23 FEBRUARIE

GEBEURE

1854 – Oranje-Vrystaat kom tot stand

Nadat sir Harry Smith die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier tot die Oranjerivier-Soewereiniteit verklaar het, sou die Republikeinse Trekkers met die steun van Andries Pretorius tevergeefs by Boomplaats in Augustus 1848 die gebied probeer herwin. Die Britse gesag is opnuut bevestig, maar dit is halsstarrig en onwillig deur die Boere aanvaar. Ook Mosjesj, die Basoeto-opperhoof, het in vyandskap met die gebied geleef en die Britse resident, maj. HD Warden, het dit moeilik gevind om die Basoeto’s se roofaanvalle op die blankes te bekamp. Hy het sake vir homself nog moeiliker gemaak deur hom voortdurend in te meng met die onderlinge twiste tussen die inboorlingkapteins en ander stamme in die gebied. Die prestige van die Britse gesag is ’n ernstige knou toegedien toe Warden deur die Basoeto’s in 1851 by Viervoet verslaan is, veral omdat hy nie die steun van die Boere in die stryd geniet het nie. Hierdie chaotiese toestand wat meer Britse troepe geverg het, maar geweier is, omdat die regering in Brittanje teen verdere uitbreiding in Suid-Afrika gekant was, het tesame met ernstige probleme aan die Kaapse oosgrens die Britse owerheid laat besluit dat dit voordeliger sou wees om die Soewereiniteit prys te gee. ’n Uitvloeisel hiervan was die sluiting van die Sandrivier-konvensie, waardeur Transvaal in 1852 sy onafhanklikheid verkry het. Die kommissarisse, Hogge en Owen, wat die onderhandelinge gevoer het, het ook sake in die Soewereiniteit ondersoek en eweneens aanbeveel dat die gebied prysgegee moet word indien nie meer troepe daarheen gestuur kan word nie. Sir Harry Smith het steeds wal gegooi vir die behoud van sy destydse gedagte, maar toe hy in die begin van 1852 deur sir George Cathcart vervang is, was die skrif aan die muur. Cathcart was daarvan oortuig dat die Britse gesag aan die gebied onttrek moet word, maar voordat dit geskied, wou hy die Basoeto’s oor al hul aanvalle op die gebied eers op hul plek sit. Die omgekeerde vind plaas, want sy sterk mag word in Desember 1852 gevoelig by Bereaberg verslaan, en hy word gedwing om ’n vredesaanbod te aanvaar. Hierop het die Britse Sekretaris van staat en kolonies besluit dat die gebied aan die oorspronklike inwoners teruggegee moet word en sou dit net ’n klein klompie lojale Boere en die invloedryke Engelse winkeliers en grondspekulante wees wat die Britse vlag oor die gebied wou sien wapper. Sir George Clerk is as spesiale kommissaris na Bloemfontein gestuur om die sopsegging deur te voer. In Augustus 1853 onderhandel hy met 95 gemanipuleerde afgevaardigdes wat weier om die Britse gesag prys te gee. Nuwe afgevaardigdes, 25 representante, word onder die republikeinsgesinde inwoners gekies wat in die ou Raadsaaltjie in St. Georgestraat met Clerk onderhandelinge voer om die gebied oor te neem. Tot op die laaste het die Engelssprekendes bly protesteer. Selfs dr. AJ Fraser en ds. Andrew Murray is vir die doel na Engeland gestuur. So hewig en luidrugtig was die teenstand dat die finale ondertekening van die Bloemfontein-konvensie in die Britse resident se woning, Green Lodge, digby die ou Raadsaaltjie moes plaasvind. Die ondertekening van die konvensie op 23 Februarie 1854 het die totstandkoming van die Oranje-Vrystaat beteken en kon JP Hoffman as waarnemende Staatspresident op die dag verklaar: “Landgenoten! Medeburgers! De dag van heden was een der zeldsame, indienniet de eenigste, in de wereldgeschiedenis, en voor ons de geboortedag onzer onafhanklijkheid. Wat wij op dezelven werden, verkregen wij ongevraagd, terwijl andere volken, voor dit dierbaar kleinood jaren strijk en stroomen bloeds offerden, ontvingen wij door slechts te nemen wat ons aangeboden werd.” Omdat die Afrikaners nog oor min politieke kennis en ervaring beskik het, is die taak van ’n grondwet aan die Nederlandse onderwyser, Jacobus Groenendaal, toevertrou. Groenendaal het as leidraad die Amerikaanse konstitusie van 1787 gebruik. Voorts het hy hom verlaat op die ampte en politieke instellings wat die Voortrekkers sedert 1836 self geskep het. Die Volksraad, wat deur die stemgeregtigde burgers aangewys is, was die vernaamste bestuursorgaan. Groenendaal het in sy konstitusie ook gesorg vir ’n amp wat in die geskiedenis van die Afrikaanse volk totaal nuut was. Dit was dié van staatspresident wat deur die burgers aangewys is, en wat aan die hoof van die uitvoerende gesag gestaan het. Hierdie amp het Groenendaal aan die Amerikaanse konstitusie ontleen. Vryheid, republiek, president – saam het hierdie woorde ’n trits gevorm wat die politieke denke van die Afrikaner diep beïnvloed het. Die regspraak is aan ’n regbank toevertrou. Die gemene reg in die Vrystaat was die Romeins-Hollandse reg. Onder hierdie konstitusie, wat min veranderings ondergaan het, is die Vrystaat van 1854 tot 1902 bestuur.

