
22 APRIL
GEBEURE
1819 – Slag van Grahamstad
Die Slag van Grahamstad het op 22 April 1819 tydens die Vyfde Grensoorlog plaasgevind. ‘n Xhosa-mag onder die bevel van Nxele is verslaan deur die Britse mag gelei deur lt.kol. Thomas Willshire.
1899 – Moneypenny deur Danie Theron platgeslaan
Die redakteur van die koerant, The Star , WF Moneypenny, word deur Danie Theron met ’n mokerhou platgeslaan. Dit volg nadat Moneypenny president Paul Kruger en die regering van die ZAR in ’n koerantartikel beledig het. Theron was met £20 beboet vir die daad. Die boete is in ’n japtrap deur die aanwesiges by sy verhoor betaal.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Leeuwkop, Bloemfontein, Waterwerke; Ysternek, Israelspoort, Thaba ‘Nchu.
1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Platberg, Klerksdorp, Tvl.
1911 – Trein stort by Bloukransbrug af
Altesame 29 mense het op 22 April 1911 in die Oos-Kaap omgekom en 23 is beseer toe ’n trein van die Blaauwkrantz- (Bloukrans-) brug tussen Grahamstad en Port Alfred afgestort het. Die gemengde goedere-passasierstrein was van Port Alfred af na Grahamstad, 68 km verder, onderweg met vyf trokke klip vir die katedraal in Grahamstad, ’n trok waarin pynappels gelaai was, 4 passasiersrytuie en ’n kondukteurswa heel agter. Een van die waens het volgens berigte losgehaak toe die trein tweederdes ver oor die brug was en die laaste wa het 60 meter ver na benede getuimel.
1955 – Eerste Nasionale Tee- en Koffiemaatskappy gestig
Die Eerste Nasionale Tee- en Koffiefabrieke Beperk, is die eerste publieke maatskappy wat deur Afrikaanse vroue opgerig is. Met gemagtigde aandelekapitaal van R2 miljoen en meer as 10 000 vroue-aandeelhouers oor die hele Suid-Afrika, word dit ’n simbool van die doelgerigte toetrede van die vrou tot die Suid-Afrikaanse ekonomiese terrein. Die eerste voorsitster van hierdie vrouemaatskappy was mev. Hobbie le Roux, wat later opgevolg is deur mev. PK Morkel. Die maatskappy het hom van die begin af ten doel gestel om produkte van die hoogste gehalte te bemark en sy bekendste produk, Braganza-Tee is vandag een van die topprodukte op die mark. Braganza-Tee is genoem na die Portugese prinses Catherina Da Braganza, wat die teedrinkgewoonte na Brittanje ingevoer het toe sy in 1662 twee pond as geskenk geneem het vir haar toekomstige man, koning Karel II van Engeland. In 1961 het die maatskappy ook toegetree tot die kitskoffiemark met Frisco-kitskoffie, wat ’n onmiddellike sukses was en vandag nog die grootste verkoper in sy klas is. Eerste Nasionale Tee- en Koffiefabrieke Beperk kan met reg trots wees op sy bydrae tot die Afrikaner se strewe na ekonomiese selfstandigheid.
GEBOORTES
1894 – Lizzie van Zyl, slagoffer van die verskroeideaardebeleid († 9 Mei 1901)
1905 – Dr. Abraham Hendrik Jonker, skrywer en joernalis († 10 Januarie 1966)
Abraham Jonker is die skrywer van ’n aantal romans en verhale met ’n sterk sosiale tendens in die sogenaamde nuwe saaklike styl. Hy is in die distrik Boshof gebore. Jonker sal veral onthou word vanweë sy bewuste poging om vernuwing in die Afrikaanse prosa te bring met werke soos Bande in 1933 en Maskers in 1938. Hy is op 10 Januarie 1966 oorlede.
1922 – Eghard van der Hoven, akteur en kunstedirekteur († 9 September 2006)
Eghard van der Hoven was ’n akteur en voormalige hoof van Truk.
STERFTES
1923 – Daniël Francois (DF) du Toit, stigterslid van die GRA (* 15 Januarie 1846)
Daniel Francois du Toit, DP seun, in later jare alombekend as Oom Lokomotief, is op 15 Januarie 1846 op die plaas Kleinbos, Daljosafat, gebore en is in Bloemfontein oorlede. Hy was ’n stigterslid van die Genootskap van Regte Afrikaners. In 1878 word hy redakteur van Die Afrikaanse Patriot, en hy oefen op dié wyse geweldig baie invloed uit op die Taalbeweging. Van Die Patriot het hy ’n gevestigde koerant met invloed gemaak. Hy het so eie met die lesers gesels dat hulle vertroue in sy koerant gehad het. Alle moontlike vrae word daarin beantwoord; daar word raad gegee, moed ingepraat en koers aangedui. Daar ontstaan ’n onverbreekbare band tussen leser en redakteur. Met die veranderde politieke houding van sy ouer broer, ds. SJ du Toit, leier van die GRA, kon hy nie saamgaan nie, en hy verlaat saam met CP Hoogenhout in 1891 Die Patriot. In 1892 verhuis hy na die Vrystaat, waar hy later in Bloemfontein argivaris was.
1993 – Dr. Andries Treurnicht, politikus, kabinetsminister, koerantredakteur en predikant (* 19 Februarie 1921)
Dr. Andries Treurnicht was ’n kabinetsminister, leier van die Konserwatiewe Party, NG predikant, koerantredakteur en provinsiale rugbyspeler.
2005 – Gregoire Boonzaier, kunsskilder (* 31 Julie 1909)
Gregoire Boonzaier was ’n skilder van veral natuur- en straattonele, Distrik Ses en die Bo-Kaap. Hy werk in verskeie media in ’n kenmerkende Impressionistiese styl. In later jare skilder hy vele selfportrette, boomstudies en stillewes. Hy het slegs een student gehad, Conrad Theys.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
https://af.wikipedia.org/wiki/
The Heritage Portal – http://www.theheritageportal.co.za/