22 JUNIE

GEBEURE

1897 – Durban kry elektrisiteit

Durban het op 22 Junie 1897 elektrisiteit gekry, vyf jaar na Kaapstad en drie jaar voor Bloemfontein. Die ligte is daardie dag by die destydse stadsaal deur die vrou van die burgemeester, George Payne aangeskakel. Dit is vandag die hoofposkantoor in die stad. Die eerste kragaanleg is in 1886 op Markplein aangebring om elektrisiteit aan die stadsaal, Royal- en Central-hotel en die stasie te lewer. Krag aan die hawe is deur ’n kleiner opwekker verskaf wat in 1892 by die Punt aangebring was. Die latere kragaanleg by Congella moes op 3 Augustus 1937 ná 280 mm reën gesluit word, en normale dienste kon eers 30 uur later hervat word.

1904 – Chinese in Transvaal ingevoer

Na die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 het dit lank baie swak met die Transvaalse goudmynbedryf gegaan. Dit het verder beteken dat die Rand nie so vinnig gegroei en verengels het as wat Milner en sy Britse trawante gehoop het nie. Gevolglik is besluit om goedkoop Chinese mynarbeid in te voer, ten einde die tekort aan ongeskoolde arbeiders uit te wis. Alles is blitssnel en stuk-stil gereël. Op 22 Junie 1904 het die eerste Chinese aangekom. In Julie het hulle begin werk. Binne een jaar was hier 34 000, spoedig 54 000 en uiteindelik 62 000 Chinese aan die Rand saamgetrek. Dit het ’n ernstige probleem op talle terreine geskep. Die Afrikaner het hom verder bedreig gevoel. Volke-onrus het toegeneem. In April 1905 is Milner terug Engeland toe. Afrikaanse politieke partye het hulle beslag gekry, en een van die eerste suksesse wat behaal is, was die besluit om die Chinese sak en pak terug te stuur. Eers is alle verdere invoer beperk. Bantoemynwerkers is maklik gewerf – iets wat Milner beweer het nie moontlik was nie. Die Chinese is teen 1907 begin terugstuur, en in Maart 1910 was die laaste Chinese mynarbeider die land uit. Die Afrikaner-regering van Transvaal het die land van ’n ontsaglike toekomstige ramp gered.

1915 – Afrikanerrebellie

CR de Wet word tot ’n boete van £2 000 en ses jaar tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in die rebellie. Sy boete word binne vier maande betaal uit geld wat die koerant Het Volksblad deur middel van die Generaal de Wet-Halfkroonfonds ingesamel het.

1934 – Genootskap vir Afrikaanse Volkskunde in Johannesburg op die been gebring

 

GEBOORTES

1888 – Stephanus Philippus Barnard, hoogleraar en Administrateur van die Vrystaat († 15 Januarie 1951)

1901 – WJ du P Erlank (Eitemal), skrywer, digter, redenaar en vertaler († 24 Junie 1984)

Willem Jacobus du Plooy Erlank is op Wolmaransstad gebore en word na studie in Amsterdam (1936 tot 1938) onderwyser, dosent aan die Pretoriase Onderwyskollege en in 1950 tot 1966 hoogleraar in die Nederlandse Letterkunde op Stellenbosch en daarna kultuurattaché by die Suid-Afrikaanse Ambassade, Den Haag, Nederland. Hy publiseer onder die skuilnaam Eitemal twee bundels poësie (Weerklankies, 1928, en Phaeton, 1931) die eselsromannetjie Jaffie, ’n bundel stories en ’n drama. Hy het ook werke van Shakespeare, Hebbel en Goethe in Afrikaans vertaal. Eitemal is ’n gevierde digter, skrywer en onverskrokke kultuurleier. Reeds in sy tweede jaar as student aan die Universiteit van Pretoria in 1919 het hy ’n rol gespeel in die Afrikaanswording van die Universiteit in 1937, toe hy die Union Jack by Kollegetehuis afgeskeur het, waarna hy en sy maats dit verbrand het. Dit was ’n simboliese daad van losskeuring uit die Britse oriëntering, ’n bevrydingsdaad. Daaroor is hy ses weke uit die TUC in Pretoria geskors. Hierdie kultuurleier het hom reeds vroeg vir die Afrikaanse taal, kultuur en die erkenning van Afrikaneridentiteit beywer. Sy studente onthou hom as ’n uitstekende dosent met ’n lewende belangstelling in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde. Hy is een van die uitmuntendste redenaars wat Suid-Afrika nog opgelewer het, ’n stigterslid van die FAK en redaksielid van die eerste FAK-Volksangbundel.

1924 – Al Debbo, akteur, komediant en sanger († 13 Julie 2011)

Al Debbo was ’n bekende Afrikaanse akteur, sanger en komediant.

