikantswerk verrig. Sedert Januarie 1839 het hy op Pietermaritzburg gewoon en as leraar gearbei totdat hy op 10 Februarie 1841 verplig is om sy emeritaat te aanvaar.

Hy en Susanna het in ’n armoedige huisie in Bergstraat gewoon. ’n Week na Susanna se dood is hy op 3 Augustus 1863 oorlede. Hy is langs sy vrou in die Voortrekkerbegraafplaas in Commercialweg begrawe.

1884 – Dinuzulu volg sy pa op as koning van die Zoeloes

Dinuzulu kaCetshwayo het sy pa Cetshwayo op 21 Mei 1884 as koning van die Zoeloes opgevolg. Ná die Eerste Vryheidsoorlog het die Britte Zoeloeland in dertien kleiner gebiede verdeel, waarvan Cethswayo en later Dinuzulu, aan die hoof van een was. ’n Burgeroorlog het tussen die gebiede uitgebreek en toe Dinuzulu nie steun van die Britte kon kry nie, het hy hom tot die Boere van die Zuid-Afrikaansche Republiek gewend en aan hulle grond in die distrikte van Vryheid en Utrecht aangebied as hulle hom sou help om die Zoeloe-koninkryk te herstel. In 1884 het ’n groep Boere gaan help, in ruil vir grond vir die stigting van ’n onafhanklike republiek wat toegang tot die see sou bied. Dit het gelei tot die samestelling van generaal Louis Botha se Dinuzulu-vrywilligers en die Nieuwe Republiek in die noorde van Natal wat St. Lucia vir ’n hawe ingesluit het. In 1890 het die Britte Dinuzulu gevang en hom vir sewe jaar na St. Helena verban omdat hy ’n Zoeloeleër teen hulle gelei het. Toe Botha op dié dag (21 Mei) in 1910 premier van die Unie van Suid-Afrika geword het, het hy sy vriend Dinuzulu op die plaas Uitkyk in Transvaal gevestig waar hy in Oktober 1914 in die ouderdom van 44 jaar oorlede is. Hy het ’n Staatsbegrafnis gekry en is op Nobamba langs die bolope van die Wit Umfolozi begrawe.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Rooskloof, Noupoort, Kaapkolonie

1902 – Anglo-Boereoorlog: Vredesvoorstelle in Londen ontvang

Die voorgestelde vredesvoorstelle, ooreengekom deur ’n kommissie van vyf, Botha, De la Rey, De Wet en Hertzog, saam met Kitchener en Milner, is in Londen ontvang.

1910 – Die hoeksteen van die nuwe treinstasie in Pretoria word gelê.

1919 – Eerste uitgawe van Landbouweekblad

Die Landbouweekblad, gewilde weeklikse tydskrif vir die boer, word deur die Nasionale Pers uitgegee. Die tydskrif het tot stand gekom in ’n tyd toe die Suid-Afrikaanse boer as gevolg van droogte byna op sy knieë gedwing was en is ten volle aan die landbousake toegewy. Dit word so ingeklee dat hy ’n wye spektrum van lesers van albei geslagte en alle ouderdomme sowel op die platteland as in die stedelike gebiede bedien. Van sy eerste uitgawe, onder doktor FB Geldenhuys as grondliggende redakteur, het hy gegroei tot Suid-Afrika se grootste landbou-tydskrif in enige taal, met ’n kwart miljoen lesers hoofsaaklik in die Republiek, SWA en Rhodesië, maar ook elders. Toenemend gewild as handboek van die boer en sy hele gesin, word dit vandag deur 71% van alle boere en 82% van alle Afrikaanssprekende boere in Suid-Afrika gelees. Tipografies geniet die tydskrif, wat soms meer as 200 bladsye beslaan, die beste versorging, en met sy landbou-joernalistiek, neem hy ’n toonaangewende plek in, met nog groter moontlikhede vir die toekoms.

1980 – Grensoorlog: Veldslag van Savate in Angola

Die bekendste veldslag waaraan 32-Bataljon van die Suid-Afrikaanse Weermag deelgeneem het.

 

GEBOORTES

1906 – Arnold Meiring, predikant († 12 Februarie 1984)

Dominee Arnoldus Mauritius Meiring was ’n predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk en moderator van die Transvaalse Sinode van 1957 en 1961.

1928 – Charles Jacobie, country-sanger († 5 Junie 1988)

Charles Henry Jacobie was ’n Afrikaanse country-sanger wat in die sestigerjare as die “Singende Beesboer” bekend was. Sy debuutalbum, Die singende beesboer, is in 1961 uitgereik en hy het op ’n perd deur die strate van Johannesburg gery om dit bekend te stel. Hy word deur baie as die vader van countrymusiek in Suid-Afrika beskou. Op 9 April 1988 is ’n trofee op die Randse Skou aan hom oorhandig om hom vir sy lang loopbaan in die musiekwêreld te vereer. Hy is later in dieselfde jaar op Nelspruit aan ’n hartaanval oorlede.

 

STERFTES

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

Frikkie Wallis Facebook

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/