PIET RETIEF (1780-1838)
LEIER EN STIGTER VAN ’N NASIE
Piet Retief, staatsman en martelaar van die Voortrek, was die stigter van die Boerenasie. In hom het die Afrikaanse volksgedagte tot wasdom geryp. Sy aard en karakter het hom die aangewese leier en stigter van ’n nuwe nasie gemaak. As leier van die Trek het hy die weg gebaan waarlangs ’n Europese beskawing die barbaredom van ons land kon bereik.
Die vryheidsideaal het hom aangedryf—’n vrye volk, vrye verbinding met die buitewêreld. Vir die verwesenliking van hierdie fiere vryheidsin het hy gelewe en gesterwe, en op die geskiedrol van ons wordingsgeskiedenis sal sy naam aangemerk staan as een van die edelste figure en een van die grootste manne wat die Afrikanervolk ooit opgelewer het.
Piet Retief, as nasaat van die Hugenoot, Francois Retief, is in 1780 op die plaas Welvanpas, in die Wamakersvallei, gebore. Die jongeling het ’n vry goeie skoolonderrig ontvang, maar hy was rusteloos van geaardheid. Handelstogte bring hom op die Oosgrens, waar hy naderhand getroud is met die weduwee Greyling. Eers woon hy in die distrik Uitenhage, maar vestig hom daarna te Albanie, waar hy hom besig hou met kontrakteurswerk. Hy word ook veldkommandant. Die ou drosdy op Grahamstad is sy handewerk.
Weens onvoorsiene omstandighede speel hy bankrot, en nou vestig Retief hom in die vallei van die Winterberge, op die plaas Mooimeisiesfontein. Hier bou hy weer ’n aansienlike vermoë op. Oral waar hy gegaan het, het hy die vertroue van die owerheid sowel as van sy medeburgers behou. Toe hy die Britse Setlaars in 1820 na hulle onderskeie verblyfplekke help vervoer het, het sy strenge eerlikheid, vaste karakter, regskapenheid en beminlikheid die bewondering van die vreemdes afgedwing.
Reeds op 11 April 1835 skryf Retief ’n brief aan Campbell, die siviele kommissaris van Albanie, waarin hy sekere griewe van sy medeburgers uiteensit, maar in sy beroemde Manifes, gedateer 22 Januarie 1837, en gepubliseer in die Grahamstown Journal, is vervat die regmatige griewe en ware beweegredes waarom ook hy sy geboorteland verlaat en die onbekende noorde ingetrek het.
Drie maande later was sy geselskap by die ander emigrante tussen Thaba ’Nchu en die Vetrivier. Hier word hy tot goewerneur van die Trekkers gekies. Hy tree ook op as vredemaker tussen Potgieter en Maritz, sluit daarna verskillende verdrae met naburige inboorlingkapteins, en na ’n tydperk van besluiteloosheid oor waarheen die trek sou gaan, wend hy sy skrede na Natal en so na die see. In Port Natal is Retief baie hartlik deur die Engelse nedersetters aldaar ontvang.
Dadelik na sy aankoms tree hy in verbinding met Dingaan, met die doel om grond van hom te koop, dog hy moes eers gesteelde vee van die Zoeloekoning by Sikonyella gaan haal. By die laers teruggekeer, smeek sy mense hom om nie weer na Umgungundlovu te gaan nie, maar hy neem self die gesteelde vee na Dingaan, wat op 4 Februarie 1838 sy merk op die dokument gesit het wat die Trekkers die besitreg gegee het van “the place called Port Natal, together with all the land from the Tugela to the Umzimvubu river”.
Op Dinsdag, die sesde, word Retief en sy hele geselskap verraderlik vermoor op Hloma Amabutho.
Sy dood was ’n ontsettende ramp – die Trekkergemeenskap was lamgeslaan, verslae, hulpeloos. Piet Retief, die groot patriot, die vaderlander, die sagmoedige en vriendelike, hul gevierde leier, was daar nie meer nie. En dat hy groot was, val nie te betwyfel nie. Met volkome bewustheid en daadkrag het hy die grondslag gelê van ’n nuwe nasie. Met onwrikbare Godsvertroue, toewyding en selfopoffering het hy gestry vir volksideale. “Tot op die laaste het hy aan sy roeping getrou gebly en vir die verwesenliking van sy ideaal het hy gewag, gestry, gely en gesterf”.
Die martelaar van die Voortrek
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: Elliott-versameling, Kaapse Argief