GREGOIRE BOONZAIER (1909-2005)

Gregoire Boonzaier was ’n Suid-Afrikaanse skilder van veral natuur- en straattonele.

Gregoire Johannes Boonzaier is op 31 Julie 1909 in Kaapstad gebore. Hy was die vyfde kind van die bekende spotprenttekenaar DC Boonzaier en Maria Elizabeth Boonzaier. Hy het in 1934 in Londen en Kaapstad gestudeer en bekendheid as landskapskilder verwerf. Hy het in verskeie media in ’n impressionistiese styl gewerk; hy het onder meer tonele van die Bo-Kaap en Distrik Ses geskilder en later jare verskeie boomstudies, stillewes en selfportrette geskilder. Condar Thys was sy enigste student. Sy werk kan in korporatiewe en privaat versamelings oor die hele wêreld gesien word.

Hy het deur die jare drie eredoktorsgrade vir sy werk ontvang. Onder sy eerbewyse was ’n silwer Orde vir Voortreflike Diens wat oudpresident Nelson Mandela in 1999 aan hom toegeken het. Marie, sy lewensmaat van ongeveer sestig jaar, is in 2003 oorlede en in dieselfde jaar het sy seuns, Anton en Emile en die familie se rekenmeester Sybrand Smit die finansies van sy kunsateljee oorgeneem. In November 2004 het hy sy laaste werk voltooi en sy ateljee vir oulaas opgeruim.

In Februarie 2005 het hy op ’n eetstaking gegaan en letterlik in sy bed gewag om te sterf. Hy is op 22 April 2005 in die ouderdom van 95 op Onrus oorlede.

Daantjie Badenhorst