PIET DE JAGER (1953-2023)

Piet de Jager was ’n Suid-Afrikaanse regsgeleerde wat bekendheid as rolprentvervaardiger en digter verwerf het.

Hy is op 22 Januarie 1953 op Bethal gebore en sy pa, Salmon, was ’n landdros. Vanweë sy pa se beroep het hulle baie rondgetrek, met die gevolg dat Piet in Kaapstad, Kimberley en Durban grootgeword het. Hy het aan die Hoërskool Andrew Rabie in Port Elizabeth gematrikuleer waarna hy aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat gaan studeer het. Hier het hy sy BA-graad in die regte verwerf, gevolg deur ’n MA-graad in Staarsfilosifie en ’n LLB-graad, laasgenoemde aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA).

In 1982 is hy as advokaat tot die Pretoria-balie toegelaat en in 1997 het hy hier seniorstatus (SC) verwerf. Tydens sy regsloopbaan was hy betrokke by verskeie opspraakwekkende hofsake, onder meer die Trojaanse Perd-saak in die 1980’s, die Harms-kommissie wat, onder voorsitterskap van Sy Edele Regter L.T.C. Harms beweerde ongerymdhede oor landsgrense heen ondersoek het, asook die Burgerlike Samewerkingsburo van die 1980’s. Hy het genl. Magnus Malan en oudpresident PW Botha in die hof verdedig. Hy was getroud met Luitha, wat hy op universiteit ontmoet het. Vier kinders is uit die huwelik gebore. Een van sy drie seuns is Sallas de Jager, wat as musikant deel van die Afrikaanse groep Klopjag was.

Saam met Sallas, wat na sy oupa Salmon de Jager vernoem is, het hy die rolprentmaatskappy Bosbok Ses-films gestig. Die naam was na aanleiding van die De Jager-gesin se straatadres in Bronkhorstspruit. Die eerste rolprent wat Bosbok Ses vervaardig het, was Roepman, wat op ’n spoorwegstasie afgespeel het. John-Henry Opperman, Rika Sennett en Deon Lotz was deel van die rolverdeling.

Verraaiers, met onder meer Gys de Villiers, Albert en Viljé Maritz, Deon Lotz, Carel Trichardt, Altus Theart en Stian Bam in die rolverdeling, het tydens die Tweede Vryheidsoorlog afgespeel. Die volgende jaar het twee rolprente gevolg, naamlik Musiek vir die agtergrond, met John-Henry Opperman in die rol van ’n sanger wat sy integriteit ter wille van roem en rykdom moes prysgee, en Stuur groete aan Mannetjies Roux, met Lizelle de Klerk, Steffie le Roux en Anna-Mart van der Merwe in die rolverdeling, wat geïnspireer is deur Laurika Rauch se trefferliedjie met dieselfde naam.

Een van Bosbok Ses se grootste suksesverhale was Dominee Tienie, gebaseer op Frank Opperman se suksesvolle eenmanvertoning Die klaagliedere van Dominee Tienie Benade. Hierdie rolprent, wat die lewensverhaal van ’n predikant vertel het, het bekende akteurs soos Henriëtta Greyffenberg, Annette Engelbrecht, Deon Lotz en Paul Eilers in die rolverdeling gehad. Die eerste Engelse rolprent wat Bosbok Ses vervaardig het, was Losing Molly, wat die ware verhaal van die anti-apartheidsaktivis Abraham Fischer se verval nadat sy vrou in ’n fratsongeluk oorlede is, vertel het.

Sy gedigte is gebundel in Ouhout, met illustrasies deur Zerk de Villiers. Hy het Albert Camus se boek La peste uit Frans na Afrikaans onder die titel Die pes vertaal. Dit vertel die verhaal van die stad Oran wat deur ’n pes vernietig word. Die werk is egter allegories van aard en verwys enersyds na die Nazi-besetting van Frankryk en andersyds na die menslike kondisie, waar die pes nooit verdwyn nie. Vir hierdie doel het hy spesiaal Frans aangeleer.

Hy is op 12 Januarie 2023 in die ouderdom van 69 jaar na ’n kort siekbed oorlede.

Daantjie Badenhorst