1857 – Die Vrystaatse vlag ontplooi en wapen onthul

Reeds op 23 Februarie 1854 het die Oranje-Vrystaat tot stand gekom, maar sy onafhanklikheid sou eers drie jaar later op ’n waardige wyse herdenk word. Dié dag het ’n besondere betekenis en inhoud verkry omdat die Vrystaatse vlag en die staatswapen – simbole van ’n vrye volk – toe plegtig in gebruik geneem is. Nadat ds. Andrew Murray in gebed voorgegaan het, het pres. Boshof ’n indrukwekkende rede gehou waarna die Vrystaatse Vierkleur vir die eerste keer onder 21 kanonskote gehys en ontvou is.

1857 – Die Vierkleur in Pretoria gehys

1866 – Vrystaatse volkslied eerste keer gesing

Die Vrystaatse volkslied, gekomponeer deur die Hollander Willem Nicolai, word vir die eerste keer gesing.

Heft, Burgers, ’t lied der vrijheid aan
En zingt ons eigen volksbestaan!
Van vreemde banden vrij,
Bekleedt ons klein gemenebest,
Op orde, wet en recht gevest,
Rang in der Statenrij,
Rang in der Statenrij.
Al heeft ons land een klein begin,
Wij gaan met moed de toekomst in,
Het oog op God gericht,
Die niet beschaamt wie op Hem bouwt,
Op Hem als een brucht vertrouwt,
Die voor geen stormen zwicht,
Die voor geen stormen zwicht.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag by Hart’s Hill (Terrace Hill), Natal

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Schoemanskop, Molteno; Arundel (Kuilfontein), Colesberg

1912 – Die Week, voorloper van Die Vaderland, verskyn die eerste keer

1942 – Johannes van der Walt gevang en verlam

Johannes van der Walt, lid van die Ossewa-Brandwag en wêreldbekende stoeier, wat ontsnap het van polisie-aanhouding nadat hy gearresteer is weens die besit van ’n ongelisensieerde rewolwer, word in Krugersdorp gevang en verlam wanneer ’n koeël sy ruggraat binnedring.

 

GEBOORTES

1907 – George Charles Gunn (Anton de Waal), komponis van Afrikaanse liedjies, medewerker van Danie Bosman en Nico Carstens († 21 Desember 1974)

Anton de Waal het bekend geword as komponis van ligte Afrikaanse liedjies, skrywer van liedtekste, medewerker van Danie Bosman en Nico Carstens, stigter van ’n musiekuitgewery en bevorderaar van Afrikaanse ligte musiek. Hy is op 21 Desember 1974 oorlede.

1906 – Dr. Josias Hendrik Otto du Plessis, administrateur van die Kaap († 28 April 1960)

 

STERFTES

1781 – Martin Melck, weldoener van die Lutherse Kerk in Suid-Afrika (* 20 Oktober 1723)

Hy was een van die merkwaardigste figure aan die Kaap in die agtiende eeu. Hoewel hy in 1746 as arm soldaat in diens van die VOC na die Kaap gekom het, was hy 30 jaar later een van die welvarendste en mees gerespekteerde burgers in die land. As gebore Duitser het hy sy liefde vir sy vaderland en die Lutherse godsdiens nooit vergeet nie. Ten spyte van die teenkanting van die VOC, het hy aan die Lutherse gemeenskap twee erwe en ’n gebou geskenk wat in 1780, nadat die Kompanjie sy toestemming tot die stigting van ’n Lutherse gemeente gegee het, die Lutherse kerk aan die Kaap geword het. Op die erwe is die pastorie – tans bekend as Martin Melck-huis – en ’n kosters woning opgerig. Hierdie geboue kompleks staan vandag nog in Strandstraat, Kaapstad, ’n waardige monument vir ’n buitengewone man. Hy is in Memel, Oos-Pruise, gebore en op 23 Februarie 1781 op Stellenbosch oorlede.

2010 – Madeleine van Biljon, skryfster en joernalis (* 14 Mei 1928)

2016 – Dr. Anton Prinsloo, Afrikaanse taalwetenskaplike en skrywer (* 22 Mei 1941)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/