22 JANUARIE
GEBEURE
1816 – Slagtersnek-verhoor
’n Spesiale kommissie van geregtigheid voltooi die verhoor van gevangenes in die Slagtersnek-opstand in die Oos-Kaap en bevestig die doodsvonnis op ses en verskeie strawwe op die oorblywende drie-en-dertig.
1837 – Piet Retief voltooi sy Manifes
Op hierdie dag in 1837 is een van die waardevolste dokumente in ons land se geskiedenis voltooi. Dit is die Retiefmanifes wat namens die emigranteboere in Hollands geskryf is, en waarin die leuens aangaande die Groot Trek, en die oorsake van en doel met die Trek vir die buitewêreld uiteengesit word. Dit is volledig in die Graham’s Town Journal van 2 Februarie 1837 in Engels weergegee nadat uitdruklik om sodanige publisiteit gevra is. Al sou Piet Retief slegs hierdie skryfdaad verrig het, sou hy nog steeds histories hoog aangeslaan gewees het. Dit is immers ’n eietydse dokument wat deur ’n baie betrokke en geloofwaardige getuienis opgestel is. Retief beweer hierin dat allerlei berigte versprei is om die Trekkers by vriend en vyand in onguns te bring. Sy Manifes moet die beeld van die Voortrekkers herstel en almal laat besef dat die Christengelowige nie sommer sy band met sy geboortegrond breek as daar nie besonder oortuigende redes daarvoor bestaan nie. Die Manifes moet ook lig werp op die voornemens ten opsigte van inboorlingstamme. Hy skryf dan verder min of meer soos volg:
1. Ons wanhoop daaraan om die Kaapkolonie van die probleme te red wat dit vanweë die oproerige en oneerlike gedrag van vaebonde bedreig. Hierdie kwaaddoeners verontrus die land en as pioniers sien ons geen vooruitsig op vrede en geluk vir ons kinders in ’n land wat op hierdie wyse deur inwendige beroeringe gekwel word nie.
2. As pioniers kla ons oor die ernstige verliese wat ons verplig was om vanweë die vryverklaring van ons slawe te ly, en ons kla oor die ergerlike wette wat daar met betrekking tot hulle gemaak is.
3. Ons kla oor die plundering deur die swartman en ander gekleurdes, veral die inval van 1834/35, toe die meeste grensbewoners geruïneer is.
4. Ons kla oor die onregverdige beskuldigings teen ons as grensboere deur belanghebbende en oneerlike persone onder die dekmantel van godsdiens ingebring. Hulle getuienis word in Engeland geglo en ons bewyse tot die teendeel word verwerp. As gevolg van hierdie vooroordeel voorsien ons slegs die ondergang van die land.
5. Ons sal oral die beginsel van ware vryheid handhaaf. Ons sal niemand in slawerny hou nie. Maar ons sal behoorlike wette daarstel om misdaad te onderdruk en om ’n behoorlike verhouding tussen heer en kneg te bewaar.
6. Ons verlaat die Kaap ten einde ’n rustiger lewe as vroeër te lei. Ons sal geen volk molesteer nie en niemand sy eiendom ontneem nie. As ons egter aangeval word, sal ons ons persoon en eiendom teen enige vyand verdedig.
7. Sodra ons vir onsself nuwe wette gemaak het, sal ons afskrifte hiervan as inligting na die Kaapkolonie stuur. Nou reeds egter verklaar ons dat verraaiers in ons midde summier en selfs met die dood gestraf sal word.
8. In die loop van ons trektog en in die land van ons vestiging sal ons aan die inboorlinge ons bedoeling bekend maak en hulle van ons begeerte om in vrede en vriendskap met hulle te leef, in kennis stel.
9. Ons verlaat die kolonie met die wete dat die Britse regering niks meer van ons kan vereis nie en ons sonder verdere inmenging sal toelaat om onsself te regeer.
10. Ons vertrek uit ’n vrugbare geboorteland waar ons groot skade gely het en aan baie ergernis blootgestel was. Ons gaan ons in ’n woeste en gevaarlike gebied vestig, maar ons vertrou op ’n alsiende, regverdige en genadige God. Ons sal Hom altyd vrees en in nederigheid probeer gehoorsaam.
1837 – Sir George Napier word goewerneur van die Kaap
1877 – Sir Theophilus Shepstone kom in Pretoria aan
Sir Theophilus Shepstone kom in Pretoria aan om die ZAR in die naam van die Britse Kroon te annekseer.