Hy het sy deurbraak as akteur in 𝘋𝘪𝘦 𝘬𝘢𝘴𝘬𝘦𝘯𝘢𝘥𝘦𝘴 𝘷𝘢𝘯 𝘋𝘰𝘬𝘵𝘦𝘳 𝘒𝘸𝘢𝘬 gemaak nadat hy ’n talentkompetisie gewen het. Daarna was hy en Frederik Burgers in rolprente soos 𝘒𝘰𝘮 𝘴𝘢𝘢𝘮 𝘷𝘢𝘯𝘢𝘢𝘯𝘥, 𝘏𝘪𝘦𝘳’𝘴 𝘰𝘯𝘴 𝘸𝘦𝘦𝘳, 𝘈𝘭𝘭𝘦𝘴 𝘴𝘢𝘭 𝘳𝘦𝘨𝘬𝘰𝘮, 𝘈𝘭𝘵𝘺𝘥 𝘪𝘯 𝘮𝘺 𝘥𝘳𝘰𝘮𝘦, 𝘋𝘪𝘴 𝘭𝘦𝘬𝘬𝘦𝘳 𝘰𝘮 𝘵𝘦 𝘭𝘦𝘸𝘦 en 𝘍𝘳𝘢𝘵𝘴𝘦 𝘪𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘷𝘭𝘰𝘰𝘵 te sien.

Sy latere rolprente waarin hy saam met ander komiese akteurs te sien was, was 𝘉𝘰𝘦𝘳𝘣𝘰𝘦𝘭 𝘥𝘦 𝘞𝘦𝘵, 𝘛𝘰𝘮, 𝘋𝘪𝘳𝘬 𝘦𝘯 𝘏𝘦𝘳𝘳𝘪𝘦, 𝘚𝘵𝘢𝘥𝘪𝘨 𝘰𝘰𝘳 𝘥𝘪𝘦 𝘬𝘭𝘪𝘱𝘱𝘦 en 𝘗𝘦𝘯𝘴 𝘦𝘯 𝘱𝘰𝘰𝘵𝘫𝘪𝘦𝘴. Sy laaste rolprent was 𝘒𝘯𝘪𝘦𝘥𝘪𝘦𝘱, waarin hy teenoor Don Leonard gespeel het.

Hy was net so gewild as sanger, en sy eerste groot treffer was “Hasie”, wat hy in die rolprent 𝘒𝘰𝘮 𝘴𝘢𝘢𝘮 𝘷𝘢𝘯𝘢𝘢𝘯𝘥 gesing het. Hy het in 1968 twee treffers op Springbok Radio se Top 20 gehad, naamlik “Baas Jack” en “Sonbrilletjies”, en in 1970 het hy die trefferslys met “Die tantes van Nantes” gehaal. Sy laaste opname as sanger was ’n nuwe weergawe van “Hasie” saam met Steve Hofmeyr.

Hy is op 13 Julie 2011 in die ouderdom van 87 jaar oorlede.

 

STERFTES

1967 – William Nicol, predikant, teoloog, opvoedkundige en goewerneur van die Transvaal (* 23 Maart 1887)

William Nicol is op Robertson gebore. ’n Man wat as prediker, teoloog, kultuurmens, opvoedkundige en staatsman ’n groot rol in die ontwikkeling van die Afrikaner gespeel het. In 1906 het hy sy BA-graad op Stellenbosch verwerf en daarna aan die Vrije Universiteit van Amsterdam en Princeton gestudeer. Vanaf 1913 tot 1938 was hy predikant van die NG Gemeente Johannesburg-Oos (Irene kerk) en daarna Pretoria-Oos. Hy was Moderator van die NG Sinode van Transvaal, 1934 tot 1948. In Johannesburg was hy ’n voorvegter vir die erkenning van die Afrikaanse taal en vir die stigting van Afrikaansmediumskole. As boeiende spreker en fyn kultuurmens het hy die Afrikaner in die stad geïnspireer en gehelp om sy minderwaardigheidsgevoel teenoor die Engelse stadskultuur te oorwin. In 1948 het hy Administrateur van Transvaal geword en vir tien jaar sy reuse werk veral ten opsigte van opvoeding en kultuur voortgesit. Hy is op 22 Junie 1967 oorlede.

2008 – Ryne de Beer, musikant (Die fluitende predikantsvrou) (* 9 Januarie 1932)

Ryne de Beer was ’n Suid-Afrikaanse musikant wat bekend was as die fluitende predikantsvrou. Sy kon bykans enige lied soos ‘n nagtegaal fluit en verskeie opnames is daarvan gemaak.

Ryne de la Bat is op 9 Januarie 1932 op Worcester gebore waar haar vader hoof van die Skool vir Dowes was. Dié skool en enkele NG gemeentes vir dowes is in later jare na hom genoem.

Ten spyte van die gesegde, “meisies wat fluit, word by die agterdeur uitgesmyt”, het sy al van jongs af begin fluit. Na matrikulasie is sy na Stellenbosch waar sy haar Hoër Onderwysdiploma behaal het. Sy moes verskeie aanmerkings teen haar verduur, en kon onthou hoe sy op ’n slag na ’n vertoning bedank is: “Die vrou het gesê sy wens sy kon soos ek fluit, dat sy al hard probeer het. Sy het selfs al haar tande uitgehaal om die hoë note by te kom.”

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/

Frikkie Wallis Facebook