1879 – Anglo-Zoeloe-oorlog: Slag van Isandlwana
Die Slag van Isandlwana was ’n militêre geveg wat plaasgevind het tydens die Anglo-Zoeloe-oorlog en wat gelei het tot die uitwissing van ’n Britse mag op 22 Januarie 1879. Die Britte was onder bevel van Frederick Augustus Thesiger, 2de Baron van Chelmsford. Die Britte het 52 offisiere, 727 wit soldate en 471 lede van die Native Contingent verloor.
1879 – Anglo-Zoeloe-oorlog: Slag van Rorke’s Drift
Die Slag van Rorke’s Drift het op 22 Januarie 1879 plaasgevind tydens die Anglo-Zoeloe-oorlog by Rorke’s Drift. ’n Zoeloemag van ongeveer 4000 man het die geboue wat as ’n tydelike hospitaal gedien het, aangeval. Dit was ’n Britse oorwinning met slegs 17 Britse soldate en oor die 800 Zoeloes wat gesneuwel het. Daar is 17 Victoriakruise toegeken aan die Britte.
1901 – Anglo-Boereoorlog
Generaal Ben Viljoen arresteer Meyer de Kock. Dit volg nadat De Kock probeer het om vredesbriefies onder die burgers te versprei, en hul ook wou toespreek met betrekking tot oorgee, en die wapen neerlê.
1902 – Anglo-Boereoorlog
Generaal Beyers en sy kommando van ongeveer 300 man beset die konsentrasiekamp op Pietersburg. Die kampsuperintendent en sy personeel word as krygsgevangenes geneem.
GEBOORTES
1909 – Dr. Pieter Johannes (Piet) Meyer, betrokke by Afrikanerkultuur († 1984)
Pieter Johannes Meyer is op Ladybrand gebore. Dr. Meyer het reeds van sy jeugjare af in die aktiewe kultuurlewe van die Afrikaner belang gestel, en hy was nog voor sy mondigwording een van die stigterslede van die FAK in 1929. Dit was veral in die jare dertig dat hy landwyd in die brandpunt van die Afrikaner se kultuurstryd gestaan het as stigterslid en eerste voorsitter van die Afrikaanse Nasionale Studentebond in 1933, vandag die ASB, hulpsekretaris van die FAK in 1936 en hoofsekretaris van 1937 tot 1943. In die hoedanigheid het hy die Eerste Ekonomiese Volkskongres in 1939 gereël en uitvoering aan die besluite gegee: Die stigting van die Ekonomiese Instituut, die Reddingsdaadbond, waarvan hy die aanvanklike hoofleier was, die oprigting van die Afrikaanse Handelsinstituut en van Federale Volksbeleggings. Hy het in 1939 ook die FAK se Volkskongres oor Onderwys en Opvoeding gereël en die Boere-Hulpfonds in 1940 van stapel laat loop. Daarna was hy onder meer voorsitter van Antikom en van die Maatskappy vir Europese Immigrasie en van 1959 tot 1967 lid van die FAK se uitvoerende Komitee. Onder sy leiding het die Randse Afrikaanse Universiteit tot stand gekom, en hy word voorsitter van die RAU se Universiteitsraad. In 1978 word hy die universiteit se tweede kanselier na die afsterwe van dr. N Diederichs. In Augustus 1959 word dr. Meyer voorsitter van die Beheerraad van die SAUK. Uit erkentlikheid vir sy jare lange toewyding en werk aan die Afrikaner se kultuurstrewe, ken die FAK in 1971 sy Erepenning vir Volksdiens aan dr. Meyer toe.
STERFTES
1936 – Jan Volschenk, skilder (* 20 Augustus 1853)
Jan Ernst Abraham Volschenk is in die distrik Riversdal gebore. Volschenk , die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat hom voltyds aan die skilderkuns gewy het, was as kunstenaar selfopgelei. Hy het nietemin in 1893 ’n studiereis na Europa van ses maande onderneem wat ’n duidelikie invloed op sy kuns gelaat het: sy kleurgebruik het hierna in sekere mate die invloed van die Impressionisme begin toon waar dit vroeër veel donkerder was. Sy skilderye van die Langeberge toon hom as ’n romantiese realis in dieselfde gees as Tinus de Jong, maar met ’n innige en liriese benadering van die skoonheid van die natuur. Daar is ook ’n sekere ooreenkoms te bespeur tussen sommige van Volschenk se werk en dié van die negentiende-eeuse Duitse kunstenaars van die tyd, byvoorbeeld Caspar David Friedrich. Volschenk kon veral die stilte en wydheid van die ongerepte natuur goed uitbeeld. Hy is op 22 Januarie 1936 op Riversdal oorlede.
1953 – Piet de Jager, regsgeleerde en rolprentvervaardiger (* 12 Januarie 2023)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.